(2016 03 06 2e) Die koninkryk van God is n saak van geregtigheid vrede en vreugde ♪

Vanaand verskuif die klem van die Koning van God se koninkryk na die burgers daarvan en wat vir ons belangrik is. In die eerste eeu was ‘n groot vraagstuk in die kerk of die mense vleis kon eet wat aan afgode geoffer is. Sommige gelowiges het gesê ja, ‘n mens kan. Vir ander was die heeltemal onaanvaarbaar. Hulle het daaroor baklei. Paulus sê dat ons ons nie met sulke onbelangrike goed moet besig hou nie. Positief moet dit vir die burgers van God se koninkryk gaan oor dit wat in ons verhouding met God en met mekaar belangrik is. Hy spel die belangrike goed vir ons uit: geregtigheid, vrede en vrede. Al drie hierdie goed word deur die Heilige Gees bewerk.

Ons kyk vanaand eers na die koninkryk en onbelangrike sake en daarna na die wesenlike sake.

Koninkryk en onbelangrike sake

Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie … (Rom 14:17a). Die term, koninkryk van God, het verskillende betekenisse in die Woord van die Here:

  • Paulus gebruik dit soms om te verwys na die voleinding van die tyd wat met Christus se wederkoms aanbreek (1 Tess 2:12; 2 Tess 1:5; 1 Kor 6:9v; 15:24; Gal 5:21).

  • In ons fokusvers vat dit die verlossing wat Christus bewerk het in sy volle betekenis saam. Daardie verlossing het sy volle betekenis gekry in die verhoging van Christus en die koms van die Heilige Gees.

‘n Mens kan vra: Wat het eet en drink te make met die koninkryk van God? Die antwoord is in die situasie waar die gemeente in Rome hulle bevind het, alles. Soos elke gemeente aan wie hy skryf, het die gemeente in Rome uit verskillende groepe gelowiges bestaan, bv dié van Joodse afkoms en die Nie-Jode; sommige het hulleself weer beskou as sterk en ander bestempel as swak.

In ons fokusvers en in die gedeelte wat ons saam gelees het, gaan dit juis om die groep wat hulleself as sterk beskou het en ander as swakkes uitgeskel het.

Destyds was die vleis wat jy by die slaghuis gekoop het vooraf aan afgode gewy. Die diere is nie, soos in die geval van halaal-kos van die Islams of dit wat kosher is vir die Jode slegs geslag op ‘n wyse wat aan die heidense gelowe se reinheidsvoorskrifte beantwoord het nie – dit was spesifiek aan die afgode gewy.

Vir party gelowiges het dit nie regtig saak gemaak of die vleis wat hulle eet aan afgode gewy was nie. Hulle het gesê daar is net een lewende God en alles behoort aan Hom. Paulus het dit, trouens, in soveel woorde vir die gemeente in Korinte uitgespel: Alles wat in ‘n slaghuis verkoop word, kan julle eet sonder om ter wille van die gewete navraag te doen, “want die aarde met alles wat daarop is, behoort aan die Here” (1 Kor 10:25, 26). ‘n Groep gelowiges in Rome het juis dit dan ook gedoen. Hulle het diegene wat nie kans gesien het om die vleis van afgodsoffers te eet nie, uitgeskel as swak – swak in die geloof.

Diegene wat as swak uitgeskel was, het die saak weer anders benader. Hulle kon nie dink dat ‘n gelowige kan waag om vleis te eet wat hulle weet aan afgode geoffer is nie. Dat hulle dit wél gedoen het, het hulle gegrief; hulle het ernstig aanstoot geneem (Rom 14:15).

Paulus praat as een van die sterk groep met diegene wat hulleself as sterk in die geloof beskou. Hy sê vir hulle as gelowige kan jy tog nie deur wat jy eet en drink die oorsaak daarvan wees dat ‘n medegelowige wat aanstoot neem, uiteindelik van Christus vervreem raak nie. Eis jy vir jou die Christelike vryheid op om vleis te eet, ten koste van ‘n ander se geloofsverhouding met Christus, handel jy nie in liefde nie. Nog erger, terwyl Christus sy lewe vir daardie een geoffer het, is jy nie eens bereid om jou vryheid om te eet wat jy wil, prys te gee nie (Rom 14:15). Hy sê: Alle kos is rein, maar dit is verkeerd om deur wat jy eet, aanstoot te gee (Rom 14:21). Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie … (Rom 14:17a).

In ons tyd is verskil ons oor ander sake as vleis eet, al dan nie. In die Gereformeerde Kerke verskil ons oor sake soos die gebruik van kelkies by die nagmaal, wat ons bereid is om in eredienste te sing en die vrou in die amp. In gemeentes baklei mense ook oor sake wat vir hulle van belang is, soos bv ‘n kerkgebou, ‘n pastorie, ‘n sekere gebruik in ‘n erediens … Wanneer ons van mekaar verskil, is die eerste vraag wat ons moet vra: Is dit regtig sake waaroor die koninkryk van God gaan? Oor sake wat nie regtig die koninkryk van God raak nie, moet ons na baklei nie.

Koninkryk en wesenlike sake

Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God (Lett: geregtigheid), vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee (Rom 14:17). Ons gaan agtereenvolgens na elk van hierdie wesenlike sake kyk.

Die koninkryk van God is ‘n saak van geregtigheid

Een en elkeen van ons is sondaars wat verdien dat God ons straf. Ons Here Jesus Christus het al ons sonde en skuld op Hom geneem en met sy lewe aan die kruis daarvoor geboet. Ons is danksy Hom en sy verdienste nou in ‘n herstelde verhouding met die Here ons God. Ons is deur sy bloed geregverdig.

Hierdie geregtigheid moet nou ook na vore kom in die wyse waarop ek in verhouding met ander mense leef. In die eerste plek geld dit my verhouding met medegelowiges. Dit strek egter ook veel wyer, om alle mense in te sluit. In elke situasie moet ek doen wat God wil, wat Hy van my verwag.

Ook in situasies wat my kwaad maak, situasies wat regtig die kwaliteit van my diens aan die Here toets, moet ek doen wat reg is, doen wat God van my verwag.

In die koninkryk van God is geregtigheid in beide my verhouding met God en my verhouding met medegelowiges en ander mense ‘n wesenlike saak. Daaroor moet ek bereid wees om standpunt in te neem; om te weier om enige toegewing hoegenaamd te maak.

Die koninkryk van God is ‘n saak van vrede

Soos geregtigheid tref vrede ook na twee kante:

Dit raak ons verhouding met God. So het die apostel dit reeds vroeër in hierdie brief uitgespel: God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Rom 5:1). Danksy die geregtigheid wat Christus vir ons verwerf het, leef ons in ‘n verhouding van harmonie met God. Met Christus wat ons Verlosser is, is God ons Vader.

Vrede raak ook my verhouding met medegelowiges. Deur sy Gees lei die Here ons sodat vrede en harmonie ons verhoudings kenmerk. Indien vrede my as burger van God se koninkryk kenmerk, sal ek nie bereid wees om ‘n medegelowige te grief nie. Ek sal na my medegelowige wat van my verskil kyk in die besef: Jesus Christus het hom of haar gekoop met sy kosbare bloed. Ek moet die liefde van Christus ook aan hom of haar betoon.

Die koninkryk van God is ‘n saak van vreugde

Die gelowiges in Rome het toegelaat dat ‘n medegelowige hom grief, of dat hy ‘n grief in sy broer of suster veroorsaak. Dit pas nie in ons onderlinge verhoudings nie. Eerder as gegriefdheid en moedswilligheid moet ons vreugde in ons hart omdra. Hierdie vreugde spruit daaruit dat ons in harmonie met God ons Vader leef. Vreugde moet daarom ook ons onderlinge verhoudings kenmerk.

Die rol van die Heilige Gees in die koninkryk van God

Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God (Lett: geregtigheid), vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee (Rom 14:17). Die vraag is: Gee die Heilige Gees net die vreugde, of gee Hy ook die ander twee hoofsake van die koninkryk van God? Ons sou kon sê beide vreugde of blydskap en vrede is vrugte van die Gees wat die gelowige behoort te dra (Gal 5:22). Hy skenk ook aan my die geloof waardeur God my regverdig verklaar en lei my om ook geregtigheid teenoor medegelowiges en ander mense uit te leef. In ons fokusgedeelte is die Heilige Gees die Een wat geregtigheid, vrede en vreugde bewerk.

Samevattend

Waar die koninkryk van God teenwoordig is, is daar geen plek vir onderlinge verdeeldheid en ‘n getwis oor wat ‘n mens eet of drink nie. Moenie jou eie oortuigings ten alle koste afdwing op ander waar dit nie regtig wesenlike sake raak nie.

Die Heilige Gees lei ons op die pad van geregtigheid, vrede en vreugde. Laat ons sy leiding in elk van hierdie wesenlike fasette van God se koninkryk volg.

Slot

Ons het ‘n paar Sondae by die Koning van God se koninkryk stilgestaan. Vanaand het die klem verskuif na die burgers van die koninkryk en wat vir ons belangrik is. In die eerste eeu was ‘n groot vraagstuk in die kerk of die mense vleis kon eet wat aan afgode geoffer is, of nie. Gelowiges het daaroor baklei. In ons tyd is daar ander strydpunte. Ons het die verantwoordelikheid om uit te maak of daardie goed regtig in die koninkryk van God belangrik is. Oor die onbelangrike goed moet ons mekaar tegemoetkom.

Positief moet dit vir die burgers van God se koninkryk gaan oor dit wat in ons verhouding met God en met mekaar belangrik is: geregtigheid, vrede en blydskap. Al drie hierdie goed word deur die Heilige Gees bewerk. Onder leiding van die Gees moet ons dit tereg laat kom in ons lewe en verhoudings.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: 

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *