(2016 02 28 2e) Ons is God se onderkonings Ps 8 v4tot9 ♪

Hoe leef ons as Christene in ‘n wêreld wat God nie wil erken en dien nie? Dit is belangrik dat ons op die regte plek begin. Ons moet erken: God regeer oor alles en almal. Een en elkeen moet voor sy heerskappy buig.

Ons het die afgelope tyd by verskillende fasette van God se koninkryk stilgestaan. Vanaand sien ons die mens beklee ‘n besondere plek in God se koninkryk. Hy het ons as onderkonings aangestel. Ons roeping is om oor die res van die Here se skepping te heers.

Ons heerskappy trek so maklik skeef. Daarom moet ons dit onder leiding van die Heilige Gees uitoefen. Natuurlik bly ons verantwoordelik aan die groot Koning: die Here van die heersers en die Koning van die konings. Ons is immers sy onderkonings. Ons gaan let op ons roeping as onderkonings en op ons verantwoordelikheid teenoor die Here, die groot Koning.

Ons roeping as onderkonings

Die begrip “onderkoning” impliseer ook ‘n “koning”. Die gebruik in die antieke wêreld was bv dat ‘n koning wat ‘n nuwe gebied verower het, iemand onder hom aangestel het om daardie gebied namens hom as onderkoning te regeer.

Staatsverdrae is tussen so ‘n koning en onderkoning gesluit. So ‘n staatsverdrag het sekere beloftes en eise bevat met maatreëls van beloning wanneer die verdrag nagekom is en straf wanneer dit oortree is.

Die Here God het die patroon van ‘n staatsverdrag gevolg met die sluiting van sy verbond met Abram in Gen 15. ‘n Simboliese handeling is tydens so ‘n verdrag uitgevoer: Diere is geslag, die karkasse verdeel en die twee partye het deur die paadjie tussen die twee dele van die karkasse geloop. In Gen 15 het die Here alleen tussen die twee dele van die karkasse deurgeloop. Daarmee het Hy onderneem om te sorg dat die verbond vir altyd bly staan.

Met die loop deur die twee dele van die karkasse is gesê dat die verdrag die koning en onderkoning aan mekaar verbind het soos wat die twee helftes van elke dier vooraf aan mekaar verbind is. Daarbenewens is simbolies gesê met die een wat die verdrag verbreek sal dit gaan soos met die diere: hulle sal doodgemaak word (vgl Jer 34:18 – 20).

Ons het reeds gesien dat God Drie-enig die groot Koning is wat oor alles en almal regeer. In al sy grootheid, majesteit en heerlikheid maak Hy iets besonders van die mens.

Hy neem ons nie bloot van ver af waar nie. Hy vorm ons reeds in die moederskoot (Jer 1:5; Ps 139:15, 16) en ken ons by die Naam (Jes 43:1). Hy ken ons as gelowiges in Christus. Hy ken ons as kinders van Hom. Hy het in ’n verhouding met ons getree; Hom aan ons verbind.

Die Here gee aan die mens ’n besondere posisie in sy skepping: U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon (Ps 8:6). Hy het die mens geskep vir ’n ereposisie. Hy is skaars minder as ’n hemelse wese; bykans ’n goddelike wese.

God roep ons om as sy beeld en verteenwoordiger op die aarde oor die res van sy hele skepping te heers. U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis (Ps 8:7 – 9). Waarom sê die digter so? Ons kan dit terugvoer na die eerste bladsye van die Bybel: Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip” (Gen 1:28). In hierdie vers is verskillende opdragte opgeneem. Die mens was vrugbaar en het daarom baie geword. Die mense het die hele aarde begin bewoon. Hy het ook geheers oor die hele skepping.

Ons teks dra die boodskap: die Here, die groot Koning, het die mens as sy onderkoning aangestel om oor sy skepping te heers.

Ons doen verantwoording aan die Here ons God, die groot Koning

In die verdrag tussen die koning en sy onderkoning is beloftes gemaak en eise gestel. Dit impliseer dat die onderkoning verantwoordbaar was aan die groot Koning. Die Here laat ons verantwoording doen oor die wyse waarop ons ons verantwoordelikheid nakom.

Ons roeping is en bly dat ons sy opdrag moet nakom om oor sy skepping te heers, dit te onderwerp. Ons moet dit ook doen soos Hy wil. Ons moet dit wat Hy tot ons beskikking stel, bestuur op die wyse waarop Hy wil hê ons dit doen.

Kom ons kyk na wat die mensdom met God se kultuurgebod gedoen het. Die mensdom het groot prestasies gelewer. Elke prestasie het egter ook sy donker kant. Kom ons kyk na enkele voorbeelde:

  • Die Here het gesê die mens moet vrugbaar wees en heers. Dit het gebeur. Toe maak die mens daarvan ‘n bevolkingsontploffing wat geleerdes laat waarsku: die huidige wêreldbevolking oorskry die aarde se drakrag. Ons sien reeds: miljoene mens beleef hongersnood.

  • Graan en diere is geneties gemanipuleer om groter weerstand teen peste en plae te kan bied, vinniger te groei en groter te word of groter opbrengste te lewer. Die newe-effekte op die mens van geneties gemanipuleerde graan en groter diere maak baie mense bekommerd.

  • Bestraling wat kankerselle uitwis, veroorsaak in ongekontroleerde omstandighede gewasse en misvorming van mense. Ons verleng lewe, terwyl menselewens goedkoop is.

  • Die internet is tot almal se beskikking. Tog is alle inligting nie betroubaar nie. Te midde van al die wonderlike kommunikasiemiddele, kommunikeer mense nie regtig met mekaar nie. Mense blaker persoonlike geheime uit oor die sosiale media en doen hulself skade aan. Skurke kontak niksvermoedende jongmense en verlei hulle tot hulle ondergang.

Waarom is dit só? Die mens het sommer in die paradys al die grense wat sy Skepper aan hom stel, probeer oorsteek. Hy het God se proefgebod oortree. Sy keuse was en bly daarvandaan ongehoorsaamheid en opstand teen God.

Al bied die sondeval en ons sondigheid wat as gevolg daarvan hoogty vier ‘n verklaring vir die donker kant van selfs die grootste menslike prestasies, bied dit nie verontskuldiging wanneer ons aan God verantwoording moet doen nie. Die groot koning het van sy onderkoning verwag om uitvoering aan sy eise te gee. Wanneer die onderkoning in gebreke gebly het om dit te doen, het strafmaatreëls in werking getree. Ons moet weet dat ons aan God rekenskap sal doen oor die wyse waarop ons oor sy skepping heers.

Dit was nie net in die tyd van die Ou Testament so nie. Jesus het die gelykenis van die muntstukke / talente vertel. Een slaaf het vyf muntstukke gekry. Hy het ‘n wins van nog vyf gemaak. Een het ‘n wins van ‘n verdere twee met sy twee muntstukke gemaak. Die een wat slegs een muntstuk gekry het, het dit begrawe. Jesus vertel: “Na ‘n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra (Matt 25:19). Uiteindelik moes die slaaf wat die enkele muntstuk begrawe het, in die buitenste duisternis daaroor verantwoording doen (Matt 25:30). Sy muntstuk is gevoeg by die tien van die eerste slaaf.

Die groot Koning, die Here ons God, het ons as onderkonings aangestel om oor sy skepping te heers. Uiteindelik sal ons ook daaroor aan Hom, die groot Koning, rekenskap gee.

Die Here het sy skepping tot stand gebring, sodat die ganse skepping Hom kan loof en eer. In die lied van die skepping was sy bedoeling dat die mens, die kroon van daardie skepping, die soetste klanke in die loflied van die skepping moes voortbring.

Ons moet aan almal rondom ons die Here se wonderlikheid verkondig. Hulle moet uit ons monde hoor dat die Here groot is; dat Hy oor sy ganse skepping regeer; dat Hy in Christus ons Vader is.

Al het die Here God ons as onderkonings aangestel, kan ons nie ons verantwoordelikheid uit eie krag nakom nie. Ons kan nie op die regte wyse oor God se skepping heers nie. Ons kan nie met ons mond en ons lewe God se lof verkondig nie.

Die Here het egter sy Heilige Gees, die Trooster wat Hy vir ons gestuur het, gegee om ons te lei om in woord en daad sy lof te verkondig. Laat ons ons dus vereenselwig met die slotwoord van Dawid in hierdie Psalm: Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde (Ps 8:10)!

Onder leiding van die Heilige Gees moet ons ons verantwoordelikheid as onderkonings nakom aan die Here, die groot Koning. Onder sy leiding moet ons God loof en eer.

AMEN

Bespreking 

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: 

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *