(2016 02 14 1e) Wie glo, moet oefen en groei Heb 5 v11 tot 6v3 ♪

Dit is atletiektyd. Voor die skool se kleurebyeenkoms het jy hard geoefen. Toe jy wen, kon jy interskole toe; streekbyeenkoms toe … Jy oefen al hoe harder. Oefen jy nie, sak jy uit.

Wie ouer word, kom agter sonder oefening word my spiere pap. Hoe ouer jy word, hoe langer vat dit jou om weer sterk en fiks te word.

‘n Baba het net melk nodig om te kan groei. Later is melk nie meer genoeg nie. Die baba neem stadigaan meer vaste kos en minder melk in. Sou hy sy lewe lank net melk bly drink, gaan hy ophou groei.

Die Hebreërs hoor in ons teks ook ons geloof het oefening nodig en moet groei. Sonder oefening word geloof al hoe swakker. Op die ou end verloor jy dit. Daarom positief: Wie glo, moet oefen; wie glo, moet groei. Ons tema vanoggend: Wie glo, moet oefen en groei. Ons benader ons teks vanuit twee vrae: (1) Is ek hoe ek behoort te wees? (2) Hoe stel wat verkeerd is reg?

 

Is ek hoe ek behoort te wees?

Hierdie preek op skrif beskryf op twee maniere die verskil tussen dit wat die Hebreërs behoort te wees en dit wat hulle in werklikheid is, te wete tov onderrig en dieet:

Onderrig

In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer. Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig (Heb 5:11, 12). Vir hierdie stelling dan daar een van twee redes wees: òf groot onkunde het by die lesers geheers, òf dat dit wat hulle gehoor en geleer het, so anders was as die goed wat hulle van kleins af geleer het, dat hulle die Christelike leer moeilik hul eie gemaak het.

Soms hoor ‘n mens iemand sê: “Ek het klaar gekatkiseer.” Daarmee gee hy te kenne: ek is nie meer bereid om enigiets verder te leer nie. Ek beskik nou oor al die kennis. In werklikheid bereik geen gelowige ooit ‘n punt waar jy niks meer het om te leer nie. Bewys daarvan is dat ‘n mens elke keer iets meer leer uit ‘n baie ou bekende Skrifgedeelte.

Soms steek iemand ook vas by ‘n standpunt wat hy al vroeër ingeneem het. Hy is nie bereid om ander moontlikhede aan die Skrif en belydenis te toets nie. Hy skram weg van gesprek oor enigiets wat sy ou opvattings bevraagteken. Ons Gereformeerde uitgangspunt is dat ons juis elke oortuiging moet toets aan die Woord van God – ons enigste maatstaf. Om tradisie ten alle koste te handhaaf en as jou enigste maatstaf te hanteer, is juis ongereformeerd.

Ons moet almal al hoe meer leer van die Woord, al hoe meer leer van God wat Hom in sy Woord aan ons bekend maak. Wanneer ‘n mens goed gevorder het met dit wat jy geleer het, bereik jy ‘n stadium waarop jy ook onderrig kan gee.

Is jy nog altyd aan die leer, of is jy, soos die Hebreërs, traag om te leer? Hierdie traagheid om te leer, is ‘n wesenlike probleem, so sê die Here by monde van sy profeet: My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp … (Hosea 4:6, 1953). Die Hebreërs moes weer van voor af die eenvoudigste waarhede leer wat aan hulle verkondig is. Hulle was nog leerlinge in die beginstadium van hulle ontwikkeling. Hulle het nog niks verder gevorder as die ABC van die geloof nie.

Dieet

Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog ‘n kind. Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei (Heb 5:13, 14). ‘n Baba drink net melk. As hy ‘n paar maande oud is, begin hy vaste kos inneem. Sou die kind net melk inneem, strem dit sy groei tot volwassenheid. Die prediker sê die Hebreërs was nog babas in die geloof. Hulle kon net melkkos inneem.

Die prediker van Hebreërs is nie die enigste wat hierdie probleem uitwys nie. So lees ons: Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, want julle is nog vleeslik (1953) (1 Kor 3:2,3). Wanneer ‘n mens vassteek by die basiese dinge, as die wêreld nog die grootste invloed op jou uitoefen, as jy nog op jouself en ander mense vertrou, is jy nog ‘n baba in die geloof.

Hoe gaan jy met die Bybel om? Lees jy net die ou bekende gedeeltes? Lees jy net een of ander dagboek? Of vat jy ‘n Bybelboek en worstel jy daarmee? Bid jy waar jy vassteek dat die Here deur sy Gees vir jou moet duidelik maak wat die moeilike gedeelte sê?

Eers wanneer jy regtig self biddend met die Woord en met die Here wat dit laat boekstaaf het, worstel, is jy besig om vaste kos in te neem. Het jy ‘n goeie dieet van vaste kos, raak jy daarin geoefen om te onderskei tussen goed en kwaad.

Is jy wat jy as gelowige behoort te wees betreffende onderrig en jou geestelike dieet? Kan jy regtig al, aan die hand van God se Woord, onderskei tussen reg en verkeerd? Ek en jy gaan sekerlik ontdek: ek skiet tekort. Ek is nog nie waar ek moet wees nie. Daarom die vraag:

 

Hoe stel ek wat verkeerd is reg?

Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap (1983) / volmaaktheid (1953) (Heb 6:1). Regstelling van wat verkeerd is, het ‘n negatiewe, sowel as ‘n positiewe kant:

Die negatiewe kant – wat ons nie moet doen nie:

Ons moenie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie. Ons moenie by die mees basiese dinge vassteek nie. Die prediker aan die Hebreërs sluit aan by die oprigting van ‘n gebou. Natuurlik moet ‘n gebou ‘n stewige fondament hê. Tog kom daar ‘n stadium waarop ‘n mens die fondament begin benut. Jy begin om die mure op daardie fondament te bou.

Die eerste dinge wat oor Christus verkondig word, is die fondament van my en jou geloofsgebou. Ons moenie heeltyd aan die fondament bly krap nie. My en jou geloofsgebou moet oprys; dit moet hoër word.

Die prediker spel die dinge uit wat deel is van die fondament van die Christelike geloof. Hy doen dit in drie pare begrippe:

Bekering en geloof – Hierdie stel van twee het te make met die mens. Dit is ek wat my bekeer en ek wat glo. Die gelowiges van die era van die Nuwe Testament moes hulle bekeer van die praktyke van die godsdienste wat hulle vroeër beoefen het. Die Jode moes erken: ons kan nie onsself red deur God se wet nougeset na te kom nie. Hulle moes almal leer: dis is net deur te glo in Jesus Christus en sy verdienste dat ‘n sondaar verlos word.

Leer van doop en handoplegging – Beide is seremonies. Die woord doop staan in die Grieks in die meervoud. Moontlik verwys dit na verskillende godsdienstige reinigings.

Die handoplegging simboliseer die ontvangs van verskillende geestelike gawes. In Hand 19:6 lê Paulus nuwe bekeerlinge die hande op en hulle ontvang die Heilige Gees, tesame met die gawe om God se boodskap te kan verkondig. Ook Timoteus ontvang dieselfde gawe wanneer die raad van ouderlinge hom die hande oplê (1 Tim 4:14).

Opstanding van die dooies en ewige oordeel – Hierdie paar gaan oor leerstellings. Die Fariseërs het geglo aan die opstanding. Die Sadduseërs het dit ontken. Die opstanding het ‘n totale nuwe inhoud gekry nadat Jesus uit die dood opgestaan het.

Die Jode het ook geglo dat daar ‘n ewige oordeel is. Ook dit het vir Christene ‘n ander klem gekry. Ons vrees nie meer die oordeel nie, omdat Christus ons straf volledig aan die kruis gedra het.

Hierdie eerste dinge aangaande Christus is die fondament van die geloof. Ons moet daar verby. Ons moet verder bou aan ons geestelike gebou:

Die positiewe kant: gaan voort na volmaaktheid

Ek en jy het nog nie ons finale bestemming bereik nie. Ons het nog nie aangekom nie. Solank as wat ons leef, is ons nog op pad. Ons moet bly oefen. Ons moet hard oefen. Ons moet bly groei.

Nooit mag ek en jy dink: ek het klaar gekatkiseer; ek weet nou genoeg; ek het nou my doel bereik. Ons kennis moet toeneem, sodat ons medegelowiges kan onderrig. Ons moet voortbou op die fondament. Wie in Christus glo, moet oefen. Ons moet groei tot volwassenheid. Wie glo, moet oefen en groei.

Slot

‘n Atleet moet oefen. Wie ouer word, moet bly oefen. Al drink ‘n baba melk, moet hy hoe langer hoe meer vaste kos inneem. Die beginsel van oefen en die regte dieet geld ook ons geloof. Wie glo, moet oefen; wie glo, moet die vaste kos van die geloof inneem. Doen ons dit, groei ons. In die woorde van die skrywer: Laat ons … na die volmaaktheid voortgaan.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg (2016 02 14) Wie glo moet oefen en groei Heb 5 v11 tot 6 v3

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *