(2016 01 31 2e) Burgers van die koninkryk Met die reg aan ons kant voor God Matt 5 v17tot20 ♪

Wat sou ’n mens bereid wees om te gee as jy kon weet: “Ek staan met die reg aan my kant voor God.” Is dit regtig moontlik?

Nie een van ons is volmaak nie. In die taal van die hof: Ek en jy staan in die beskuldigdebank en weet: “ek is skuldig.” As skuldiges verdien ek en jy dat die Here ons straf. As ons skuldig bevind en gevonnis word, sal dit reg en billik wees; geregtigheid sal geskied. Ons kan sê: met my eie geregtigheid gaan ek niks voor die groot Regter bereik nie. Ek kan glad nie met my eie geregtigheid spog nie. Ons gaan eers kortliks sien waarom dit nie gaan werk nie.

Hoe gaan ek en jy dit regkry om voor die groot Regter in die beskuldigdebank te staan en nie skuldig bevind en gevonnis te word nie? Die enigste moontlikheid daarvoor is dat ek geregtigheid as ‘n geskenk ontvang van iemand wat nie self skuldig is nie.

Ek staan voor God met my eie geregtigheid

Die Jode was oortuig dat hulle dit kon regkry. In die tyd van Jesus se aardse bediening het veral van die Fariseërs, ’n godsdienstige stroming met groot invloed, geglo hulle kon met hulle eie geregtigheid voor God staan. Hulle het hard probeer om baie presies volgens die Here se wil te leef. Om dit vir hulle hulle makliker te maak om dit te doen, het hulle ‘n klomp moets en moenies by die wet gevoeg.

Hulle het hul godsdienstige pligte doelgerig en baie presies verrig. Dit was ’n bonus as die ander mense hulle kon sien en hulle vir hul vroomheid op die skouer kon klop. Dit was egter nie hul groot gedagte nie. Hulle was daarvan oortuig dat, indien ’n mens regtig presies leef, dit jou daartoe in staat stel om met die reg aan jou kant voor God te gaan staan.

Die groot probleem hiermee is juis ons sonde en sondigheid. By verskillende geleenthede ontmasker Jesus juis die Fariseërs as skynheilig; as mense wat meen dat hulle reg voor God is, maar hulleself heeltemal misreken het.

Soos die Fariseërs moet ek en jy ook weet: selfs al sou ek net in een opsig tekort skiet, sou ek nie met die reg aan my kant voor God staan nie; sou ek geen geregtigheid van my eie hê nie.

As ek en jy met die reg aan ons kant voor God wil staan, moet ons ’n ander manier kry. Christus wys hierdie manier in sy bergpreek vir ons aan:

Ek staan voor God met geregtigheid wat ek as geskenk ontvang het

Juis Jesus se nuwe boodskap waardeur Hy teenoor die presiese Fariseërs standpunt inneem, kon mense laat dink dat Hy ’n streep deur die wet van God trek.

Jesus sê dit werk nie so nie: Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie (Matt 5:17a). Met die terme wet en die profete gebruik Jesus die Joodse benaming van groot dele van die Ou Testament. Eintlik verwys Hy daarmee na die hele Ou Testament. Hy het nie die Ou Testament ongeldig kom verklaar, dit kom afskaf, kom ontbind of buite werking stel nie. Hy het nie die Ou Testament tot niet kom maak nie.

Sommige mense probeer tog die Nuwe Testament van die Oue en dan spesifiek van die wet losmaak. Hulle meen dat Paulus geleer het dat die tyd vir die wet verby is. Hy sê egter duidelik dat die fout nie by die wet lê nie, maar by ons: Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is (Rom 7:16).

Die probleem lê nie by die Ou Testament nie; nie by die wet nie – dit is regtig Woord van die lewende God. Die fout lê juis by ons, sondaars. Hy spel dit in die Naam van die Here duidelik vir ons uit: Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees (Rom 8:3, 4).

Hoe vas staan die wet van die Here? Hoe geldig is die Ou Testament? In sy bergpreek sê Jesus: Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie (Matt 5:18, 1953-vert). Die jota is die kleinste Hebreeuse letter, terwyl die tittel waarskynlik verwys na die strepie wat Hebreeuse letters wat baie na mekaar lyk, tog van mekaar onderskei – soms net ’n strepie van die letter wat ’n aks langer is as dié van die ander letter.

Die aarde is vir ons simbool van dit wat vas en seker is. As Jesus sê dat nie eens die geringste deeltjie van God se wet tot niet sal gaan voordat die hemel en die aarde verbygaan nie. Hiermee sê Hy dat dit wat in die Ou Testament staan, ook in die Nuwe Testament van krag bly. Selfs die kleinste gedeelte van die Ou Testament bly van krag totdat dit sy doel bereik het.

Jesus sê ook in positief wat Hy wél met die wet kom maak het: Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul (Matt 5:17b, 1953-vert). ’n Prentjie wat ons in ons gedagtes teken, kan ons help om die betekenis hiervan te verstaan. Vroeër moes die mense water in vate op ’n skip laai om in die behoefte van die seevaarders aan water te voorsien. Tydens die vaart is die water van die een vat na die ander opgebruik. ’n Mens kan jou voorstel dat al die vate tydens so ’n vaart leeg kon raak. Al was daar ’n klomp vate op die skip, was dit van geen betekenis vir dorstige reisigers nie.

Hiermee sê Jesus dat die wet soos ’n leë vat is; dit kry eers sy betekenis wanneer hy inhoud kry, wanneer hy gevul word met dit wat hy volgens sy doel moet ontvang. Jesus se woorde: Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul (Matt 5:17b) het die betekenis dat dit wat nog aan die wet en profete ontbreek, deur Hom vervul is; Hy skenk aan die wet en die profete, ja, aan die hele Ou Testament, betekenis deur die waarheid van daardie gedeeltes van die Ou Testament af te beeld.

Hoe het Jesus die wet vir ons vervul?

  • Hy het, aan die een kant, sy lewe ten volle volgens die eise van die wet ingerig. Hy het die wet van God in letter en gees uitgeleef. Hy sou daarom met sy eie geregtigheid voor God kon staan.

  • Die sonde wat my en jou skuldig stel voor God, het Hy op Hom geneem. Hy het aan die kruis gesterf as een wat deur God vervloek is, om ons met die Here ons God te versoen.

As my en jou geregtigheid dan, volgens Jesus se preek, meer moet behels as dié van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes, dan vra dit dat ons met Jesus se geregtigheid voor Hom, die groot Regter, plek moet inneem. Hy skenk ons dan in genade wat Christus verdien het.

Tog strek Jesus se vervulling van die wet ook verder. By geleentheid het ’n Fariseër Hom probeer vastrek met die vraag na die grootste gebod in die wet. Jesus se antwoord was: `Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: `Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’ (Matt. 22:37 – 39). Daarmee haal Hy twee gedeeltes uit die Ou Testament (Deut. 6:5; Lev. 19:18) aan om te sê dat die ware betekenis van die wet is dat dit reël hoedat ons liefde vir God en ook vir mekaar daar moet uitsien.

Jesus het nie net in ons plek aan God se reg voldoen nie; Hy verkondig ook aan ons watter betekenis die wet van God nou vir ons wat in Christus glo, inhou. Dit beteken niks om ’n klomp voorskrifte nougeset na te kom nie. Nee, die liefde as vrug van die werk van die Heilige Gees in ons, moet ons hele lewe deursuur; ons liefde moet bepaal hoedat ons verhouding met die Here God daar uitsien, sowel as ons verhouding met mekaar.

Jesus verlang wel geregtigheid van die burgers van sy ryk, maar dan as die vrug van die verlossing wat deur die saligsprekinge uit vrye guns van God toegesê word aan “die armes van gees”, aan “diegene wat weet hoe afhanklik hulle van God is”. Ja, ons moet weet dat dit God is wat ware geregtigheid aan ons skenk, die geregtigheid van Christus, en wat ons deur sy Gees lei om in geregtigheid voor Hom te leef.

Slot

Ek het begin met die vraag: Wat sou ’n mens bereid wees om te gee as jy kon weet: “Ek staan met die reg aan my kant voor God.”

Nie een van ons is volmaak nie. In die taal van die hof: Ek en jy staan in die beskuldigdebank en weet: “ek is skuldig.” As skuldiges verdien ek en jy dat die Here ons straf. As ons skuldig bevind en gevonnis word, sal dit reg en billik wees; geregtigheid sal geskied. Ons kan sê: met my eie geregtigheid gaan ek niks voor die groot Regter bereik nie. Ek kan glad nie met my eie geregtigheid spog nie.

Hoe gaan ek en jy dit regkry om voor die groot Regter in die beskuldigdebank te staan en nie skuldig bevind en gevonnis te word nie? Die enigste moontlikheid daarvoor is dat ek geregtigheid as ‘n geskenk ontvang van iemand wat nie self skuldig is nie. Daardie iemand is Jesus Christus. Ek kan net voor God staan met die reg wat Christus vir my verwerf het en aan my skenk.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg:(2016 01 31) Burgers van die koninkryk – Met die reg aan ons kant voor God Matt 5 v17tot20

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *