(2016 01 17 2e) God roep ons antwoord Matt 22 v1tot14 ♪

Elkeen van ons ontvang van tyd tot tyd ‘n uitnodiging. Daarop moet ‘n mens reageer: jy neem dit aan of wys dit van die hand.

Jesus sluit in die gelykenis van die bruilof aan by hierdie eeue-oue gebruik. ‘n Koning het vir sy seun ‘n bruilofsfees beplan. Jesus lê onmiddellik ‘n verband tussen hierdie alledaagse skets en die koninkryk van die hemel: Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n koning wat vir sy seun ‘n bruilofsfees voorberei het (Matt 22:2).

Die Koning van ons teks is God self. Die bruilofsfees is dié van sy Seun waarvan ons in bv. Open 19 lees. God roep mense deur sy Woord. Op sy roeping moet ons reageer. Ons teks handel dus oor, aan die een kant, God wat ons roep en, aan die ander kant ons antwoord en verantwoordelikheid. Ons let op hierdie let op hierdie twee kante.

God roep ons

In die gelykenis is daar sprake van ‘n uitnodiging in drie fases:

Hier is eers ‘n algemene uitnodiging aan die vriende van die koning. Die mense wat uitgenooi word, is onwillig. Hulle wil nie kom nie (Matt 22:3).

Toe die fees gereedgemaak is, rig hy ‘n tweede, meer besondere uitnodiging. ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe’ (Matt 22:4). Hier hou hy die aanloklikheid van die feestafels aan die genooides voor.

Hier is meer as ‘n blote storie wat vertel word. Jesus vertel dit om ons te wys op die wonder dat God mense uitnooi na die bruilofsmaal van die Lam. Sy uitnodiging is in die eerste instansie gerig aan sy verbondsvolk, Israel. Die Here het verskeie profete na hulle toe gestuur. Hy het sy volk telkens daartoe opgeroep om Hom alleen getrou te dien. Elke keer wat hulle afgedwaal het, het Hy hulle by monde van sy profete tot daadwerklike bekering opgeroep.

Israel se reaksie word vir ons geteken in die eerste twee uitnodigings waarvan hier sprake is. Hulle het God se uitnodiging na die hemelse koninkryk sonder om twee keer te dink, van die hand gewys. Hulle wou niks daarmee te make hê nie.

Opvallend: die onverstaanbare en onaanvaarbare reaksie van God se volk wat in hierdie gelykenis geteken word, het nie die bruilofsfees van God se Seun gekanselleer nie. Die bruilofsfees gaan eenvoudig aan.

Die koning van ons teks rig ‘n derde uitnodiging: Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe (Matt 22:9). Dit is ‘n uitnodiging wat na alle mense toe uitgaan. Die volk van God is nou nie meer die genooides nie. Die nie-Jode is ook uitgenooi. Hierdie derde uitnodiging van ons teks is die uitnodiging wat ons voorouers op een of ander stadium gehoor het, die uitnodiging wat hulle aanvaar het.

Ons is daarom vandag die volk van God. Ons hoor ook God se uitnodiging na die bruilofsmaal van die Lam. Ons hoor hierdie uitnodiging elke keer wat ons die Woord oopmaak en lees. Elke keer wat God se Woord verkondig word, klink die uitnodiging van die Here van die heersers en die Koning van die konings in ons ore op.

n Mens moenie dink dat God se uitnodiging nie so direk is nie; dat ons hantering daarvan nie eintlik saak maak nie. Die teendeel is die geval. Die Here God verwag van elkeen van ons ‘n ondubbelsinnige reaksie op sy uitnodiging. Ons reaksie hou ook besliste gevolge vir ons in. Dit blyk ook uit ons teks. Daarmee is ons by:

Ons antwoord en verantwoordelikheid

Ons het reeds gesien Israel se reaksie word vir ons geteken in die eerste twee uitnodigings. Wie die roeping van die Here hoor in die lees en verkondiging van sy Woord, kan op een van drie maniere antwoord. Ons antwoord het in elke geval bepaalde konsekwensies. Kom ons kyk na die drie antwoorde wat ‘n mens volgens die gelykenis kan gee:

Die uitnodiging ignoreer

Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en ‘n ander een na sy werkplek toe gegaan (Matt 22:5). Ons weet uit ervaring wanneer ons mense na een of ander geleentheid toe uitnooi, dat baie nie op die uitnodiging antwoord nie. Hulle ignoreer dit eenvoudig, moontlik omdat die uitnodiging verdwyn onder al die sake wat hanteer word.

n Mens kan ook so op die roeping van die Here reageer. Jy tree op asof dit nie eintlik saak maak wat jy daarmee doen nie. Jy hoor die Woord. Dit spoel van jou af soos water van ‘n eend se rug.

So het Israel op die roeping van God deur sy Woord en die verkondiging daarvan gereageer. Hulle het daarvan kennis geneem en elkeen iets gevind wat ‘n groter prioriteit was as om positief te reageer op die Here se uitnodiging.

Selfs daarmee het Israel nie gestop nie: En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak (Matt 22:6). Daarmee dui ons Here Jesus Christus aan op watter wyse die verbondsvolk van die Here die profete wat Hy na hulle gestuur het, gemaak het. Hulle het die stemme van sy oproep tot bekering stilgemaak. Hulle het hulle selfs mishandel en doodgemaak.

Wat Jesus nie in hierdie gelykenis vertel nie, is dat God uiteindelik sy Seun gestuur het. Dit vertel Hy in die gelykenis van die ontroue landbouers. Sy volk het selfs die Seun van God geneem, Hom veroordeel en aan die kruis tereggestel.

Die Here ignoreer nie die reaksie van sy volk nie. Hy aanvaar nie maar net dat die Israeliete sy Seun doodgemaak het nie. Ons lees: Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek (Matt 22:7). Wie die roeping van die Here ignoreer, staan skuldig voor die Here. Dan help dit nie dat jy jou daarop beroem dat jy ‘n lidmaat van die kerk is; dat jy gedoop is nie. Nee, jou doop kan uiteindelik verswarende omstandigheid wees wat jou des te skuldiger voor die Here God stel.

Die onopregte aanvaarding van die roeping

Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar ‘n man wat nie bruilofsklere aanhet nie, en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie (Matt 22:11 – 12). ‘n Mens wat ‘n uitnodiging kry na ‘n bruilof, bad en trek mooi aan. Dit is bykans vanselfsprekend. Hierdie gas het homself egter soveel moeite ontsien. Hy is heel gemaklik soos wat hy is en hy gaan eenvoudig ook so na die bruilof toe.

Hier moet ons voor oë hou dat die koning van hierdie gelykenis die Here van die heersers, die Koning van die konings is wat sy Woord na ons stuur met, uiteindelik, die uitnodiging na die bruilof van die Lam.

Hoe hanteer ons hierdie uitnodiging. Wil ons eenvoudig aansit sonder om onsself daarvoor gereed te maak? Dink ons dat ‘n mens tog uit genade alleen gered word en uit genade alleen en daarom nie regtig saak maak hoe jy aansit nie? Ons teks is verdoemend oor hierdie slordige hantering van die uitnodiging en roeping van die Koning van die konings en die Here van die heersers.

Ons moet weet, die Here laat geen mens toe om slordig en eiewillig om te gaan met sy Woord, met die roeping wat deur sy Woord en Gees by ons afgelewer word nie. Die uiteinde daarvan is nie beter as in die geval van diegene wat die Woord en roeping geïgnoreer het: Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners (Matt 22:13).

Die opregte aanvaarding van die roeping

Die bruilof van ons teks gaan aan. Die bruilofsfees van die Lam gaan eenvoudig voort op die tyd wat die Here daarvoor bestem het. Toe God se verbondsvolk slordig met sy uitnodiging en roeping omgegaan het, het die Here die blye verlossingsboodskap aan al die mense van al die nasies laat verkondig. Hulle aanvaar die uitnodiging en sit eendag ook aan vir die bruilofsmaal van die Lam.

Wie die uitnodiging van die Koning van die konings ontvang, weet om nie slordig daarmee om te gaan nie. Die majesteit, heerlikheid en heiligheid van die Gasheer laat ons dit eenvoudig nie toe nie. Daar is maar een wyse om op die uitnodiging van die Here te reageer: ons moet dit met ‘n dankbare hart aanvaar en onsself goed vir die geleentheid voorberei.

Hoe doen ons dit? Mense wat God se Woord hoor, wat hoor dat Jesus Christus die enigste en volkome Verlosser van sondaars is, gryp dit met ‘n gelowige hart aan en vind daarin rus. Dit doen ons, omdat die Heilige Gees ons harte daartoe dring.

Ons voorbereiding gaan verder. In Open 19 word daar gepraat van die bruilof van die Lam. Daaruit blyk dit dat ons nie bloot gaste is wat die uitnodiging van die koning van die konings aanvaar het nie. Ons wat in Christus glo, is niks minder nie as die bruid van Christus; die bruid wat haarself met fyn klere tooi vir die bruilof van die Lam.

Daar word gesê hoedat ons ons gereedmaak vir die bruilof: Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges (Open 19:8b). Die Here verwag van sy kinders om ons lewe in te rig volgens die eise van sy Woord. Hy verwag van ons om te leef soos wat dit sy kinders betaam. Ons moet die prys wat Hy vir ons betaal het, waardig leef. Sy Seun het immers sy lewe afgelê sodat ons, sondaars, nou as sy kinders kan leef.

Slot

Elkeen van ons ontvang van tyd tot tyd ‘n uitnodiging. Daarop moet ‘n mens reageer: jy neem dit aan of wys dit van die hand.

Jesus sluit in die gelykenis van die bruilof aan by hierdie eeue-oue gebruik. ‘n Koning het vir sy seun ‘n bruilofsfees beplan. Die Koning van die konings nooi ons deur sy Woord uit na die bruilof van die Lam toe.

Hierdie uitnodiging verdien en verg al ons aandag. Daar is maar een wyse om daarmee om te gaan: aanvaar dit met ‘n hart vol dankbaarheid. Berei jou daarvoor voor en gaan sit aan as ‘n gas wat jou besoedelde sondeklere uitgetrek het en jou in berou en skuldbelydenis daaroor voor God verootmoedig het. Positief moet ek en jy onsself vir die bruilof van die Lam tooi deur regverdige dade te doen. Ek moet my lewe so inrig dat die Here daardeur vereer word.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2016 01 17) God roep ons antwoord Matt 22 v1tot14

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *