(2016 01 10 2e) Die evangelie en vryheid

Sommige gelowiges beskou die pad van die geloof as ’n baie breë pad – ’n snelweg. Hulle doen wat hulle wil, soos hulle wil en wanneer hulle wil. Niemand moet waag om hulle aan te spreek nie.

Teenoor hulle staan ander wat die indruk wek dat hulle die pad van die geloof beskou as ’n voetpad wat deur ’n mynveld kronkel. Sit jy jou voet verkeerd, is dit met jou verby. Hulle grootste kwelvraag is of enigiets wat hulle tog durf doen, nie ’n doodsonde sal blyk te wees nie. Hulle toets hulleself en ander voortdurend aan allerlei neergelegde reëls of wette.

Wanneer ’n mens met hierdie twee teenoorgestelde benaderings tot die geloof gekonfronteer word, kan die vraag ontstaan: wat is die korrekte standpunt? Die antwoord wat die Here in sy Woord gee, is: nie een van die twee nie. Teenoor die pad van losbandigheid, aan die een kant, en die pad van reël op reël, aan die ander kant, stel die Here in sy Woord die pad van God se genade; die pad van Christelike vryheid.

Ons teks handel nie regtig oor die eerste moontlikheid nie. Kyk ’n mens na die lewe van diegene vir wie die pad van die geloof ‘n snelweg is waarop jy kan doen net wat jy wil, kan jy met die beste wil ter wêreld nie onderskeid tref tussen die pad wat hulle bewandel en die breë pad waarteen Christus ons waarsku nie. Hy het uitdruklik gesê: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Matt 7:13, 14). Dit is dus ongetwyfeld ‘n onaanvaarbare lewensbenadering vir iemand wat bely dat hy duur gekoop is deur die bloed van Christus.

Ons fokus op die lewensbenaderings wat wél in ons teks aan die orde is, nl die lewe van reël op reël, waarna ons stilstaan by die Christengelowige op die pad van Christelike vryheid.

n Lewe van reël op reël vir die Christen

Die apostel Paulus verwyt hierdie gemeente: Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem (Gal 1:6). Wat gee aanleiding tot hierdie verwyt?

Hierdie gemeente het natuurlik nie besluit om die geloof in Christus vaarwel toe te roep nie. Inteendeel. Hulle wou juis hulle geloof des te beter uitleef. Daar het dan ook mense by hulle aangekom en hulle daarvan oortuig dat dit nie net hulle verantwoordelikheid is om dit te doen nie, maar dat hulle dit ook inderdaad kan doen.

Hierdie pad, so is hulle oortuig, is ’n seker pad; een waarvan ’n mens nie alte maklik links of regs kan afwyk nie. Al wat van ’n mens verwag word, is dat jy bepaalde reëls en voorskrifte sal nakom. Jy moet spesifiek besny word.

Natuurlik bied reël op reël vir ’n mens groot sekerheid. Dit wek immers die skyn by ons op dat ons ’n houvas het. Ons meen dat ons ’n houvas het op God se genade.

Die apostel Paulus is egter allermins oortuig daarvan dat dit die pad is wat die gelowiges in Galasië behoort te bewandel. Hy sê dat die Galasiërs, deur dit te doen, niks minder gedoen het nie, as om van God … afvallig [ te ] word. Hiermee waarsku die apostel Paulus hierdie gelowiges dat die pad van reël op reël nie een is wat langs die pad van genade en vryheid loop en wat daarom by dieselfde bestemming uitkom nie.

Nee, die pad van reël op reël loop haaks met die pad van genade en vryheid. Die Galasiërs meen dat hulle op die pad van ware godsdiens is, maar hulle het teruggekeer tot ’n lewe waarin hulle weer op hulself, ja, op hulle ou sondige natuur bou. Hulle is daarin ook niks beter as diegene wat heeltemal losbandig wil lewe nie.

So iemand self en sy vermoëns om wette en voorskrifte uit te voer, is sy god.

n Lewe vol voorskrifte, soos raak nie, smaak nie, roer nie aan nie, is niks minder nie as ’n mosie van wantroue in God se genade. Dit gaan daarvan uit dat God se genade jou nie heeltemal bevry nie; dat God se genade nie die sonde oorwin nie. Dit gaan daarvan uit dat, benewens die genade wat God ter wille van sy Seun aan jou betoon, jy ook nog ’n lewensnoodsaaklike bydrae tot jou verlossing te lewer het.

Hoor die waarskuwing in die Woord van die Here: Daar is geen ander evangelie nie. Wie die pad van reël op reël wil loop, is besig met ’n eiegeregtige en eiewillige godsdiens selfs gevaarliker as losbandigheid, omdat dit ’n skyn van vroomheid en erns het. Dit is die pad van die dood. Daar is maar een hoop op lewe: die evangelie; die enigste evangelie; die evangelie van Jesus Christus.

Gelowiges op die pad van Christelike vryheid

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. Aan God kom die heerlikheid toe tot in ewigheid! Amen (Gal 1:3 – 5). Só begin die apostel hierdie brief aan die gemeentes in Galasië.

Die woorde Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus is die woorde waarmee Paulus elk van sy briewe begin.

Met die woord genade aan die adres van die gemeente van Christus, verwys die apostel na die vrye gawe van vergifnis, versoening en verlossing wat God in Christus aan die gemeente skenk.

Uitvloeisel van hierdie genade van God is dat daar vrede tussen God en sy gemeente en uiteindelik tussen God en die hele skepping sal heers. Ook elke gelowige kan hierdie vrede in sy lewe ervaar.

Ons tref egter onmiddellik ’n verdere omskrywing aan van Jesus Christus: … wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring (Gal 1:4).

Sou dit van ons afhang, was daar geen hoop op verlossing nie. Trouens, daar sou geen begeerte tot verlossing gewees het nie! Die werklikheid waarin ons as gelowiges staan, is dat Christus Homself gegee het om ons met God te versoen. Hy het Homself gegee om ons uit ons goddeloosheid te verlos; om ons wat deurtrapte sondaars is wat in vyandskap met God leef en wil leef, met God te versoen; van ons kinders van God te maak; om vrede tussen ons en God te bewerk.

Christus het sy lewe gegee, ten spyte van die goddelose se tevredenheid met sy situasie; ten spyte van die sondaar se onwilligheid om sy ou weë vaarwel toe te roep.

Wie verlos is deur die bloed van Christus, is bevry van die bande van slawerny van die sonde. Ons is dus nie verlos en bevry om saam met die goddelose en ongelowige mense en soos hulle te leef nie. Nee, ons is deur die bloed van Christus losgeloop uit ons ou sondige bestaan. Ons is losgekoop om as kinders van die Here tot sy eer te leef – uit dankbaarheid vir wat Christus vir ons gedoen het.

Jesus Christus het naamlik alles gedoen wat gedoen moet word om ons, sondaars, met God te versoen. Ons is duur gekoop deur die kosbare bloed van ons Verlosser.

Daarin mag ons gelowig rus vind. Daaroor mag ons jubel; daaroor mag ons die Naam van die Here loof en prys.

Dit is omdat ons sondaars is wat uit genade alleen, deur die geloof alleen, op grond van Christus se verdienste alleen verlos is, dat ons aan die begin van ons eredienste telkens weer die woorde hoor: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, wat ons aanvul met die woorde: deur die werking van die Heilige Gees.

Elke keer as ons die groetseën aan die begin van ’n erediens hoor, moet ek en jy die werklikheid voor oë kry: ek mag nie op my eie geloofsprestasies roem as grond vir my verlossing nie; ek kan alleen maar in die Here God en in sy genade roem. Daarom mag ek ook nie die pad van reël op reël begin bewandel nie. Daarom leef ek as Christen in vryheid – in dié vryheid waarin Christus my gestel het.

Slot

Sommige gelowiges beskou die pad van die geloof as ’n baie breë pad – ’n snelweg. Hulle doen wat hulle wil, soos hulle wil en wanneer hulle wil. Niemand moet waag om hulle aan te spreek nie. Christus het hierdie benadering uitdruklik afgewys: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Matt 7:13, 14).

Teenoor hulle staan ander wat die indruk wek dat hulle die pad van die geloof beskou as ’n voetpad wat deur ’n mynveld kronkel. Sit jy jou voet verkeerd, is dit met jou verby. Hulle grootste kwelvraag is of enigiets wat hulle tog durf doen, nie ’n doodsonde sal blyk te wees nie. Hulle toets hulleself en ander voortdurend aan allerlei neergelegde reëls, of wette.

Die Here wys vir ons in sy Woord ‘n heeltemal ander pad aan: die pad van sy genade; dit is die pad van Christelike vryheid. Ons is deur die bloed van Christus vrygekoop om dankbaar as sy kinders tot eer van die Here God te leef. Laat ons dit onder leiding van die Heilige Gees doen.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2016 01 10) Die evangelie en vryheid Gal 1 v3tot6

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *