(2016 01 03 2e) Wanneer God die bomenslike verwag Gen 22 v 2 en 8 ♪

Ons is gewoond daaraan om te verwag dat God alles oorvloedig sal gee wat ons nodig het en van Hom vra. In die droogtetyd, vra ons reën. Wie siek is, bid om genesing. Wie se geliefde swaarkry, bid dat die Here verligting sal gee. Wie sy werk verloor, bid vir ‘n pos …

Die ander kant van die munt is: “Wat verwag die Here van my?” Aan die hand van ons teks is daar selfs ‘n moeiliker vraag: “Kan die Here God die bomenslike van my vra?” Toe die kerkvader Augustinus hiermee geworstel het, het hy gebid: “Here, gee vir my alles wat U vra en vra dan enigiets.” Die waarheid van hierdie bede kom ins ons teks aan die lig.

Die Here God het aan die egpaar, Abraham en Sarai, in hulle bejaardheid ‘n wonderseun, Isak, gegee. Toe kry Abraham die opdrag: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys” (Gen 22:2). God vra as offer die seun wat Hy gegee het.

God kan die bomenslike vra. Wat dan? Ons tema is daarom: Wanneer God die bomenslike verwag. Ons sien: (1) Die Here eis die bomenslike en (2) Die Here gee wat Hy vra.

Die Here eis die bomenslike

God het Abraham tot stilstand geruk met die opdrag: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys” (Gen 22:2). Die Here weet presies wat Hy van Abraham vra. Isak is Abraham se enigste seun. As hy geoffer word, is daar niemand anders deur wie die Here se belofte van ‘n groot nageslag bewaarheid kon word nie. Die Here sê ook dat Isak die seun is wat Abraham liefhet. Die Here vra van Abraham as offer dié een om wie elke ideaal verweef is; dié een om wie sy hele lewe draai.

Die Here neem Isak nie self nie. Hy gee aan Abraham opdrag om Isak te gaan offer. Asof dit nie erg genoeg is nie, gee die Here vir Abraham opdrag om te vertrek na ‘n berg wat Hy as offerplek sou aanwys. Abraham was drie dae lank met sy offerseun, Isak, op pad na die land Moria toe.

In daardie drie dae sou Abraham aan elke moontlike uitkoms gedink het. Telkens het hy besef: daar is nie uitkomkans nie. Hy het elke keer net weer besluit om die Here tog te gehoorsaam. Abraham het Isak in daardie drie dae weer en weer en weer geoffer. Ons moenie onder ‘n illusie verkeer oor wat die uitvoering van God se opdrag van Abraham geverg het nie.

Hoe erg was dit nie toe Isak langs die pad sy pa vra: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?” (Gen. 22:7). Hoe verskriklik moes Abraham voel toe hy antwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien” (Gen 22:8). Dit moes deur sy hart sny dat Isak sou weet dit is ‘n leuen en in angs sou sterf. Wat Abraham beleef het, was meer as wat vlees en bloed kan verdra.

‘n Mens wil bykans sê: gelukkig vra die Here nie van ons so ‘n groot prys nie – minstens nie as blyk van ons geloofsgehoorsaamheid nie. Die vraag is net: is jy reg as jy sê dat die Here nie dit van my vra nie?

  • Christus het vir sy dissipels – en vir jou en vir my – gesê: Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie (Matt 10:37). Die Here vra my en jou liefde. Ek moet Hom liefhê bo alles en almal – selfs bo dié een wat ek die liefste het.

  • En vir ons wat wil hoor dat die geloof ‘n vaart op die wieke van die wind is, sê Christus: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg (Luk 9:23). Die Here beloof nie voorspoed nie. Hy eis van my om my kruis elke dag op te neem. Hy vra myself as offer.

Ek en jy staan dus hier langs Abraham. Ons hoor ook hierdie opdrag van die Here. Hy eis, ongeag die prys, heelhartige geloofsgehoorsaamheid van sy kind.

Die Here eis soms, soos in Abraham se geval, die bomenslike van my. Wat moet ek dan doen? Die een saak wat vas staan, is: Dit is die Here se reg om van enigiemand te verwag net wat Hy wil!

Hy is die Here van die here en die Koning van die konings. Hy is God. Hy kan doen wat Hy wil, met wie Hy wil, wanneer Hy wil. Hy kan van enigiemand vra wat Hy wil. Job het dit verstaan. Hy het sommer aan die begin van sy moeilikheid gesê: Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here” (Job 1:21). Erken jy God as Here en Koning? Erken jy sy reg om enigiets van jou te vra? Is jou enigste doel om sy wil te soek en te doen – al druis dit direk in teen jou persoonlike voorkeure?

Die Here gee wat Hy vra

Die Here gee Abraham opdrag om die wonderkind, Isak, te offer. Hy eis: híérdie seun. Hy eis die seun wat Hy self aan die bejaarde egpaar, Abraham en Sara gegee het.

Anders as hy weet ons die Here het nie van Abraham verwag om regtig sy kind te offer nie. Hy het hierdie opdrag gegee om Abraham op die proef te stel (Gen 22:1). Abraham het God se toets geslaag toe hy die mes optel om Isak te slag (Gen 22:10 – 12). Dit sien ons later: Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer (Heb 11:17-18).

Tog offer Abraham uiteindelik nie vir Isak nie. Die Here het nie net Isak vir Abraham en Sarai gegee nie. Hy gee ook – in Isak se plek – die ram vir die offer (Gen 22:13). Die Here gee dubbeld.

Hoe kon Abraham so ver kom om die mes op te tel om Isak te slag? Die antwoord kry ons elders: Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het (Heb 11:19). Hierdie geloof van Abraham was nie ‘n sprong in die duister nie. Nee, God het immers nuwe lewe in Abraham en Sara se vergane liggame verwek en Isak vir hulle gegee. Hy kan ook lewe aan ‘n lyk gee.

Al het die Here as die Soewereine die reg daartoe, stel Hy nie eensydig eise nie. Van Hom lees ons: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16). Hy wat Abraham opdrag gegee het om sy enigste seun te offer, het Self sy enigste Seun gegee om ons, sondaars, met Hom te versoen.

Die offer van die Seun van God was tog anders. Anders as die seun Isak, was Jesus, die Seun van God, bewus dat Hy self offerande sou wees. Hy het immers vir sy dissipels gesê: Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê ( Joh 15:13). Kragtens die feit dat Christus sy lewe aan die kruis afgelê het, het God sy genadeverbond met Abraham gesluit. Dit is net danksy die offer wat Christus aan die kruis gebring het, dat ons wat vyande van God was, nou sy kinders is. Dit is net danksy Christus te verdienste dat ons as gemeente van die Here hier byeen kan wees.

Vir die heilige Seun van God was die offer wat Hy gebring het, allermins maklik. Aan die vooraand van sy vloekdood aan die kruis, het sy sweet soos bloeddruppels geword toe Hy in die tuin van Getsemané tot sy Vader gebid het. Hy was gehoorsaam tot die dood aan die kruis, sodat ons deur Hom met God versoen kon word.

Het die wonder daarvan dat jy kind van God is, al tot jou deurgedring? Het jy al regtig die wonder van die blye boodskap van verlossing besef? Het jy, soos ons bely, ‘n hartlike vreugde in God deur Christus? Dien jy as sy kind die Here met lus en liefde?

Ek en jy weet dat ons leef, danksy God se genade alleen. Ons weet dat ons hier as gelowiges byeen is om die Here te ontmoet, uit genade alleen. Ons weet selfs meer as dit – selfs meer as Abraham self wat in ons teks handel en praat.

Christus het immers uit die dood opgestaan. God kan lewe uit die dood opwek. Hy sal dit ook eendag met ons doen. Ons het soveel groter rede as Abraham om God onvoorwaardelik in die geloof te gehoorsaam.

Slot

Wanneer God selfs die bomenslike van ons verwag, moet ons erken: Hy het die reg daartoe,

  • Hy is immers ons Here en Koning.

  • Hy is die Een wat self sy enigste Seun gegee het.

  • Wat Hy ook al vra, het Hy aan ons gegee. Hy verhoor vir elkeen van ons Augustinus se gebed: “Here, gee vir my alles wat U vra en vra dan enigiets.”

Die Here God eis alles van ons vir wie Hy sy Seun gegee het. Tog doen Hy dit nie as ‘n despoot nie. Hy eis as ‘n Vader wat ons volmaak liefhet. Soos vir Abraham, gee die Here God ook vir my en vir jou alles wat Hy van ons eis. Ook vir ons gee Hy gawe op gawe.

Die geloof wat Hy van ons vra, bewerk Hy in ons harte deur sy Gees. Sy Gees gee ook aan ons die bereidheid om die Here se wil te soek en met ons hele hart te doen – al kos dit ons wat.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: http://gkvocoza.ipage.com/wp-content/uploads/2016/01/(2016%2001%2003)%20Wanneer%20God%20die%20bomenslike%20verwag%20Gen%2022%20v2%20en%208.pdf

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *