(2016 01 10 2e) Die evangelie en vryheid

Sommige gelowiges beskou die pad van die geloof as ’n baie breë pad – ’n snelweg. Hulle doen wat hulle wil, soos hulle wil en wanneer hulle wil. Niemand moet waag om hulle aan te spreek nie.

Teenoor hulle staan ander wat die indruk wek dat hulle die pad van die geloof beskou as ’n voetpad wat deur ’n mynveld kronkel. Sit jy jou voet verkeerd, is dit met jou verby. Hulle grootste kwelvraag is of enigiets wat hulle tog durf doen, nie ’n doodsonde sal blyk te wees nie. Hulle toets hulleself en ander voortdurend aan allerlei neergelegde reëls of wette.

Wanneer ’n mens met hierdie twee teenoorgestelde benaderings tot die geloof gekonfronteer word, kan die vraag ontstaan: wat is die korrekte standpunt? Die antwoord wat die Here in sy Woord gee, is: nie een van die twee nie. Teenoor die pad van losbandigheid, aan die een kant, en die pad van reël op reël, aan die ander kant, stel die Here in sy Woord die pad van God se genade; die pad van Christelike vryheid.

Ons teks handel nie regtig oor die eerste moontlikheid nie. Kyk ’n mens na die lewe van diegene vir wie die pad van die geloof ‘n snelweg is waarop jy kan doen net wat jy wil, kan jy met die beste wil ter wêreld nie onderskeid tref tussen die pad wat hulle bewandel en die breë pad waarteen Christus ons waarsku nie. Hy het uitdruklik gesê: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Matt 7:13, 14). Dit is dus ongetwyfeld ‘n onaanvaarbare lewensbenadering vir iemand wat bely dat hy duur gekoop is deur die bloed van Christus.

Ons fokus op die lewensbenaderings wat wél in ons teks aan die orde is, nl die lewe van reël op reël, waarna ons stilstaan by die Christengelowige op die pad van Christelike vryheid. Continue reading “(2016 01 10 2e) Die evangelie en vryheid”