(2015 11 22 1e) Feesvreugde vir God se volk Ester 8 v16tot17 ♪

Aan die tafel van ons Vader, word ons geloof gevoed en versterk. Herhaaldelik hoor ons: Die liggaam van Christus is gebreek … en sy bloed gestort … tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes. Ons sien, voel en proe dit ook wanneer ons die brood en wyn as tekens neem en dit eet en drink.

Wie hoor: al my sonde is ten volle vergewe – Jesus Christus het my sondeskuld volledig betaal – reageer met diep dankbaarheid vir die genade wat ons troue God en Vader in en deur sy Seun aan ons betoon. Dit vul jou hart met blydskap en vreugde. Daaroor kan ons feesvier.

Feesvreugde vir God se volk is juis in ons fokusgedeelte aan die orde. Die maaltyd van die Jode in ons teks is die agste maaltyd waarvan ons in die boek Ester lees. Opvallend is ‘n magstryd met hierdie etes vervleg. Ons vestig eers ons aandag op hierdie magstryd en daarna op die volk se reaksie op hierdie gebeure.

Die magstryd vervleg met maaltye

Twee hooffigure in die boek Ester is Mordegai en Haman. Mordegai het geweier om aan Haman, as ‘n hoë koninklike amptenaar, eer te bewys. Dit het Haman boos gemaak. Hy wou hom nie net op Mordegai wreek nie, maar sommer ook op die volk waarvan Mordegai ‘n lid was, die Jode. Hy het koning Ahasveros se toestemming daarvoor gekry en ‘n brief aan elke volk in sy eie skrif en taal laat skryf. Die proklamasie is met die koning se seël verseël en deur die hele koninkryk gestuur. Op een bepaalde dag moes al die Jode, klein en groot, vrou en kind, voor die voet uitgeroei word (Ester 3:13).

Twee prentjies word voorgehou: Die koning en Haman het toe gaan sit en drink, maar die stad self was in beroering (Ester 3:15e). Haman was, wat hom betref, die wenner in die magstryd. Toe koningin Ester hom nog twee dae agtereenvolgens vir ete saam met haar en die koning uitnooi, het hy by sy vrou en vriende gespog oor die eer wat Ester hom aangedoen het (Ester 5:12).

Na die eerste ete by Ester was Mordegai se weiering om hom te vereer, weereens vir Haman ‘n doring in die vlees (Ester 5:9). Op aanbeveling van sy vrou het hy ‘n 23m hoë galg laat bou. Hy sou die koning versoek om Mordegai daaraan op te hang (Ester 5:14).

‘n Toneel het hom tussen die twee etes afgespeel. Die koning kon die nag nie slaap nie en het die annale laat voorlees. Daar word toe gelees dat Mordegai twee poortwagte se sameswering om die koning om die lewe te bring, bekend gemaak het. Daarvoor is hy nie beloon nie.

Op daardie tydstip het Haman in die voorhof van die paleis aangekom. Die koning het hom gevra wat hy kon doen om iemand te vereer. Haman was seker hy was die gelukkige persoon. Hy het die prentjie geskilder waarin hy homself wou sien. Die koning se opdrag was: … maak soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai wat in die poort sit (Ester 6:11).

Later het die paleisbeamptes Haman gaan haal na die tweede onthaal wat Ester voorberei het. Aan tafel het koning Ahasveros gevra wat Ester begeer. Sy het niks vir haarself gevra nie – bloot dat die koning sou toelaat dat sy en haar volk sou kon bly leef (Ester 7:3). Toe die koning vra wie haar en haar volk se lewe bedreig, het sy Haman as die skuldige uitgewys.

Haman is onmiddellik, op bevel van die koning, aan dieselfde galg opgehang wat hy vir Mordegai laat bou het. Die groot vyand van die Joodse volk, die volk van God van die Ou Testament, was uitgeskakel. Hy was die groot verloorder in sy magstryd met Mordegai en die Joodse volk.

Wie was die wenner van die magstryd? Op die oog af het Mordegai gewen. Tog was daar meer op die spel in hierdie boek waarin die naam God, of Here nooit voorkom nie.

Ester is ‘n boek met groot vraagtekens: Wie was in volle beheer van alles wat gebeur het? Wie beskik regtig oor die mag om alles presies reg te laat verloop vir God se volk? Daar is net een antwoord: God almagtig; die God wat Hom in genade aan sy volk verbind het en deurentyd getrou teenoor hulle was. Tydens die magstryd wat tydens die maaltye in die boek Ester afgespeel het was God almagtig die enigste Maghebber.

Ook waar ons vanoggend aan die tafel van die Here aansit, moet ons weet: Dit is die tafel van die Koning van die konings. Hy is in volle beheer van wat met sy kerk en sy kind gebeur.

Die reaksie van God se volk

Een hardnekkige probleem moes nog opgelos word. Koning Ahasveros se proklamasie was onherroeplik. Die swaard van volksmoord het nog oor die Joodse volk bly hang. Die koning het vir Ester en Mordegai die reg gegee om self briewe in sy koninkryk uit te stuur wat met sy seël verseël is. Die briewe het gelui dat die koning aan al die Jode in alle stede die reg gee om bymekaar te kom en hulle te verdedig. Hulle kon diegene wat hulle bedreig, uitroei en op hulle besittings beslag lê. Hierdie proklamasie was op dieselfde dag geldig as die eerste (Ester 8:11 – 12).

Na Haman se proklamasie sou elke Jood kon sê: Ons toekoms is duister! Die brief van Mordegai en Ester het weer hoop gebring: daar was ‘n moontlikheid om die aanslag van die vyande van God se volk die hoof te bied. Daar was weer vir hulle lig.

Wanneer ‘n mens in die diepste duisternis van hopeloosheid en uitsigloosheid verkeer en dan meteens weer lig sien, breek daar ‘n vreugde en blydskap in jou hart oop wat alle verstaan daarvan te bowe gaan.

Dit het met God se volk gebeur. Hulle het tóé geweet dat die Here hulle, ten spyte van die ballingskap; ten spyte van die verskriklike proklamasie van Haman, nie vergeet het nie. Hulle het geweet: die Here is steeds aan ons getrou. Al was ons ook ontrou; Hy het getrou gebly.

Juis die trou van die Here aan hulle, sy verbondsvolk, het die volk ‘n eergevoel gegee. Hulle het besef: ons is steeds God se volk. Ons God bly steeds met ons besig. Hy hou ons in sy beskermende hand.

Die vreugde en blydskap het nie by blote gevoelens gebly nie – dit het ook tot uiting gekom deurdat God se volk dwarsdeur die ryk van koning Ahasveros fees gevier het. Hulle het fees gevier al het D-dag nog voorgelê. Hulle het fees gevier, omdat die Here aan hulle getrou gebly het; omdat Hy vir hulle sorg; omdat Hy hulle teen hulle vyand sou beskerm en bewaar.

Hoe is dit met ons gesteld? Hoeveel van die vreugde en blydskap ervaar ons as God se volk van die nuwe bedeling?

Ons het soveel groter rede tot vreugde en blydskap. Ons word immers nie teen die bedreiging van ‘n verganklike aardse koninkryk beskerm nie. Ons word beskerm teen die aanslae van die bose magte, ja, van die Satan self wat soos ‘n brullende leeu soek wie hy kan verslind. Ons Here Jesus Christus het die volle losprys vir ons sonde aan die kruis gedra. Daarom is en bly ons kinders van ons Hemelse Vader – tot in ewigheid toe. Juis dit herdenk ons vandag weer feestelik aan die tafel van ons hemelse Vader.

In Ester en Mordegai se tyd het God se volk ware vreugde en blydskap ervaar toe hulle hoor dat hulle hulself teen die aanslag kon verdedig. Dit het verdere gevolge gehad: Ook het baie ander mense uit die ander volksgroepe Jode geword omdat hulle skrikbevange was vir die Jode (Ester 8:17e).

Waar ons vanoggend aan die tafel van ons Vader kom aansit, moet mense ons vreugde raaksien oor die Here se trou aan ons; ons vreugde oor die volkome verlossing wat sy Seun vir ons kom bewerk het; ons vreugde daaroor dat ons kinders van God is. Ons vreugde moet ons medemens trek om die Here ons God saam met ons te dien.

Laat ons, onder leiding van die Heilige Gees, ons verbly oor die Here se trou; oor die volkome verlossing wat Hy in en deur sy Seun bewerk het. Laat ons erns maak met die uitvoering van ons roeping om die heerlike boodskap van verlossing ook in die wêreld waarin ons leef, in woord en daad uit te dra aan elkeen wat die Here oor ons pad bring.

Dan sal Hy ook van hulle by ons geledere voeg. Hy sal hulle die vreugde van kindskap saam met ons laat smaak.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 11 22) Feesvreugde vir God se volk Ester 8 v16tot17

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *