(2015 11 08 2e) Kies om God met eerbied en ontsag te dien Spr 23 v17tot18 ♪

By ‘n vurk in die pad, kan jy nie anders nie, jy moet net eenvoudig kies watter kant toe. Ons teks bring ons by ‘n vurk in ons lewenspad.

By die vurk staan twee persone: Die spreukedigter staan daar en wys: Loop hierdie pad. Dit is die bestemming waarby jy gaan uitkom as jy hierdie pad kies. Iemand anders wys die ander pad vir jou aan. Die digter noem hom sondaar. ‘n Sondaar is iemand wat misstappe begaan, iemand wat die regte standpunt mis, iemand wat nie regtig iets bereik nie. Die pad wat die sondaar aanwys, loop daarom uit op niks. Daar is geen toekoms of hoop op daardie pad nie.

By die vurk in die pad moet jy uitmaak: wat is vir my belangrik? Wat wil ek bereik? Ons tema: Kies om God met eerbied en ontsag te dien. Hierdie keuse behels dat ek die pad wat die sondaar aandui, vermy en dan positief kies om die Here met ontsag te dien.

Die pad van die sondaar en sy bestemming

Moenie afgunstig wees op sondaars nie (Spr 23:17a) letterlik: Laat jou hart nie sondaars beny nie / jou hart moenie op sondaars jaloers wees nie. Die hart in die Bybel is veel meer as die orgaan wat bloed pomp. Elders sê die digter: Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe (Spr 4:23). Die hart is die kern van my bestaan. Wie en wat ek is, wat ek doen en laat, word deur my hart bepaal. Miskien sou ons eerder praat van ons persoonlikheid of karakter.

Die digter sê ons hart moenie die sondaars beny nie. Sy bedoeling is dat wanneer ons sien hoe goed dit met sondaars gaan, ons nie afgunstig op hulle moet wees nie. Die Psalmdigter gebruik dieselfde Hebreeuse woord wat weergegee word met afguns wanneer hy sy rede daarvoor gee dat hy begin twyfel het of God vir Israel goed is: … ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien (Ps 73:3). Wanneer ‘n gelowige teenspoed ervaar en ‘n ongelowige buitengewone voorspoed, kan die gelowige vra: Wat help dit dat ek glo? Watter verskil maak dit dat ek glo? Hy kan die sondaar of goddelose mens sy voorspoed beny. Die Spreukedigter sê: Moenie met afguns in jou hart na die sondaar kyk nie.

Hierdie waarskuwing kan nodig wees wanneer ‘n gelowige getref word na die een ramp op die ander en sien dat die sondaar / goddelose met voorspoed oorstroom word. Tog leef ons in ook ‘n ander tyd as die Spreukedigter. Vandag kan die gelowige – ook die jongmens wat glo – sien ander mense het pragtige huise, luukse voertuie, skootrekenaars, tablette, slimfone, klere met die regmerkie op … Jy kan wens dat jy dit ook kan hê.

Die spreukedigter sê: “Moenie!” Kyk eers verder. Kyk dieper. Die mense wat hierdie benydenswaardige voorspoed ervaar, word deur die digter genoem: sondaars. Die Hebreeuse woord dui iemand aan wat misstappe begaan, iemand wat die regte standpunt mis, iemand wat nie regtig iets bereik nie.

Ons kan dus onsself afvra: Is dit wat vir my so begeerlik lyk, so aanloklik, so benydenswaardig, regtig die moeite werd? Waarop stuur dit af? Wat is die uiteinde daarvan?

Die Spreukedigter spel nie die uiteinde van die sondaar uit nie. Die Psalmdigter sê dat die voorspoed van die goddelose vir hom moeilik was totdat hy by die heiligdom ingegaan en gesien het wat die uiteinde van die goddelose is. Hy bid: U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei. In ‘n oogwink word hulle iets afgrysliks, gaan hulle te gronde, tref ‘n verskriklike einde hulle. Net soos ‘n droom wat ophou as ‘n mens wakker word, so verdwyn hulle, Here, as U ingryp (Ps 73:18 – 20). Hieruit, sowel as uit :18, kan ‘n mens sê: Die sondaars stuur af op niks. Daar is geen toekoms of hoop op die pad waarop hulle hulle bevind nie.

Daarom: die twee persone by die vurk in die pad wys nie albei in die rigting wat op die regte bestemming uitloop nie. Kyk weg van die een wat sondaar genoem word. Die Spreukedigter wys ‘n beter pad aan:

My keuse: dien die Here met eerbied en ontsag

Opvallend van ons fokusverse is dat die Hebreeuse teks net een werkwoord het, die werkwoord wat weergegee is met afgunstig wees / beny wat reeds aan die orde was, nl: Moenie afgunstig wees op sondaars nie / laat jou hart nie sondaars beny nie (Spr 23:17a). Iemand (Gispen) wys daarop dat ‘n mens in so ‘n sitasie een van twee dinge kan doen:

(1) jy kan aanvaar dat dieselfde werkwoord in beide gevalle van toepassing is. Dan sou die bedoeling wees dat ‘n mens afgunstig sou wees op diegene wat die Here vrees. Terwyl ons teksgedeelte nie praat van mense nie, maar bloot die vrees / ontsag vir die Here, sou die implikasie wees dat ons die vrees / ontsag vir die Here moet begeer, dit nastreef. Ons moet ons doelgerig daarvoor beywer om dit te bekom.

(2) die moontlikheid wat drie Afrikaanse vertalings volg, nl veronderstel ‘n werkwoord in die sin: wees in die vrees van die Here (1953) / behou jou ontsag vir die Here (NLV) / wees ywerig om die Here te dien (1983).

Die vrees van die Here is ‘n vreemde gedagte vir die mense in ons tyd. Ons ken nie regtig meer iets soos vrees vir ‘n persoon nie. ‘n Mens kan byna nie daaraan dink dat jy God moet vrees nie. Hy het ons immers lief en het in sy liefde sy enigste Seun gegee om ons sy eiendom te maak.

Die woord wat direk vertaal word met vrees, het die betekenis van eerbied / ontsag vir God. Selfs eerbied en ontsag is vreemd vir die mense van ons tyd.

  • Mense sal bv sê dat persone wat normaalweg met eerbied en ontsag bejeën word, soos die leiers van die land, hulleself met hulle onetiese gedrag diskwalifiseer om op eerbied en ontsag aanspraak te kan maak.

  • In die skool sien ons dat kinders huiswerk doen wanneer Skriflesing en gebed aan die orde is. Daaruit laat hulle blyk: vir die Here God het hulle nie eerbied en ontsag nie.

  • ‘n Mens hoor soms dat God in gebed aangespreek word asof Hy iemand soos ‘n vriend is met wie ‘n mens praat asof Hy jou gelyke is.

Die pad wat die Spreukedigter aandui, is dié van eerbied en ontsag vir God. Hy is die Almagtige, die Een wat alles in ‘n almagsdaad geskep het, Hy is alwetend, alwys, oral teenwoordig. Hy is heilig – ons, daarenteen, is sondaars. In sy teenwoordigheid staan ons nie fier en trots regop nie. Voor Hom buig ons in ootmoed. Ons erken Hom as dié meerdere by uitstek. Ons bejeën Hom met die grootste moontlike respek.

Die Spreukedigter gee die rede vir hierdie houding teenoor God aan: dan sal jy ‘n toekoms hê en jou hoop sal jou nie ontneem word nie (Spr 23:18). Hier word ‘n positiewe motivering vir die ontsag / eerbied vir die Here wat jy moet nastreef, gevolg deur ‘n negatiewe rede:

Positief: jy sal (altyd – NLV) ‘n toekoms hê (1983) / daar is ‘n toekoms (1953). Die woord wat met toekoms vertaal word beteken letterlik einde – dus: daar sal ‘n einde wees. Die spreukedigter wys die pad vir ons aan en sê: dit is ‘n pad met ‘n bestemming; dit is ‘n pad waarvan die einde goed is. As jy by die einde van die pad kom, sal jy weet: dit was die regte keuse, dit was die beste keuse, ook vir my. Hierdie keuse het vir my die beste gevolge.

Ons weet dat die keuse om God met eerbied en ontsag te dien, die keuse om Jesus Christus na te volg, dikwels van ons vra om, soos Hy gedoen het, ons kruis op te neem en Hom onder die massa van daardie kruis te volg. Soos Hy die pad van lyding gevolg het en uiteindelik verheerlik is, moet ons ook bereid wees om, in ontsag vir die Here God, self die pad van lyding en vervolging te loop.

Ons kan weet: wanneer ons kies om die Here met eerbied en ontsag te dien, wanneer ons kies om ons kruis op te neem en, onder leiding van die Heilige Gees, Jesus Christus na te volg, die einde vir ons goed sal wees: ons sal deel in sy heerlikheid.

Negatief: en jou hoop sal jou nie ontneem word nie (1983 en NLV) / sal nie verydel word nie (Spr 23:18b). Letterlik staan daar: jou hoop sal nie afgesny word nie. Die pad wat die sondaar loop, die pad wat die sondaar aanwys, loop uit op niks. Die pad wat die Speukedigter aanwys, is die pad van ware hoop.

Natuurlik beleef ons nie altyd die werklikheid van hoop nie. Op die pad van eerbied en ontsag vir die Here, gaan ons tye deur waar wanhoop dreig om ons te oorval. Die apostel skryf: Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding (Rom 8:24, 25). Die hoop van die gelowige sal volledig in die toekoms werklikheid word – as Christus weer kom, deel ons in sy heerlikheid.

Slot

By ‘n vurk in die pad, kan jy nie anders nie, jy moet net eenvoudig kies watter kant toe. Ons teks bring ons by ‘n vurk in ons lewenspad.

By die vurk staan twee persone: Die Spreukedigter staan daar en wys: Loop hierdie pad. Die bestemming waarby jy gaan uitkom as jy hierdie pad kies, is ‘n goeie einde, die pad van hoop. Iemand anders wys die ander pad vir jou aan. Die digter noem hom sondaar. Die pad wat die sondaar aanwys, loop uit op niks. Daar is geen toekoms of hoop op daardie pad nie.

Ons tema vanaand: Kies om God met eerbied en ontsag te dien. Hierdie keuse behels dat ek die leiding van die Heilige Gees volg en die pad wat die sondaar aandui, vermy en positief kies om die Here met ontsag te dien.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 11 08) Kies om God met eerbied en ontsag te dien Spreuke 23 v17tot18

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *