(2015 11 01 2e) Dr Rassie Smit Hervormingsdiens Kol 3 v 1tot 17 veral v 16tot17 ♪

Daar is niks soos die krag van musiek nie. Niemand van ons kan sê dat musiek geen uitwerking op ons het nie. Elke mens se brein is so “bedraad” dat ons musiek kan opvang en daardeur beïnvloed word. Musiek is ‘n onbeskryflike, geheimenisvolle krag wat ‘n wye verskeidenheid van invloede op die mens het. Ons almal weet watter invloed musiek het ons gemoed. As jy regtig moedeloos en “af” voel, is daar min dinge soos musiek om jou daaruit te kry – of jou wanhoop en neerslagtigheid aan te vuur…

As jy jou regtig wil verstom hieroor, gaan lees ‘n bietjie oor die manier waarop musiek deesdae ingespan word vir terapie. Die vakgebied van die musiekterapie is eenvoudig fassinerend: hiermee word mense nie net meer met allerlei emosionele en pastorale probleme gehelp nie, maar self pynverligting en verbetering van allerlei fisiologiese toestande word bewerk – gewoon deur musiek op ‘n effektiewe manier daarvoor te gebruik! (‘n Gebrek aan tyd verhoed ons om in meer besonderhede daarop in te gaan…)

Maar, dan is daar ook nog die krag van poësie. Net soos in die musiekterapie, gebruik opgeleide kundiges deesdae die krag van poësie in terapie – om mense se diepste binneste aan te raak en te beïnvloed. Kyk ‘n bietjie wat gebeur as jy iets lees wat in poëtiese taal geskryf is – waar die woorde ‘n hele wêreld van dieper betekenis het – en hoe dit jou hier diep binne-in jou raak. Veral as jy kan identifiseer met die tema van dit waaroor die gedig gaan.

As jy self al ‘n kind aan die dood moes afstaan en jy lees “O, die pyn gedagte, my kind is dood” van Totius, dan tref dit hier diep binne-in jou. En selfs al het jy nog nie self so-iets beleef waaroor in ‘n gedig geskryf word nie, raak dit jou op ‘n manier wat net anders is as wanneer jy “gewone” woorde lees of hoor.

En presies dit is wat die Hervormers – ons voorgangers in ons kerkgeskiedenis – ook besef het: die lied van die kerk is ‘n onbeskryflike krag wat die Here daargestel het. Want in die lied is altwee hierdie onbeskryflike kragte saamgesmelt in ‘n geheimenisvolle eenheid: woord en melodie, poësie en musiek.

Veral Hervormers soos Luther en Calvyn het baie tyd en energie daaraan spandeer om die kerkmusiek, die kerklied, weer iets te maak wat vir almal in die kerk van onbeskryflike waarde kan wees. Elkeen het op sy eie manier daartoe bygedra om die kerklied en kerkmusiek weer die plek te gee waarvoor die Here dit bedoel het: nie as ‘n eksklusiewe uitdrukking van verhewe en verbluffende kuns wat net vir die paar geskoolde musici toeganklik was nie, maar iets wat inklusief daar is vir almal – as ‘n toegangspoort vir die uitdrukking en belewing van hulle geloof.

  1. Om te sing is ‘n opdrag

Waar het hulle hieraan gekom?

Wat het die Hervormers beweeg om die kerklied weer sy Godgegewe plek in die kerk en in die geloofslewe van “gewone lidmate” te gee?

Die Woord van God. Sola scriptura

Hulle het die Woord van God bestudeer. Van voor af. Met ‘n oop gemoed en met die bedoeling om regtig te hoor wat die Here self sê – nie wat die Pous en kerkleiers van hulle tyd sê nie.

En wat hulle raakgelees het, is die groot hoeveelheid kere wat die Here sy kerk oproep en opdag gee om te sing. Die kerk van die Here is ‘n singende kerk: soms met lofliedere, soms met klaagliedere, soms met vrae en noodroepe, soms met onderwysing, soms met dankbaarheid oor verlossing en uitkoms wat Hy gegee het. Die lied leef in die harte en op die lippe van elkeen wat in geloof aan God drie-enig verbind is.

Veral die boek Psalms (in die Bybel) getuig oorweldigend hiervan. Daarom het die Hervormers geen steen onaangeroer gelaat om die kerklied – in besonder die Psalms – weer sy regmatige plek in die harte en lewe van gelowiges te laat kry nie.

  1. Om te sing is (ook) om te leer en te onderrig

Nog ‘n belangrike teksgedeelte wat die Hervormers hieroor gelees en bestudeer het, was ons teksgedeelte van vanaand: Kolossense 3 – veral verse 16-17. Hierdie gedeelte kom sterk ooreen met Efesiërs 3: 18-20. Trouens, daar is verskeie tematiese ooreenkomste tussen hierdie 2 briewe.

Nou wat lees ons hier?

Paulus is besig om hier te verduidelik hoe my en jou lewe prakties moet lyk. Hy volg merendeels hierdie patroon in sy briewe: eers iets van ‘n teologiese uiteensetting, en dan raak hy prakties: wat moet ek en jy nou doen?

Paulus beklemtoon hier:

  • Die boodskap van Christus (die evangelie met die volheid van alles wat dit behels) moet in elke gelowige se diepste binneste bly. Dit moet ons harte vol maak

  • Ons moet dit in mekaar versterk en laat groei deur mekaar hierin te leer en te onderrig. Saam met mekaar moet ons gedurig met die Here se Woord besig bly – want die Wood het orals en altyd die evangelie van Jesus Christus as kern

  • Maar die evangelie moet nie net in ons binneste bly nie: dit moet uit! Ons moet dit leef: wat ons ookal sê of doen, moet vanuit hierdie binneste kom – ‘n binneste wat vol is van die heerlike waarheid van Jesus Christus wat ons uit genade red uit ons sondige bestaan en die gevolge daarvan. Ook hierin moet ons mekaar bystaan en oproep.

Maar kyk nou wat staan in die middel van hierdie oproepe:

Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.

En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom (Kol 3:16, 17).

Dis nie sonder rede nie. En dis ‘n duidelike opdrag:

  • Julle moet sing!

  • Gebruik die krag van musiek en poësie!

  • Laat dit die waarheid van die evangelie in julle harte vasmaak!

  • Laat dit julle lewens verander: wat julle ookal sê of doen!

Nou is dit wel interessant dat Paulus hier van 3 tipes liedere melding maak:

  • Psalms

  • Lofgesange

  • Ander geestelike liedere

Party probeer hiervan ‘n strydpunt maak om die voorkeur vir sekere tipes kerkliedere te probeer regverdig. Ander wil juis uitwys dat daar ‘n ruim verskeidenheid liedere is waaruit die kerk kan gebruik.

Oor die algemeen is daar konsensus onder teoloë dat hier bedoel word:

  • Psalms: Ou Testamentiese bundel psalms – dikwels met instrumentale begeleiding gesing; dikwels lofliedere

  • Lofgesange: ander tipes lofliedere tot eer van God gesing (enkele voorbeelde en fragmente daarvan kry ons bv. in die Nuwe Testament)

  • Ander geestelike liedere: enige ander tipes liedere, veral liedere wat nuut ontstaan het binne die kerk

Hoe dit ook al sy, die oproep is duidelik:

  • Sing!

  • Sing tot eer van die Here en tot opbou van mekaar!

  • Laat dit julle geloof versterk.

  • Laat dit geloofs-insigte by julle vaslê.

  • Laat dit só in julle harte vasgroei, dat julle lewe al hoe meer nuut word – in woord en in daad

In die parallele gedeelte waar Paulus ook hieroor skryf vir die Efesiërs, koppel hy die sing van kerkliedere met die vervulling van die Heilige Gees (Ef. 5:18-19):

Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul,

en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here…

Laat die Gees julle vervul. Laat die Gees julle harte vol maak.

En sing daaroor: teenoor mekaar en teenoor die Here.

Sing tot sy lof!

Sing tot opbou van mekaar en die wêreld rondom julle!

  1. Ons dank die Here vir ons kerkliedere

Daar is niks soos die krag van musiek en poësie om die diepste hart van die mens aan te raak nie. Wanneer jy dit hoor, roer dit jou. Wanneer jy dit self sing, kom daar iets onbeskryfliks binne-in jou aan die gang. Die Gees – wat reeds in jou hart woon – laat die krag van die woord en melodie só in jou werk, dat die sondige mens al hoe minder kan weerstand bied.

En dit is dan wat jy meer en meer gevorm word soos die Here jou wil hê.

En wat jy meer en meer as sy dissipel begin leef – in woord en daad.

Oor eeue heen, het die Here verskeie teoloë en digters aan sy kerk gegee. Hoogs begaafde gelowiges wat hulle gawes gewillig en met vreugde beskikbaar gestel het aan hulle medegelowiges. In navolging van die wekroep van die Hervormers, is kosbare werk gedoen om die kerklied weer toeganklik en bruikbaar te maak vir elke lidmaat.

Hier by ons in Suid-Afrika het ons die kosbare skat van die Afrikaanse berymings van die Psalms en enkele Skrifberymings wat prof JD du Toit (Totius) in die vorige eeu voltooi het. Dit leef in ons harte en resoneer só met ons diepste binneste, dat ons diep geraak word telkens wanneer ons dit sing.

Aan die begin van hierdie eeu, is die Afrikaanse gereformeerde kerke geseën met die uitsonderlike gawe van die omdigtings wat prof TT Cloete van die Psalms gemaak het. En nou het ons die dubbele gawe van 2 stelle Psalms wat ons kan gebruik om die Here te loof en mekaar met te onderrig en te leer en op te roep.

Prof TT Cloete is onlangs, op 29 Julie 2015, oorlede. In sy omdigtings van die Psalms het hy vir ons ‘n wonderlike skat nagelaat. Ons dank die Here vir die gawe wat Hy in oom Theuns (soos ek hom as skoolkind as ons buurman daar in Potchefstroom leer ken het) aan die kerk gegee het. Mag sy opregte nederigheid voor die Here, sy onwrikbare geloof in Jesus Christus en sy fyn aanvoeling vir die diep waarhede van die geloof, altyd in en deur die omdigtings tot ons spreek. En mag ons diepste binneste telkens aangeraak en beweeg word.

Maar: om maar net oor die krag van die kerklied te praat, is nie genoeg nie. Ons is hier om die genade van ons hemelse Vader hierin te vier – maar ook om dit opnuut weer te beleef.

Daarom gaan ons nou weer saam sing – onder mekaar, juis om mekaar weer op te roep, te leer en te onderrig. Juis ook om weer saam met mekaar die eer van die Here uit te juig. Juis om weer die boodskap van Christus in sy volle rykdom in ons te kan laat bly (soos Paulus aan die Kolossense skryf).

  1. Kom ons sing saam!

By vanmiddag se werkswinkel het Griffel op die volgende gefokus:

  • Verootmoediging

  • Ons kan nie anders as om ons te verootmoedig – wanneer ons saam met mekaar weer besef wat dit beteken om uit genade verlos te wees in en deur Jesus Christus nie. Dit maak ons verleë en nederig. Dit versterk ons geloof en laat ‘n diep dankbaarheid in ons groei.

  • Bekering

  • Ons kan nie anders as om onsself en mekaar gedurigdeur op te roep tot daaglikse bekering nie: uit dankbaarheid vir die genade in Christus, kan ek nie meer nie en wil ek nie langer meer iets leef wat stry teen my een-wees met Hom nie. Ek besef watter dieptes van swaarkry Hy beleef het – en my dankbaarheid ken geen perke nie! Ek wil dit met my hele lewe wys!

  • Afhanklikheid

  • Ek word weer gekonfronteer met myself – my diepste hart: vol met die ou mens en my eie sondige begeertes en dryfvere. En ek besef: ek kan nie uit myself nie. Ek kan nie self glo nie. Ek kan my nie self bekeer nie. Dit is alles onuitspreeklike gawes wat die Here (saam met die verlossing en nuwe lewe) aan my gee – uit genade! En daarom gryp ek vas aan my Koning en Verlosser, Jesus Christus. Ek besef dat ek totaal en al van Hom afhanklik is. En dit gee my troos. Maar ook ‘n nuwe verbintenis: om Hom te volg – om sy dissipel te wees, al gebeur wat ookal in my lewe. Om orals en altyd my dankbare een-wees met Hom te leef.

Slot

Hoe heerlik om so saam te kan sing:

  • oor die boodskap van die verlossing in Jesus Christus – in sy volle rykdom soos ons dit in sy Woord lees

  • oor die geloof wat ons vasbind aan ons enigste Koning en Verlosser Jesus Christus

  • oor die genade wat die Here ons sondaars gee

Aan Hom alleen al die lof en eer!

Amen.

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 11 01) Dr Rassie Smit Hervormingsondag Kol 3 v 1tot 17 veral v16tot17

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *