(2015 11 01 1e) Ootmoedig voor die groot God wat alles weet en oral is Ps 139 veral v23tot24 ♪

Kerkgroeibediening … waarom?

Ons het beleef dat drie gemeentes in 1995 twee geword het met 1307 doop- en belydende lidmate (Almanak 1996). Intussen het ons in 2014 ‘n enkele gemeente met 557 doop- en belydende lidmate geword. Hierdie inkrimping is ‘n landswye tendens. ‘n Gonswoord van ons tyd sê hierdie tendens is nie volhoubaar nie.

Die tendens moet omgekeer word. Kerkinkrimping moet stop. Kerkgroei moet ontwikkel. Vandaar dat kerkgroeibediening tans in die GKSA op agenda is. Vandaar hierdie teks. Vandaar vanmiddag se program. Vandaar vanaand se gesamentlike Hervormingsdiens.

Kerkgroeibediening vra dat ons in drie rigtings fokus: op God, op die mense van die tyd waarin ons leef en elkeen van ons veral ook op onsself. Ons tema is: Ootmoedig voor die groot God wat alles weet en oral is. Saam met Dawid fokus ons vanoggend in drie rigtings.

Fokus op God

Natuurlik verg kerkgroeibediening dat ons op God fokus. Ons is immers sy kerk. Ons is duur gekoop deur die bloed van sy Seun. Ons moet heel eerste op Hom fokus. Dawid doen dit ook in Ps 139. God weet alles, ken elkeen van ons en ook ons gesindheid. Hoor hoe spel die man na God se hart, dit uit: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom (Ps. 139:1, 2). In hierdie Psalm fokus Dawid eers op hierdie God voor wie ek en jy leef; voor hierdie God aan wie die kerk behoort. Kyk hoe bring Dawid as digter God se grootheid in fokus. Behalwe dat God alles weet, teken Dawid Hom as die Een wat:

  • onbegryplik vir ’n mens is (:6)

  • oral teenwoordig is (:7 – 12)

  • ons almal altyd in sy hand hou (:5); van voor ons geboorte af, in die skoot van ons moeder, tot eendag, na ons dood, in die skoot van die aarde (:13 – 16). Duidelik blyk: God is groot. Hy is vol majesteit en heerlikheid.

Het jy al só voor God in sy grootheid, heerlikheid en majesteit gestaan? As jy dit doen, sal jy weet, jy kan nie anders nie, as om, saam met Dawid, sy lof te besing: Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê (Ps. 139:17 – 18).

Fokus op sondige mense

Dawid sien die onmoontlike gebeur: daar is jou werklik mense wat weier om te aanvaar dat die Here die enigste God is; hulle leef in opstand teen Hom.

Hy bid daarom: As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God! Gaan weg van my af, julle moordenaars! Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree. Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie ‘n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? Ek haat hulle met ‘n uiterste haat, want hulle is ook my vyande (Ps. 139:19 – 22). Hierdie bede is so verskriklik dat party mense sê dit pas nie in hierdie Psalm nie.

Hulle is egter nie reg nie. Hulle kyk die vorige verse mis. Daarin besing die digter God se lof.

Die kind van ons hemelse Vader wat werklik onder die indruk van God se grootheid, majesteit en heerlikheid kom en besef daar is mense wat teen hierdie wonderlike God in opstand is, reageer onwillekeurig saam met Dawid: Dit kan mos nie! Dit mag nie! Wie onder die indruk van God se grootheid kom, kan geen opstand teen God duld nie.

En tog … In die Nuwe Testament kom die boodskap van die Ou Testament helder na vore: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie (Joh 3:16 – 18). Die groot wonder is dat God in genade kyk na die wêreld wat teen Hom in opstand is. In genade het Hy sy Seun vir ons gegee. Christus het sy lewe vir ons aan die kruis afgelê. Die doel van sy koms na die aarde, met sy lewenspad en uiteindelik sy dood is om sondaars met God te versoen. Danksy sy verdienste is ons wat vyande van God was, nou sy kinders.

Het jy al regtig met volle begrip gekyk na die wonder van God se liefde soos in en deur Jesus Christus aan sondaars wat die dood verdien, bewys? Het jy al die werklikheid van sy liefde besef vir jou, sondaar?

Fokus op jouself

Wie eg onder die indruk van God se grootheid, majesteit en heerlikheid kom, kan nie volstaan met ongeduld oor die goddelose se lewe van opstand teen Here nie. Ook ek as gelowige, ek wat bely dat ek verlos is op grond van die verdienste van die Here Jesus Christus, ek in wie die Gees van God woon, kan nie anders nie as om my eie nietigheid en sondigheid te besef wanneer ek besef dat ek voor die lewende God staan.

Dan verhef ek my nie. Dan verootmoedig ek my. Dawid het nie geskroom om dit te doen nie. Selfs toe die profeet, Natan, hom in die Naam van die Here beskuldig het: Jy is die man! het hy nie die vermetele profeet op sy plek gesit nie. Hy het gebuig voor die heilige God wat die profeet na hom toe gestuur het.

Geen mens mag jou teenoor die Woord van die Here en teenoor die Here van die Woord verhef nie. Wanneer Hy my en jou aanspreek, moet ons luister. Ek en jy moet ootmoedig voor die heilige God buig.

Uiteindelik besef elke gelowige: ek kan myself so maklik om die bos lei, myself so maklik beskou as beter as die volgende gelowige. Daarom is ek, selfs in my selfondersoek totaal afhanklik van God. Deur sy Gees lei die Here my in hierdie selfondersoek.

In hierdie besef bid ek saam met Dawid: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad (Ps. 139:23 – 24)! Die Psalmdigter vra dat die Here sy hart sal deurgrond. Ons lees: Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe (Spreuke 4:23). In hierdie woorde bid ons dat die Here God sal deurdring tot in die kern van ons bestaan, dat Hy die wese van ons sondigheid in die kollig sal plaas, dat Hy selfs die geringste skyn van bedrog in ons lewe sal blootlê.

Wanneer die heilige God in antwoord op hierdie gebed elke sonde en stukkie skuld blootlê, gebeur die wonder. Hy maak al daardie sonde en skuld weer toe. Hy bedek dit met die bloed van sy Seun. Ons Here Jesus Christus het immers aan die vloekhout op Golgota gesterf om ons uit ons sonde te verlos.

Is jy op die regte pad? Die pad van skuldbelydenis en verootmoediging is die regte pad.

  • Ons troos begin immers daar waar ons besef ons sonde en ellende is so groot dat ons verdien om hel toe te gaan.

  • Daarvandaan: Christus het al daardie sonde en elkeen daarvan met sy bloed bedek; ons uit ons sonde verlos.

  • Laastens: hoedat ek die Here vir daardie verlossing dankbaar moet wees

Die Psalmdigter sluit by die derde deel van ons troos aan as hy bid: Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad (Ps. 139:23 – 24)! Wat die Psalmdigter biddend in ons fokusvers vra, is dat die Here die weg van smart, die weg van sonde en opstand sal blootlê; dat Hy hom, positief, op die ewige weg sal lei.

Juis om ons in staat te stel om het die Here die Heilige Gees uitgestort. Deur sy Gees lei die Here ons op die ewige weg, lei Hy ons om as verloste sondaars dankbaar voor Hom te leef. Dawid se gebed in Ps. 139 is dieselfde as dié van Efraim: Bring my terug na U toe dat ek my kan bekeer, want U is die Here my God (Jer. 31:18). Ook ons bely dat die ware bekering uit twee dele bestaan: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens (HK vr. 88). Deur sy Gees lei Hy ons om hoe langer hoe meer die sonde te haat en daarvan weg te vlug; om hoe langer hoe meer ooreenkomstig die wil van die Here te lewe.

Nooit mag ek en jy die Gees bedroef of weerstaan nie. Soos Hy lei, moet ek en jy met die hele hart volg. So bring ons as sy kinders aan die God wat groot en vol majesteit en heerlikheid is, ons God en hemelse Vader toe die eer wat Hom toekom.

Slot

Landwyd ervaar ons kerkinkrimping. Dit moet stop. Kerkgroei moet ontwikkel. Vandaar dat kerkgroeibediening tans in die GKSA op agenda is. Vandaar ons teks. Vandaar vanmiddag se program. Vandaar vanaand se gesamentlike Hervormingsdiens.

Kerkgroeibediening vra dat ons in drie rigtings fokus: op God, op die mense van die tyd waarin ons leef en elkeen van ons ook op onsself. Ons tema is: Ootmoedig voor die groot God wat alles weet en oral is.

Mag die Here ons deur sy Gees afkeer van die pad van sonde en dood en ons voetstappe rig op die regte pad, die pad van ootmoed en van dankbare gehoorsaamheid.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 11 01) Ootmoedig voor die groot God wat alles weet en oral is Ps 139 veral v23tot24

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *