(2015 10 25 2e) Vier die Nagmaal van die Here 1 Kor 11 v20 en 24e ♪

Ons vier die nagmaal van die Here. Watter prentjie sien jy wanneer jy dit hoor?

n Mens sou dit kon sien as iets soos ’n formele militêre dinee vir offisiere. Daar is ’n behoorlike uitnodiging uitgestuur, waarop elkeen behoorlik geantwoord het. Slegs offisiere is welkom – en dan ook net in uitstapdrag uigedos. Dit is ’n formele dinee. Elke gas moet die streng reëls nougeset nakom. Met hierdie prentjie as beeld vir die nagmaal, eet en drink jy ’n oordeel oor jouself as jy nie die reëls nakom nie.

Een van die Skrifverklaarders (Pop) sê die apostel Paulus hou ’n heel ander prentjie voor. Hy sê: kyk net hoe kinders heerlik saamspeel. Almal en elkeen is verdiep in die spel. Hulle geniet hul spel – en dan eet hulle so al spelende ook saam.

Die gemeentelike samekoms waartydens die nagmaal ook gevier word, moet so lyk – kinders van ’n groot huisgesin wat saam speel en dan ook saam eet.

Wat elkeen in die samekoms doen, dra die stempel van hierdie spel: die lofsang; gebede; onderrig; die instellingswoorde; uitdeel; die maaltyd; die begroeting en die afskeid-tot-volgende-keer. Elkeen doen op sy eie wyse mee aan die een spel. Ons tema vanaand: Vier die nagmaal van die Here. Ons let op: (1) nagmaal ontaard en (2) nagmaal in die styl van Christus

Nagmaal ontaard

Soos ’n skeidsregter hard op sy fluitjie blaas as spelers die spelreëls oortree, blaas die apostel by wyse van spreke ook fluitjie oor wat in Korinte gebeur. Hy sê: die samekomste van die gemeente doen eerder kwaad as goed.

Soos wat dit gaan as kinders speel, het daar op ’n tydstip ’n bakleiery uitgebreek. Hierdie groepie het teen daardie groepie gestaan. Die apostel sê dat dit nie so ’n slegte ding is nie, want hierdie baklei in die gemeente bepaal uiteindelik wie die toets deurstaan (1 Kor 11:18, 19).

Wat sleg is, is dat die nagevolge van hierdie baklei toe ook etenstafel – nagmaalstafel – toe is.

Klaarblyklik is die nagmaal in daardie tyd nie met bloot ’n stukkie brood en ’n sluk wyn afgehandel nie. Dit was spesifiek in Korinte eerder ’n gewone ete – ’n voorloper van wat die gemeenskaplike maaltyd genoem is. In ons situasie sou hulle die nagmaalsdiens met die nagmaalsete in een geleentheid saamvoeg. Elkeen het kos saamgebring. Die gedagte was dat almal genoeg sou kry om te eet. Ook die behoeftiges moes saam kon eet.

Die gemeentelede het dit egter anders gedoen. Elkeen het gou die kos wat hy saamgebring het, afgesluk en sy wyn gedrink. Eintlik het hulle ’n klomp verskillende maaltye gehou, nie die een nagmaal van die Here nie. So het party te veel te ete gekry en hulle selfs dronk gedrink, terwyl ander honger gely het. Veral die arm gelowiges is benadeel.

Die Korintiërs se leuse was: “Elkeen vir homself!” So maak ’n nagmaalganger hom skuldig aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here (:27, 28). Hy eet en drink `n oordeel oor homself (:29). Die apostel sê daaroor “As julle dan as gemeente saamkom, is dit nie meer die nagmaal van die Here wat julle vier nie.”

By die nagmaal mag dit nie om myself gaan nie. Ek mag nie selfgerig daaraan deelneem nie. Elkeen is hier ter wille van en vir die ander en almal is hier ter wille van en vir God. Ons moet hierdie boeiende, meeslepende spel speel van die nuwe vredesverhouding tussen God en mens (Rom 5:1) en tussen mens en medemens.

Die nagmaal as maaltyd van die Here kan verskillende betekenisse hê. Die hoofaksent val daarop dat die gemeente in Korinte nie nagmaal gevier het in die styl van die Here nie.

Hoe lyk ’n nagmaal in die styl van die Here? Hoe lyk ’n nagmaal wat die stempel van die Here dra?

Nagmaal in die styl van Christus

Die apostel sê: Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so ook het Hy na die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis”.

Hy het die nagmaal ingestel in die nag waarin Hy oorgelewer is. Hy was nie bloot `n passiewe ontvanger van wat daardie nag met Hom gebeur het nie. Inteendeel. Hy het reeds besluit om die wil van sy Vader uit te voer en die volle losprys vir ons sondes te betaal.

Ons sien dat Hy van die eerste nagmaalstafel af opgestaan en in die tuin van Getsemane gaan bid het. By die vooruitsig op wat Hy moes deurmaak, het Hy in eensaamheid bloed gesweet. Hy het daar van sy knieë af opgestaan en sy verraaier, Judas, tegemoet gestap. Willens en wetens het Hy sy onregverdige verhoor, die geseling, die vloekhout, die graf tegemoet gestap.

Vooraf het Hy aan die eerste nagmaalstafel gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Wat bedoel Jesus met die verwysing: my liggaam? Sy liggaam is net soos sy bloed (:25) nie ’n deel van Homself nie, maar Hyself as Persoon.

Iemand (Pop) verklaar dit só: Dit is nie sy sigbare liggaam soos Hy aanlê by die Paasmaal nie, maar die totaliteit van sy lewe wat vlees geword het met alles wat Hy gedoen, gesê en ondervind het in die proses van vernedering; ook met alles wat Hy doen, sê en is as die verhoogde Here.

Die banier oor alles wat Hy kom doen het, die banier oor sy regering vanaf die regterhand van God, die banier van sy wederkoms is: dit is vir julle! Alles wat Hy was en gedoen het, alles wat Hy is en doen, alles wat Hy sal wees en sal doen, word ’n werklikheid vir ons wat hier teenwoordig is en ons het deel aan die werklikheid van volkome verlossing.

Wanneer hy Jesus se woorde aanhaal: Dit is my liggaam … vir julle, stel die apostel Jesus teenoor die selfsugtige en selfgerigte Korintiërs. Hierdie woorde van Jesus is ’n betuiging van liefde en genade soos wat nog nooit gehoor is nie. Iemand (Pop) sê dat die nagmaal om daardie rede onuitwisbaar die stempel dra van die offer van die één wat gebring word ter wille van wat in ander se belang is.

Hy (Pop) gaan voort: ons maaltyd vanaand is daarom nòg ’n herhaling nòg ’n nabootsing van wat Jesus met sy dissipels gedoen het, maar Hy sit dit hier en nou voort; Hy verwerklik hier en nou dit wat die aand waarin Hy oorgelewer is, begin het en wat Hy te volle gaan vervul in die hemelryk waar ons die bruilofsmaal van die Lam sal geniet.

Jesus Christus, die Hoof van die kerk, het self die nagmaal ingestel. Dit is sy tafel en Hy is self teenwoordig. Hy is self die Hoof van die tafel.

Ons moet daarom vra: Wat is die wil van die Hoof van die tafel? Wat is die wil van die Koning van die kerk?

Slot

Deur sy Gees vestig die Here ook nou ons aandag op Jesus se woorde: Dit is my liggaam vir julle. Jesus laat Hom nie skei van ons wat aan Hom behoort nie. Hy is ook vanaand hier – en dan net ter wille van ons wat aan Hom behoort.

As ons nou gereed maak om aan die tafel van die Here te kom aansit; moet ons gedagtes onder leiding van die Heilige Gees gerig wees op Hom wat ter wille van ons verneder is tot die vloekdood aan die kruis; op Hom wat nou vanaf die ereplek aan die regterhand van die Vader regeer oor alles en almal, ook oor ons, hier byeen; op Hom wat weer kom in heerlikheid en oor almal sal oordeel.

In navolging van Hom wat gesê het: Dit is my liggaam vir julle, moet ons ook na mekaar kyk; mekaar se nood en behoeftes raaksien en saam, as die een gesin van God, as kinders van ons hemelse Vader, nagmaal vier.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 10 25) Vier die nagmaal van die Here 1 Kor 11 v20 en 24e

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *