(2015 10 25 1e) God begin nuut met een man maar met baie nasies in die oog Gen 1 v1tot8

God maak ‘n nuwe begin. Ons teks vertel dat Hy ‘n nuwe begin maak met Abraham en sy nageslag. Dit was nie die eerste nuwe begin wat God met sy skepping gemaak het nie. Dit was ook nie die laaste nie. Dit is net aan God se nuwe begin te danke dat ons hoegenaamd bestaan. Dit is net aan God se nuwe begin met Abraham en deur Christus te danke dat ons nou as verloste sondaars hier bymekaar is.

Die vraag is: wat is God se doel met sy nuwe begin? In die taal van die kerkgroeibediening waarop ons tans in die GKSA fokus: wat is God se missie?

God maak in ons teks ‘n nuwe begin met Abraham, die enkeling. Tog verbind Hy Hom ook aan Abraham se nageslag. Ons moet voorts aandag gee aan ‘n spesifieke belofte van God aan Abraham: Ek maak jou die vader van baie nasies (Gen 17:5).

God se missie vernou na Abraham maar verwyd weer deur hom na al die nasies. Ons tema: God begin nuut met een man, maar met baie nasies voor oë. Ons let op twee sake: (1) God se nuwe begin en (2) God se missie en ons s’n. Ek en jy het ook ‘n missie. Die vraag is: Hoe vergelyk jou missie met God s’n?

God se nuwe begin

Wanneer ons van ‘n nuwe begin praat, veronderstel dit ‘n ander, vroeër, begin. Natuurlike vrae is: waarom ‘n nuwe begin? Wat het met die begin verkeerd geloop wat ‘n nuwe begin nodig gemaak het?

Die Bybel begin met die woorde: In die begin het God die hemel en die aarde geskep (Gen 1:1). Op die sesde skeppingsdag het Hy die mens geskep (Gen 1:17). Daarop volg: Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed (Gen 1:31).

In Gen 2 lees ons dat God die proefgebod aan die mens gegee het. Onder aanstigting van die slang het Adam en Eva van die verbode vrug geëet – so God se gebod oortree (Gen 3). God het as straf die hele skepping in verydeling en verganklikheid gedompel (Rom 8:20).

Sonde het die mens in ‘n wurggreep vasgevat. Die sonde het begin tier. God het besluit om na die sondvloed ‘n nuwe begin te maak met Noag en sy gesin (Gen 6). Weer het die sonde begin tier. Met die toring van Babel het die mens homself tot in die hemel, God se woonplek, probeer verhef (Gen 11). God het daarop gereageer met die groot taalverwarring. Die Here het die mense daardeur oor die hele aarde verstrooi.

Ons fokusgedeelte handel oor God se nuwe begin met een van daardie verstrooide mense: Abram. God het hom opdrag gegee om uit Haran te trek na die land wat Hy hom sou wys. Hy het spesifieke beloftes aan Abram gemaak: ‘n land wat sy nageslag in besit sou neem en sy nageslag sou groot wees.

Abram het ontdek dat God nie sy beloftes gou uitvoer nie. Hy was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggetrek het (Gen 12:4). Na ‘n herhaling van die belofte van ‘n groot nageslag (Gen 15:4, 5) het tien kinderlose jare in Kanaän verbygegaan. Sarai het besluit om in te gryp. Abram moes ‘n kind by haar slavin, Hagar, kry. Op 86 jaar is Ismael vir Abram gebore. Ons teks speel dertien jaar later af – Abram was al 99 jaar oud en hy en Sarai was nog altyd kinderloos. Isak is eers gebore toe Abram 100 jaar oud was (Gen 21:5).

Waarom het God so lank gewag voordat Hy sy belofte nagekom het? Toe God sy belofte vervul het, was een ding seker: die geboorte van Isak was ‘n wonder wat God almagtig gedoen het. Dit was so goed as ‘n nuwe skepping. Dit was in die volle sin van die woord God se nuwe begin.

God se nuwe begin / nuwe skepping word op nog ‘n wyse gesimboliseer: In die Bybelse tyd is persone se naam verander. So het die farao Josef se naam verander na Safenat-Paneag en koning Nebukadnesar se hoofpaleisbeampte Daniël s’n na Gananja. Wanneer ‘n nuwe tydperk in ‘n persoon se lewe aangebreek het, is sy naam verander. So het die Here Abram Abraham genoem en Sarai Sara (Gen 17:5, 15). Dit was nie wesenlike verandering in die betekenis van die twee name nie, maar die verandering simboliseer ook die Here se nuwe begin met hulle.

Dit was nie God se laaste nuwe begin nie. As gelowiges van die tydvak van die Nuwe Testament weet ons God het ‘n laaste keer ‘n nuwe begin met sondaars gemaak. Hy het dit gedoen deur sy Seun te laat mens word. Hy het vir ons gedoen wat ons nie kon nie:

  • Jesus het volmaak volgens God se wil geleef – en daardie volmaakte lewe vir ons gegee.

  • Ons sondeskuld het Hy op Hom geneem en die volle losprys daarvoor aan die kruis op Golgota gedra.

Dit is net aan God se nuwe begin in en deur sy Seun te danke dat ons nou as verloste sondaars hier bymekaar is.

Waarom het God nuut met ons begin? Wat is sy doel / missie?

God se missie en ons s’n

Na die skepping en sondeval was God besig met al die mense, verteenwoordig deur Adam en Eva. Na die sondvloed was Hy weer besig met al die mense, verteenwoordig deur Noag en sy gesin. In ons fokusgedeelte sonder Hy een man, Abram (later Abraham), uit en sluit ‘n genadeverbond met hom. Was Abraham die enigste mens met wie God verder wou werk? Anders gestel: Met hoeveel mense wou God eindig toe Hy met Abraham begin het (v2)?

Iemand kan dadelik sê: God wou beslis nie met die enkeling, Abraham, eindig nie. Hy het immers Abraham se nageslag by sy verbond ingesluit. Hy sê: “Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag (Gen 17:7). Beteken dit God was net in die bloedfamilie van Abraham geïnteresseerd? Hierop antwoord die voorstanders van die Israelvisie “Ja.” Hulle probeer hulle bes om aan te dui hoedat hulle oor die eeue heen uit Abraham as voorvader stam.

Jesus het self vir die Fariseërs en Sadduseërs gesê dat dit nie geldig is nie: Julle moet julle nie verbeel dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie. Dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek (Matt 3:9). Vir mense wat weer peil trek op die besnydenis as teken van God se genadeverbond, het die apostel Paulus met betrekking tot Abraham gesê: dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was (Rom 4:11e – 12). Ons wat, soos Abraham, glo in God, aanvaar dat hierdie belofte ook ons kinders geld. As teken van God se verbond met hulle, ontvang ons kinders die doop.

So trek die kring van God se missie wyer: Abraham, sy nageslag, ons wat glo en ook ons nageslag. Daarmee is ons egter nie by die wydste sirkel wat God rondom Abraham trek nie.

Toe die Here Abram se naam verander het na Abraham, het Hy as rede gegee: … want Ek maak jou die vader van baie nasies. Ek sal jou baie vrugbaar maak, Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom (Gen 17:5e, 6). Twee keer lê die Here reeds tydens die sluiting van sy verbond met Abraham ‘n verband tussen Abraham en (baie) nasies.

Toe God met Abraham begin het, was sy doel nie om sy handelinge te beperk nie. Sy doel was om sy handelinge om sondaars te verlos, weer van Abraham af wyer te laat uitkring. God het dus met sy missie wyd gemik.

Hoe vergelyk jou missie met God s’n? Is jou visie beperk tot jou. Wat van jou nageslag? Watter plek neem die nasies in jou missie in?

Iemand kan hierop antwoord: tussen ons en Abraham lê God se laaste nuwe begin. Is die nasies ook in die bedeling van Christus God se missie? Iemand sou selfs kon aanhaal wat Christus vir die Kanaänitiese vrou wie se dogter in die mag van bose geeste was, gesê het: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur” (Matt 15:24). Hy sê daarmee dat sy roeping eng is – net geld vir die verlore nageslag van Abraham.

Tog wys die afloop van hierdie tussenspel in ‘n ander rigting: “Mevrou, sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Van daardie oomblik af was die dogter gesond” (Matt 15:28).

Daar is egter geen twyfel nie dat die nasies vir die verheerlikte Christus in fokus kom. Sy laaste opdrag aan sy dissipels is: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matt 28:19a). Die verheerlikte Christus se laaste opdrag aan sy dissipels en daarom aan ons, sy kerk, is om God se missie, soos reeds aan Abraham gegee, ons eie te maak. Christus het pas voor sy hemelvaart vir sy dissipels gesê: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Hand 1:8).

Ook ons moet, met die krag wat die Heilige Gees ons gee, so wyd mik met ons eie missie as wat God met syne mik. Ons moet, soos God, fokus op die nasies. Onder leiding van die Heilige Gees moet ons die nasies dissipels van Christus maak. Ons moet hier, in Vereeniging, begin. Ons moet die evangelie tot in die uithoeke van die wêreld uitdra. Só sal ons missie met God s’n ooreenstem.

Slot

Ons teks vertel van God se nuwe begin met Abraham en sy nageslag. Dit is net aan God se nuwe begin met Abraham en deur Christus te danke dat ons vandag as verloste sondaars hier bymekaar is.

In sy nuwe begin sê God dat Abraham die vader van baie nasies sou wees. God laat dus sy missie van Abraham af al wyer uitkring na al die nasies toe. Ons tema: God begin nuut met een man, maar met baie nasies in die oog. Is God se missie ook joune?

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 10 25) God begin nuut met een man maar met baie nasies in die oog Gen 17 v1tot8

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *