(2015 10 18 2e) Swaarkry en hoop Rom 8 v18tot28 ♪

Verskeie van ons was die afgelope tyd in die hospitaal, ander het operasies ondergaan, en nog ander het die diagnose gehoor: jy het kanker / die kanker het hervat, of versprei. Ons het die derde kwartaal van die jaar afgesluit met troosdienste van iemand wat weens emfiseem en ‘n ander weens verspreide kanker wat in die brein geëindig het, gesterf het.

Waarom gebeur sulke goed? Waarom al die swaarkry? Waarom kry gelowiges, kinders van ons hemelse Vader, net so swaar soos mense wat van God vervreem is?

Mense gee verskillende antwoorde op hierdie geloofsvraag:

1 God is daar, maar ook Satan. God gee ons alles wat goed en aangenaam is; die Satan alles wat sleg en onaangenaam is. Tussen God en Satan is daar voortdurend ‘n ontsaglike stryd.

Die probleem met hierdie antwoord is: wie gaan uiteindelik wen: God of die Satan? Die Here God wys hierdie skema wat mense gebruik om geloofsvrae te beantwoord, in ons fokusgedeelte as ‘n vals antwoord af.

2 Teenoor die eerste benadering is daar diegene wat weer sê: “Nee, alles – ook die negatiewe; die slegte en onaangename – kom uit God se hand.” Die enigste antwoord is: Berus gelate in jou lot! God het dit immers oor jou gebring.

Die probleem hiermee is: Dit is so troosteloos en sonder vooruitsig; daar is geen uitkomkans nie; geen hoop nie. Die Here God wys ook hierdie antwoord af.

3 Die antwoord van ons fokusgedeeltes: Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Rom 8:18).

Die prentjie voor ons (in beide die 1953 en 1983-vertalings) is dié van ‘n eenvoudige balanseerskaal. Dit het twee skaalbakke. In die een skaalbak is gewoonlik die bekende massa geplaas en in die ander dit wat ons wil weeg.

Daar is nog iets besonders aan die twee skaalbakke waarna ons kyk. Die een skaalbak hang in die hede. Dit is gelaai met leed en lyding. Die ander skaalbak hang in die toekoms. Dit is gelaai met heerlikheid. Kom ons bekyk eers hierdie twee skaalbakke en ter afsluiting op troosvolle versekerings vir die hier en nou.

Die skaalbak in die hede

As gelowiges beleef ons ‘n werklikheid van teleurstelling, hartseer, leed, lyding en selfs die dood. Waar kom dit vandaan? Ons hoor die antwoord: Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het (Rom 8:20 – 21).

Ons sien hoedat dit gebeur as ons terugblaai na Gen 3. Die mens het in sonde geval en God kondig sy straf aan. Sy straf raak dié wat direk by die sondeval betrokke is: Adam, Eva en die slang. Dit kring ook verder uit. Dit raak die hele nageslag van Adam en Eva. God vervloek selfs die hele aarde, om dorings en distels voort te bring. Die skepping – in sy geheel en in al sy dele – is deur die sondeval getref. Verganklikheid en verydeling vier sedert die sondeval hoogty.

Die skepping het nie hierdie verganklikheid en verydeling gekies nie; dit nie vrywillig opgeneem nie. God het die ganse skepping aan die verganklikheid en verydeling onderwerp, omdat die mens – die kroon van die skepping – in sonde geval het. Slegte goed gebeur dus, omdat ons hier en nou onder die skadu van die sondeval leef.

Die skepping worstel voortdurend met hierdie verganklikheid en verydeling, met hierdie gebrokenheid waaraan dit onderwerp is. Daar styg van die ganse skepping een groot versugting op – ‘n versugting om verlossing.

Vervolgens lees ons: En nie net die skepping nie, maar [ … ] ons sug ook. Ons sien daarna uit die God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry (Rom 8:23). Hierdie sugte wat ook uit ons kele opstyg, gee wél erkenning aan ons eie en die res van die skepping se magteloosheid om van ons kant af ons situasie positief te beïnvloed. Tog is dit nie negatiewe sugte nie. Dit is sugte wat erkenning daaraan gee dat ons glo dat – al kan ons niks doen aan die gebrokenheid waaronder ons en die skepping ly – God iets daaraan kan en ook sal doen: Hy kan en sal ons en die skepping volkome van die verganklikheid verlos! In ons versugtinge stel ons ons volle vertroue in Hom en in Hom Alleen!

Die Here hoor ons sugte en verhoor ook ons versugting na verlossing. In die volste sin van die Woord sal Hy dit ook verhoor wanneer Christus weer kom op die wolke. Dan bevry Hy sy ganse skepping volledig van die verganklikheid; ja, van die sondeval en die geringste skaduwee daarvan. Daarmee is ons reeds by:

Die skaalbak in die toekoms

Die toekoms is ‘n toekoms van heerlikheid. In die versugting van die skepping en ook die gelowige na hierdie heerlikheid, hoor ons die hartklop van sekerheid. Hierdie sekerheid berus daarop dat die Here God getrou is, dat Hy die goeie werk van verlossing wat Hy begin het, ook sal deurvoer.

Hier en nou verdryf die lig van ons gelowige hoop op hierdie heerlikheid die skaduwee van die sondeval met sy gepaardgaande verganklikheid en verydeling. Hierdie hoop is seker, hoewel ons nie reeds die volle heerlikheid beleef nie. Ja, dit is seker juis omdat dit niks te make het met wat ons sien en beleef nie, maar wél alles met God wat getrou is en vir ewig getrou bly.

Ons sug na hierdie heerlikheid wat God, die Almagtige, sal bewerk, word ‘n versugting, ‘n gebed wat na die genadetroon opstyg.

Dit is egter juis ten opsigte van hierdie gebed om volkome verlossing dat ons, as gelowiges, ‘n probleem het. Wanneer ons bid dat hierdie heerlike toekoms sal aanbreek, skiet ons woorde tekort. Ons is alleen maar daartoe in staat om te stotter en te stamel. Ons kan dít waarvoor ons bid, nie só verwoord, dat dit selfs in die geringste mate onder woorde bring wat God ons wil skenk nie.

Om hierdie rede gee die Here vir ons:

Troosvolle versekeringe vir die hier en nou

3.1 Ons lees in Rom 8:23 dat ons wat sug na hierdie heerlikheid, reeds die eerste paaiement van hierdie heerlikheid wat op ons wag, ontvang het – die Heilige Gees! Hoor nou die troos en versekering wat die Here ons in ons teks bied: Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie (Rom 8:26).

Ons wat nog in die skadu van die sondeval leef, wat onsself nie in die lig van Goddelike heerlikheid kan indink nie, sug en bid nie vergeefs nie. Die Heilige Gees tree vir ons in – Hy neem ons stotterende en stamelende gebede en vertolk dit op so ‘n wyse dat dit klop met die heil en heerlikheid wat op ons wag. Hy lê ons gestotter en gestamel in volmaakte vorm voor die genadetroon van God.

En dan hoor ons – genade op genade: En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges (Rom 8:27). Die genadige God verhoor Hom ook wanneer Hy vir ons intree.

Dit is die versekering van die Here in sy Woord vir ons wat intussen in die gebroke hede; die hede van teleurstelling, hartseer, leed, lyding en die dood, leef. Hy gee ons ook ‘n verdere versekering:

3.2 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep i s (Rom 8:28). Selfs waar ons hier en nou nog in die skaduwee van die sondeval leef, kan ons wéét: die Here God staan nie magteloos voor die sondeval en sy – vir ons – aaklige gevolge nie. Inteendeel! Hy verlos ons en die ganse skepping volkome daarvan.

Laat God regtig alles ten goede meewerk? Inderdaad, ja! Kyk maar hoedat die sondaars hul opstand teen God tot die uiterste toe voer. Hulle spyker sy Seun aan die kruis vas. Hulle maak Hom dood. Wat doen God? Hy draai dit om. Hy gebruik daardie verskriklike gebeure juis om sondaars uit ons sonde te verlos. Hy laat dit ten goede afloop.

Ons kan dus vanaand weet: selfs die mees negatiewe gevolge van die sondeval, selfs die grootste teleurstelling, die diepste moontlike leed en grootste moontlike lyding werk uiteindelik vir ons ten goede mee.

Hoe is dit moontlik? Menslik is dit heeltemal onmoontlik om teweeg te bring. Wéét egter: God is die Almagtige. Hy – en Hy Alleen – doen dit! Daarvan verseker Hy, die Getroue, die Waaragtige ons! Hy beloof dit vir ons in sy Woord. Hy hou elke belofte.

3.3 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie hy die Eerste is. Dié wat Hy daarvoor bestem het, het hy ook geroep. En dié wat hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het hy ook verheerlik (Rom 8:29, 30). Ons sal dikwels ‘n ding begin en later weer laat vaar. Ons kom soms daartoe om handdoek in te gooi. Hierdie verse sê dat God heeltemal anders is as ons. Hy gooi nie handdoek in nie. Hy laat nie die werke van sy hande vaar nie. Wat Hy begin, voer Hy deur – enduit!

Ons kan daarom altyd bly reken op sy genade, sy liefde, sy trou. Dit staan vas – vir tyd en ewigheid!

Slot

Ons teks hou aan ons ‘n balanseerskaal met twee skaalbakke voor. Die skaalbak van die hede is wél een van teleurstelling, hartseer, leed, lyding en die dood. Ons wéét egter, omdat die Almagtige God ons in sy Woord daarvan verseker, dat die skaalbak van die hede nie opweeg teen die skaalbak van die toekoms met sy volmaakte heerlikheid nie.

Laat ons wat reeds die Heilige Gees as eerste paaiement van die heerlike toekoms as gawe van God ontvang het, vanuit die skaalbak van die hede, gelowig ook die skaalbak van die toekoms beskou. Dan sien ons die volle werklikheid waarin ons as gelowiges leef as ‘n balanseerskaal met twee skaalbakke – dié van die hede; maar ook dié van die heerlike toekoms.

Mag Hy ons deur sy Gees lei om die volle skaal van die werklikheid waarin ons leef en ook sal leef, onder oë te hou. Die heerlikheid is ons deel. Dit is seker; dit is selfs sekerder as die dood!

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 10 18 ) Swaarkry en hoop Rom 8 v8tot18

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *