(2015 09 20 2e) God handhaaf n verhouding met sy skepping Gen 1 v 26tot28 ♪

Wat is die groot wonder van die skepping?

Sou dit die omvang daarvan kon wees? Ons sien nou die lig van sterre miljoene ligjare nadat dit daar weg is. Die mensdom is nog ver daarvan om selfs ‘n realistiese idee van die omvang van die heelal te hê. Daar word nog daaroor geteoretiseer.

Sou dit die grootsheid van die skepping wees? Vergelyk ‘n mens die aarde met die ander planete in ons sonnestelsel, is die aarde allermins indrukwekkend. In vergelyking met die son is die aarde nietig. Op sy beurt is ons son net ‘n spikkel teen die reuse sonne in ons melkwegstelsel. Plaas ons ons samekoms vanaand in die groot prentjie, besef ons hoe nietig ons is – nie eens ‘n stofkorrel in die groot heelal nie.

Die wonder van die skepping is dat dié God wat Skepper is van dit alles, ‘n verhouding met sy skepping handhaaf. Meer nog: dat Hy, in die woorde van die profeet, ‘n mens van voor sy geboorte af ken (Jer 1:5); dat Hy, in die woorde van die digter, ons lewensdae bepaal (Ps 139:16). Na die sondeval is die wonder dat die Here sy verhouding met sy skepping en met die mens handhaaf. Die wonder van die skepping is God se liefde vir sy skepping en skepsel – so groot dat Hy sy Seun vir ons gegee het.

In fokus vanaand: (1) God handhaaf ‘n verhouding met sy skepping en (2) met die mens.

God handhaaf ‘n verhouding met sy skepping

Twee verskillende woorde vertolk wat God aan die begin gedoen het:

In die begin het God die hemel en die aarde geskep (Gen 1:1). ‘n Mens kan hierdie vers op verskillende maniere verstaan. So bv kan ‘n mens dink dat God sy skeppingswerk afgehandel het soos die horlosiemaker wat sy handewerk op sy tog die tyd instuur, sonder enige verdere kontak. Volgens so ‘n beskouing laat die Here alles outomaties loop: Die die nag volg op die dag; die een seisoen op die ander. Die verskillende natuurwette bepaal dat elke hemelliggaam en elke sterrestelsel as vanself op sy baan bly.

Die Bybel teken ‘n ander prentjie. Na die sondvloed gee God aan Noag, die hele mensdom en die hele diereryk, die versekering: die een dag op die ander volg; die oestyd, die saaityd, die een seisoen op die ander, omdat Hy dit waarborg (Gen 8:22). Dit wat ons so as vanselfsprekend aanvaar, is te danke daaraan dat Hy nooit die werke van sy hande laat vaar nie – nie eens een werk een oomblik lank nie. Die Here God versorg sy hele skepping en elke deel daarvan getrou – elke oomblik; 24/7; jaar in, jaar uit.

‘n Tweede woord beskryf dit wat God gedoen het: Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het (Gen 2:7) en ook: Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem (Gen 2:20). God het sy skepping verder gevorm, verder verfyn. Volle begrip van die volle omvang van God se skepping en die manier waarop Hy dit doen, is ons nie hier en nou beskore nie. God volstaan daarmee om te sê dat Hy die hemel en die aarde aan die begin geskep en dit verder gevorm het. Moontlik kan ons selfs sê dat die Here God steeds besig is met die verdere vorming en verfyning van sy skepping.

Oor die skeppingsproses maak God meer aan ons bekend:

Reeds daar aan die begin het die Gees van God oor die waters gesweef (Gen 1:3).

God het deur sy Woord geskep. Dit vind ons duidelik in die Nuwe Testament opgeteken: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie (Joh 1:1 – 3). Dit word deur die apostel bevestig oor die Seun van God: God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep (Kol 1:16). God Drie-enig – Vader, Seun en Heilige Gees – was betrokke by die skepping en vorming van alles in die heelal.

In Ps 8 besing Dawid die Here as die Skepper van alles. Hy sê: die hemelruim besing die wonderlikheid van die Here; die kinders en suigelinge doen dit eweneens. Dit gebeur omdat die Here ‘n verhouding met sy skepping handhaaf.

God handhaaf ‘n verhouding met die mens

Die Here God het verskillende weergawes van die skepping van die mens in sy Woord opgeteken: Die Here het die mens as man en vrou geskep (Gen 1:27), die mens uit die stof van die aarde gevorm (Gen 2:7) en toe Adam se rib omgebou en Eva gevorm (Gen 2:22). Deur hierdie woorde gaan dit duidelik nie om hoe die mens deur God geskep is nie, maar wel om die feit dat Hy die mens geskep het.

God het ook met die mens gepraat. Hy het spesifieke opdragte aan Adam en Eva gegee: om die aarde te bewoon en te bewerk en oor die ander skepsels te heers (Gen 1:28). Die mens beklee dus ‘n besondere posisie in sy ganse skepping. Dawid sing daaroor: U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp (Ps 8:6, 7). Die Here het sy skepping tot stand gebring, sodat die ganse skepping sy lof kan verkondig. In die lied van die skepping was sy bedoeling dat die mens, die kroon van daardie skepping, die soetste klanke in die loflied van die skepping moes voortbring.

Die mens is die enigste skepsel wat daartoe in staat is om bewustelik in ’n verhouding met God te leef. Wanneer ons geloofsvaders die beeld van God in die mens omskryf, sê hulle dat God die mens in ware regverdigheid en heiligheid geskep het. Daar in die tuin van Eden was die reg aan die mens se kant. Die mens was in staat om te doen wat reg is. Daar was geen vlek op die mens nie. Hy was inderdaad so heilig soos God.

So het dit nie gebly nie. In Gen 3 lees ons al van die mens se val in sonde. Die beeld van God in die mens is aangetas. Die mens is tot in sy diepste wese toe deur die sonde in besit geneem. Een van die eerste goed wat Adam en Eva na die sondeval gedoen het, was om van God te probeer wegkruip. Die mens se verhouding met God, mekaar en die res van die skepping het toe al heeltemal ontspoor.

Die wonder is dat die Here God die mens toe roep. Hy het hulle ook oor hulle val en ongehoorsaamheid tot verantwoording geroep.

Die geskiedenis van die mensdom na die sondeval is een van afgodediens en afvalligheid van God. Die goddeloosheid het na die sondeval sterk toegeneem, totdat dit God bedroef en gegrief het. Hy het besluit om die mensdom uit te wis. Hy het Noag en sy gesin egter begenadig (Gen 6:5 – 8). Met hulle het God na die sondvloed ‘n nuwe begin gemaak.

Die ou patroon is herhaal. Toe het God Hom in genade aan Abraham en sy nageslag (later die volk Israel) verbind. Selfs hulle het ook die pad van sonde en goddeloosheid geloop.

Telkens het God sy volk tot besinning geroep, hulle nog ‘n kans gebied om in die regte verhouding met Hom te leef.

Watter wonder dat die Here in ‘n tyd toe sy volk heeltemal die pad byster geraak het, die profeet Jeremia roep om hulle te waarsku dat volharding op hulle sondepad daartoe sou lei dat hulle in die vreemde ballinge sou wees totdat hulle tot inkeer kom. Toe Hy Jeremia as profeet roep, het die Here vir hom gesê: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel (Jer 1:5).

Voor Jeremia kon Dawid sing: U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is (Ps 139:16). Hieruit is duidelik dat God nie sy verhouding met die mens oor die sondeval verbreek het nie, maar dit handhaaf.

God het egter ook verder gegaan. Hy het ook die gebroke verhouding met die mens herstel. Dit het Hy gedoen deur Jesus Christus te stuur om ons met God te versoen, om die beeld van God in ons te herstel. Christus het ook versoening tussen God en mens, mens en medemens, sowel as mens en die res van die skepping bewerk.

Daarom is elkeen van ons wat in Christus glo, daartoe geroepe om in die regte verhouding met God, mekaar en die res van die skepping te leef. Ons moet stry teen ons ou sondige natuur wat ons weer wil laat ontspoor. Gedring deur die Heilige Gees moet ons aan ons doel beantwoord. Ons moet hoe langer hoe meer leef volgens die herstelde beeld van God in die mens.

Slot

Wat is die groot wonder van die skepping? Die wonder van die skepping lê in in die omvang of in die grootsheid daarvan nie.

Die wonder van die skepping is dat dié God wat Skepper is van dit alles, ‘n verhouding met sy skepping handhaaf. Meer nog: dat Hy, in die woorde van die profeet, ‘n mens van voor sy geboorte af ken (Jer 1:5); dat Hy, in die woorde van die digter, ons lewensdae bepaal (Ps 139:16). Die wonder van die skepping is dat die Here selfs na die sondeval sy verhouding met sy skepping en met die mens handhaaf. Die wonder van die skepping is God se liefde vir sy skepping en skepsel – so groot dat Hy sy Seun vir ons gegee het.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 09 20) God handhaaf n verhouding met sy skepping Gen 1 v26tot28

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *