(2015 09 20 1e) Die Here se genade in die maaltyd van sy gemeente 2 Kron 30 v ♪

In ‘n restaurant eet mense op een plek kos wat in dieselfde kombuis berei is. Tog het die een groep niks met die ander te make nie.

n Gesinsmaaltyd eet almal saam en verkeer gesellig.

Is die Nagmaal ‘n restaurantete, of ‘n gesinsete? Ons teksgedeelte beantwoord die vraag in die tema: Die Here se genade in die maaltyd van sy gemeente.

Op die vooraand van die uittog uit Egipte moes elke gesin ‘n lam slag en die bloed aan die deurkosyne smeer. Die Here het elke huis met bloed aan die kosyn met sy oordeel verbygegaan. Daardie nag moes elke Israelitiese gesin die vleis van die paaslam opeet. Die Paasmaal was dus ‘n gesinsmaaltyd.

Jesus het die Nagmaal tydens die viering van die Paasfees ingestel. Aan die nagmaalstafel was Jesus se ma en ander familielede afwesig. Sy dissipels het die eerste nagmaal tydens daardie laaste Paasfees gevier. Die nagmaal is ‘n ete van die gemeente van die Here, die huisgesin van God (Ef 2:19; 1 Tim 3:15).

Ons nuttig vanoggend die nagmaal as gesinsete van die gemeente. Natuurlik slag ons nie meer ‘n paaslam nie. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus (1 Kor 5:7). Ons vier die genade van die Here waardeur Hy ter wille van die bloed van sy Seun sondaars met sy oordeel verbygaan.

Die volk van die Here moes die eerste Paasfees op die vooraand van hulle uittog uit Egipte jaarliks in die beloofde land herhaal. In die beloofde land het hulle egter in hulle diens aan die Here verflou. Hulle doel was nie om gehoorsaam aan die Here te leef nie. Ook die voorskrif om jaarliks die Paasfees te vier, het agterweë gebly.

Hiskia het pas koning van oor die suidelike stamme van God se volk geword. Anders as sy voorgangers wou hy die Here dien. Hy wou ook, getrou aan die Here se opdrag, dat die volk van God Paasfees vier. Daar was egter ‘n probleem. Daar was nie genoeg priesters gewy nie en die volk van God was nie in Jerusalem bymekaar nie (2 Kron 30:3).

Hulle het in die Woord van God na ‘n oplossing gesoek. Volgens Num 9:6 – 14 kon mense wat onrein was, die Paasfees ‘n maand later vier. Hiskia stuur toe onmiddellik hardlopers om die volk vir die Paasfees ‘n maand na die vasgestelde tyd in Jerusalem op te roep.

Die hardlopers het die hele land deurgegaan – selfs na die Noordelike stamme toe wat nie deel van Hiskia se ryk was nie. Die mense van die noordelike ryk het Hiskia se boodskappers uitgelag en bespot (2 Kron 30:10).

Tog het die mense uit die Noorde hulle bedink. Op die veertiende dag van die tweede maand was hulle in Jerusalem saamgetrek. Die Paasfeesstemming in Jerusalem geheers het, was aansteeklik. Dit het hulle aangegryp. Hulle wou deelneem.

Hulle het ‘n ernstige probleem gehad: hulle het hulself nie, volgens die Here se voorskrif, vooraf gereinig nie. ‘n Tweede probleem was: Die Paasfees kon nie verder uitgestel word nie.

Die Here eis in sy Wet dat mense wat aan die Paasfees wil deelneem, sy reinheidsvoorskrifte nakom. Het hulle dit nie gedoen nie, was straf hul voorland. Siekte en selfs die dood kon volg (Lev 15:31; 22:3). Ons kry dieselfde waarskuwing wanneer ons die Nagmaal vier sonder die nodige selfondersoek: elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself. Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie (1 Kor 11:28 – 31).

Hoewel die wet van die Here nie daarvoor voorsiening maak nie, is toe besluit dat Leviete hierdie mense wat godsdienstig onrein was, se paaslammers vir hulle moes slag, sodat ook hulle paaslammers aan die Here gewy kon wees (2 Kron 30:17). Toe bid Hiskia: “Mag die Here in sy goedheid versoening doen vir elkeen wat aan God, die Here, die God van sy voorvaders, gehoorsaam wil wees, al is dit nie volgens die reinheidsvoorskrifte van die heiligdom nie” (2 Kron 30:18, 19).

Hoe het die Here gereageer op wat op daardie besondere dag in Jerusalem gebeur het? Die Here het Hiskia se gebed verhoor en die volk genees (2 Kron 30:20). Die Here God staan nie met ‘n karwats in die hand om die een wat ‘n voet verkeerd sit, reg te sien nie. Hy staan nie reg om met sy streng oordeel die oortreder te straf nie.

Die Here is die God wat sondes vergewe, wat ongeregtigheid uitwis (1 Joh 1:9). Hy is die genadige God. Hy gaan sy kinders met sy oordeel verby. Die Paasfees is die fees van God se oordeel wat aan sy kinders verbygaan. In die Nagmaal vier ons die genade wat God in en deur ons Here Jesus Christus aan ons betoon, van sy oordeel wat ons, danksy Christus, verbygaan.

Die apostel Paulus het God se genade ervaar. Hy bestempel homself as ‘n misgeboorte omdat hy die gemeente van die Here vervolg het. Dat hy meer tot uitbreiding van die evangelie gedoen het as die ander apostels, is aan een ding te danke: … deur die genade van God is ek wat ek is (1 Kor 15:9, vgl ook :10). Hy skryf vir dieselfde gemeente: Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Kor 5:21). Die Here wil nie die dood van die sondaar nie, Hy het ons deur sy Seun met Hom versoen.

Al vereis God dat Hy volgens die voorskrifte wat Hy gegee het, aanbid moet word, betoon Hy genade vir dié wie se gesindheid reg is en Hom wil gehoorsaam, al skiet dit tekort.

Die vraag aan elkeen van ons se adres is. Hoe gebruik jy die Woord van God? Is dit ‘n wetboek in jou hand en staan jy met jou oordeel oor die een wat na jou oordeel verkeerd trap? Jy ken verskeie broers en susters wat vanoggend aan die tafel van die Here aansit. Jy ken elkeen se swakheid. Gaan jy doen wat Hiskia gedoen het? Verdoem jy, of bid jy?

Hiskia het gebid. Die Here het sy gebed verhoor. Die Here God is self dinamies betrokke waar Hy gedien word. Hy is dinamies by hierdie Nagmaalsdiens betrokke. Hy hoor elke gebed. Hy verhoor jou gebed in genade, op grond van die verdienste van sy Seun.

Die Paasfees het gewoonlik oor sewe dae gestrek. Hiskia en God se volk het daardie besondere fees met nog sewe dae gerek. Aan die einde van veertien dae lees ons dat die priesters en die Leviete die volk geseën het, waarna hulle huis toe is.

Vandag se nagmaalsdiens het begin met die Here se groetseën waar die genade en vrede van God ons toegesê is. Die nagmaalsdiens eindig met dieselfde seën as wat die priesters en Leviete in Jerusalem uitgespreek het. Nadat die Here die opdrag gegee het dat sy volk met die woorde geseën moet word, het Hy gesê: “So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.” (Num 6:27).

Die Here hou altyd woord. Hy doen dit vandag. Hy het dit in Hiskia se tyd gedoen. Ons lees: Toe die priesters en die Leviete opstaan en die seën uitspreek oor die volk, het God dit gehoor: hulle gebed het die heilige woning van God in die hemel bereik (2 Kron 30:27). Ook ons gebed bereik die woning van God in die hemel. God stort sy seën oor jou uit wat hier is. Onder sy seën gaan jy dan ook hier uit om dankbaar onder leiding van die Heilige Gees as sy kind te gaan leef.

    1. Slot

Die Here is dinamies betrokke by wat vanoggend hier gebeur. As jy bid, hoor en verhoor Hy. Hy doen dit uit genade, op grond van die verdienste van sy Seun.

Aan die begin van hierdie diens het ons die Here se groetseën ontvang. As mense wat as sy gesin geseën is, gaan ons aan die Here se tafel aansit. Sy boodskap: Die Here se genade in die maaltyd van sy gemeente.

Aan die einde van hierdie diens ontvang ons weer die Here se seën. Gaan onder sy seën hier uit. Gaan leef onder leiding van sy Gees as sy kind. Maak erns met jou gehoorsame diens aan die Here. Bo alles moet jy die Here in die regte gesindheid dien.

AMEN

Bediening van Heilige Nagmaal

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 09 20) Die Here se genade in die maaltyd van sy gemeente 2 Kron 30 v20 en 27

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *