(2015 09 13 2e) Alles as uit die Vaderhand Ps 139 v5

Die aanleg sluit. Jou dienste word aan die einde van die maand beëindig.”

Dit is kanker!”

Jou lewensmaat is dood.” “Jou kind …”

Dit is woorde wat ruk. Jou drome val plat. Jou wêreld stort in duie. …

Waar kom sulke goed vandaan? Speel die Satan ‘n rol in sulke rampe? Verseker kan hy!

Speel God ‘n rol hierin? Hier antwoord gelowiges radikaal verskillend. Sommige sê: “Elke ramp kom net van die Satan af. Om te sê God het met die rampe te make, is Godslasterlik.” As Gereformeerde gelowiges bely ons dat beide voorspoed sowel as teenspoed, ja alles ons nie per toeval nie, maar uit sy vaderhand toekom (HK 10:27). Watter antwoord klop met die boodskap van die Bybel?

Ons teks gebruik ‘n militêre beeld uit die Bybelse ou tyd. Buskruit was nog onbekend en stede het ondeurdringbare mure gehad. Wanneer ‘n vyand ‘n stad wou inneem, moes hulle dit oor jare lank beleër om hulle tot oorgawe te dwing. Die digter sê die Here beleër ons met sy hande. Daar is dus ooreenkoms tussen die Here ons God en ‘n vyand wat destyds ‘n stad beleër het. Daar is egter ook wesenlike verskille tussen die Here God en die destydse vyand. Ons kyk na hierdie ooreenkomste en verskille.

Ooreenkomste tussen die Here en ‘n vyand wat ‘n stad beleër het

Ons teks lui só: U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my (Ps 139:5, 1953-vert).

Die vyand van destyds het die mense in die stad gehou. Hulle het niemand toegelaat om die stad te verlaat nie. Net so laat die Here ons nooit los nie. Niemand kan ons uit God se almagtige greep ruk nie. Niemand Selfs wanneer ek van Hom probeer wegbreek, hou Hy my vas. Sy hande is rondom ons – altyd en in alle omstandighede.

Gelowiges van verskillende oortuiging sal daarmee saamstem dat ons die goeie uit die hand van ons hemelse Vader ontvang. Die weë gaan egter radikaal uiteen wanneer ons saam met HK So 10 sê dat ook ons teenspoed uit die hand van ons hemelse Vader ons toekom. Hier steek party viervoet vas. Dít, so sê hulle, mag ‘n gelowige nooit sê nie. Sommige sal selfs sê dat hierdie stelling godslasterlik is. Volgens hulle kan die teenspoed wat ons ervaar, slegs uit een oord kom: van die Satan af.

Ons teks teken ‘n ander prentjie. Die vyand het niemand toegelaat om van buite af by die mense in die beleërde stad te kom nie. As die Here my beleër kan ek weet dat Hy dit wat by my uitkom, deurgelaat het.

Die Here vrywaar nie sy kinders van teenspoed nie. Ook sy kinders word getref deur kanker, beroerte, hartaanvalle en die dood van dierbares; selfs van hulle kinders. Ook kinders van die Here beleef inbrake, rooftogte, plaasmoorde en motorkapings. Ook gelowiges ly onder mense wat direk strydig met die uitdruklike gebod van God handel.

Tog dompel die Here nie sy kinders in die ellende en staan terug om te kyk hoedat hulle spook en spartel om nie onder te gaan nie. Nee, te midde van wat ons ervaar, kan ek en jy wéét: God bly altyd, ten spyte van my omstandighede, altyd vir my ‘n Vader. As Vader ondersteun en dra Hy my. As Vader bly Hy getrou versorg. As Almagtige Vader gee Hy my die krag en genade wat ek nodig het om dit wat oor my pad kom, te hanteer. Dit wat die Here toelaat om my te tref, kan nooit groter wees as die vermoë wat Hy gee om dit te kan hanteer nie. Deur sy Gees rus Hy my daarvoor toe.

Iemand beskryf dit só: Die Here laat die leed by my huis verbygaan, of dompel my huis in die leed. Hy verhaas die einde, of vertraag dit, omdat Hy met elkeen van sy kinders besig is. Hy gryp in elkeen se lewe in. Selfs in die grootste chaos ontglip nie eens één van sy kinders sy oog, of sy versorgende hand nie. Hy bring oor elkeen van sy kinders presies dít en presies so lank en presies so hewig as wat dit vir sy kind nodig is.

Ons hemelse Vader verskil ook wesenlik van ‘n vyand wat beleër

Die vyand wat ‘n stad beleër, soek die stad se ondergang. Sy doel is die dood van die inwoners. Die hande waarmee ons hemelse Vader ons beleër, is geensins soos ‘n vyand nie. Inteendeel.

Die hande waarmee Hy ons beleër, is die hande waarmee Hy sy Seun ook vir my gegee het. En ons weet: Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie (Rom. 8:32)? Die Here kan geen groter gawe gee nie, as sy enigste Seun. Ons kan daarom vertrou dat Hy alles wat ons nodig het, vir ons sal gee.

Die hande waarmee Hy ons beleër, is ook die hande waarmee Hy sy Gees gegee het om altyd in ons te woon, te lei en te troos.

Ons wat glo dat ons hemelse Vader ons in sy hande vashou, kan saam met die apostel sê: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Rom. 8:38 – 39).

So maklik aanvaar ‘n mens jou voorspoed as vanselfsprekend; as die vrug op jou goeie besluite en jou harde werk. So maklik vergeet jy dat die voorspoed gawe uit die hand van die Here is.

Ons moet onsself die vraag afvra: Moet ons nie leer om ons vertroue weer alleen te stel in ons hemelse Vader wat vir sy kinders sorg nie? Het ons dit nie as vanselfsprekend aanvaar dat ons elke dag die son sal sien opkom nie? Moes ons nie weer leer dat die lewe ‘n gawe is wat ons dankbaar uit die hand van ons Vader moet ontvang nie?

Is dit nie ironies nie, dat ons so maklik die feestafels waar ons aansit as vanselfsprekend aanvaar. Wanneer dit egter my beurt is om te besef: die geld van my pakket het opgeraak, of dit my beurt is om te hoor dat my dienste nie meer nodig is nie, leer ek weer bid: Ons Vader wat in die hemel is, [ … ] gee ons vandag ons daaglikse brood.

Ons hemelse Vader wéét wat ons nodig het. Hy weet ook wanneer ons teenspoed nodig het. Job van ouds het vir sy vrou gesê: As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie (Job. 2:10)?

Ons hoor die digter van ons Psalm nadink oor die Here wat ons met sy hande beleër; dat Hy ons altyd vashou; dat Hy dit wat ons beleef, beheer. Die digter se reaksie: Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip (Ps. 139:6).

Slot

Woorde ruk ook ons, kinders van die Here. Jou drome kan platval. Jou wêreld kan in duie stort. Vir ons sê die Here in ons teks: Hy beleër ons met sy hande soos wat ‘n vyand eeue terug ‘n stad beleër het.

Soos die vyand, laat Hy ons nooit toe om uit sy greep te kom nie, maar anders as in die geval van die vyand, is dit die hande van ‘n getroue hemelse Vader wat ons vashou en ons bewaar. Soos die vyand kan niks ons tref wat Hy nie toelaat nie. As Hy die teenslae toelaat om ons te tref, skenk Hy die krag en die genade wat ons nodig het om dit te kan hanteer.

Die hande waarmee Hy ons beleër, is dié van ‘n liefdevolle Vader; die hande waarmee Hy sy Seun en toe ook sy Gees gegee het.

Ons het ‘n hemelse Vader. Hy sorg vir ons – oral en altyd. Nooit is ons uit sy greep nie. Alles wat oor ons pad kom, kom deur sy Vaderhand daaroor. Die voorspoed en die teenspoed. Net soveel van elk as wat ek elke dag nodig het.

Ons ervaar voorspoed. Kom ons aanvaar dit dankbaar as gawe uit die hand van ons troue hemelse Vader.

Ons ervaar ook teenspoed. Kom ons dra dit geduldig in die wete dat Hy nie sal toelaat dat ons bo ons kragte beproef word nie; dat Hy ons ook die krag gee om die kruis van teenspoed te dra.

Voor ons is ook ‘n onbekende toekoms. Kom ons tree dit tegemoet in die rustige wete: Ons troue hemelse Vader hou ook ons toekoms in sy hande. Soos wat Hy tot hier toe gesorg het, sal Hy ook in die toekoms sorg – tot op die laaste dag toe.

Al kan ons nie sien hoe nie, Hy beheer elke faset van ons hele lewe. God, ons Vader, voorsien uit sy getroue Vaderhand in alles wat ons, sy kinders, nodig het.

AMEN
Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 09 13) Alles as uit die Vaderhand Ps 139 v5

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *