(2015 09 13 1e) Die Here bepaal ons toekoms Jer 29 v5tot7 en 11 ♪

Wat lê vir ons voor in die toekoms? Het ons jongmense en kinders ‘n toekoms in ons land? Gebeure by die Afrikaanse universiteite laat ‘n mens wonder: gaan onderrig in Afrikaanse op universiteit nog oor tien jaar moontlik wees? Gaan daar nog Afrikaanse skole wees?

Van ons mense begin voel na vreemdelinge in ons land. Massas Suid-Afrikaners woon en werk in die buiteland. Min van ons het nie familielede in die buiteland nie.

Die grootste deel van die volk van God was vreemdelinge in ‘n vreemde land. Jeremia is deur Nebukadnesar se magte agtergelaat. Hy skryf ‘n brief aan sy volksgenote in Babel. Hy skryf: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

Kan ons hierdie belofte van die Here vir onsself toeëien? Die boodskap van ons teks geld ook vir ons en ons kinders: Die Here bepaal ons toekoms. Tog sou die Judeërs nog sewentig jaar lank vreemdelinge bly! Wat moes hulle – en moet ons – doen terwyl ons wag?

Die Here gee spesifieke opdragte wat die Judeërs in die sewentig jaar wagtyd moes doen, opdragte wat ook vir ons geld: (1) Leef voluit in jou omstandighede en (2) Leef in ‘n persoonlike verhouding met die Here.

Leef voluit in jou omstandighede

Die Here gee opdragte wat die Judeërs in die stad Babel moes doen, al was Babel nie hulle eindbestemming nie: Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange Jer 29:5 – 7). ‘n Mens moenie agteroor sit en wag op die vervulling van die Here se belofte van ‘n toekoms nie. Daar waar jy is, moet jy doen wat jou hand vind om te doen:

  • Bou huise … en bewoon dit – dit klink so vanselfsprekend. ‘n Mens het ‘n woonplek nodig. Dus: bou dit. Maar is dit nie vir God se volk selfmoord om in die vreemde, in Babel, die goddelose hoofstad, huise te bou nie? Dit is egter die Here se opdrag. Ons moet sy opdragte uitvoer, al lyk dit nie vir ons so aantreklik nie.

  • Trou en bring kinders in die wêreld – Die huwelik moes tog voltrek word waar die priester die egpaar kon seën. ‘n Troue in ‘n heidense stad was nie net onmoontlik nie, maar goddeloos, so sou die Judeërs kon sê. Die Here gaan egter selfs verder: daar in ballingskap moes hulle hul kinders laat trou, sodat ook hulle kinders in die wêreld kon bring, so sê die profeet.

Daar was goeie rede vir hierdie opdrag: die volk van God se voortbestaan is van die huwelik en gesin afhanklik. Daar sou net Judeërs na sewentig jaar in ballingskap oor wees om terug te keer Juda toe as die volk hierdie opdrag van die Here in Jeremia se brief sou uitvoer. Uiteindelik sou die Messias wat belowe is, uit die stam van Juda kom. Hy moes kom vir die stam Juda, die volk Israel, vir die kerk van die Here vandag. Ter wille van die koms van Jesus Christus moes die Judeërs hierdie opdrag van die Here uitvoer.

  • Lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan – dit was ondenkbaar vir ‘n ware Jood om die vrugte van ‘n tuin te eet waarvan die eerstelinge nie aan die Here gewy was nie. Jeremia sê vir die volk van die Here: Maak tuin en eet die opbrengs daarvan self.

Skakel hierdie opdrag nie die Here uit hul daaglikse werk nie. Sou hierdie opdrag nie ‘n ramp tot gevolg hê nie? Was hulle nie juis in Babel in ballingskap omdat hulle van die Here afvallig geword het nie?

  • Daarop volg die merkwaardige opdrag: Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange (Jer 29:7). Letterlik staan daar: soek die vrede van die stad … bid tot die Here vir die vrede van die stad, want die vrede van die stad is ook jou vrede (Jer 29:7). Bid tot die Here vir Babel – Hoe sou die volk kon bid sonder die tempel, die altaar en die tussenkoms van die priester? As die vuur vir die sonde-offer nie op die altaar brand nie, was vergewing onmoontlik en soek ‘n mens tevergeefs na God, so het die Israeliete gedink. Jeremia se gedagte dat hulle daar in Babel tot die Here moes bid en dan nog vir die heidense stad, was kettery – so sou hulle kon sê.

Jeremia praat van drie geslagte in ballingskap. Geen volwassene in Babel sou Jerusalem weer sien nie. Na sewentig jaar sou elkeen wat na Babel toe weggevoer is, reeds dood wees.

Stel jou dit voor ek en jy hoor: nog 70 jaar van werkloosheid, nog 70 jaar van onsekerheid oor ons werk; nog sewentig jaar van korrupsie; nog 70 jaar van ekonomiese wipplank ry. Dit is ‘n donker vooruitsig, ‘n troostelose boodskap.

Tog is die man aan die woord nie bloot morbied; die bekende skrywer van klaagliedere nie. Dit is nie sy eie oortuigings nie. Dit is nie Jeremia se doodswens vir God se volk nie. Nee, Jeremia sê: So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het … (Jer. 29:4). Dit is die Woord van God wat Jeremia oordra. Dit is die opdragte van die Lewende God; die Here wat oor alles en almal regeer. Dit is die opdragte van dié God wat ‘n ewige verbond met hulle gesluit het; dié God wat vir ewig en altyd hul Vader is.

Die opdrag geld ook vir ons wat nie weet hoe lank ons omstandighede gaan voortduur nie. Die Here se opdrag vandag is: Doen daar waar jy ‘n vreemdeling voel wat jy sou doen waar jy tuis voel. Leef in jou spesifieke omstandighede voluit. Leef waar jy is as kind van die Here.

Leef in ‘n persoonlike verhouding met die Here

Die Judeër se lewe het gedraai om sy diens aan God. Dié plek waar hulle dit regtig kon doen, was die die tempel in die godstad, Jerusalem. Hulle was egter in ballingskap in Babel. Die ballingskap sou wél tot ‘n einde kom. Die Judeërs sou wel terugkeer Jerusalem toe en na die tempel toe. Dit sou egter nie so gou gebeur as wat die vals profete hulle wysgemaak het nie: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jer 29:10, 11), so laat die Here Jeremia skryf.

Die volk se toekoms het Judea en Jerusalem gelê, ja. Op die tydstip toe Jeremia vir die Judeërs skryf, was hulle nog nie terug in Jerusalem nie. Hulle was in Babel. Sewentig jaar van ballingskap het nog asof oneindig voor God se volk uitgestrek. Die Here was selfs daar in beheer van sy volk se toekoms.

Toe Jeremia sy brief aan die ballinge skryf, het die Here God sy volk pas agter die altaar in sy tempel uitgehaal. Hy het hulle uit die hande van die priesters geruk om hulle te leer om Hom waarlik te dien. Die Here God leer hulle self daar in die vreemde wat ware aanbidding is. Hy het hulle geleer om, selfs in die vreemde, in ‘n persoonlike verhouding met Hom te leef.

Deur sy profeet kondig God aan:

  • Elke gelowige is ‘n priester en as priester moet elke gelowige bid.

  • Ware aanbidding is nie afhanklik van die tempel as plek van aanbidding nie. Sy kind aanbid die Here daar waar hy is – selfs in die vreemde, selfs in ballingskap. In Jeremia se brief hoor ons al vaagweg die klanke van Jesus se woorde aan die Samaritaanse vrou: daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen (Joh 4:23). Ons moet die Here in gees en waarheid aanbid.

  • Die opdrag van die Here aan sy volk in die heidenstad, Babel, is: Bid tot My vir daardie stad. Dit is die stad waar hulle in ballingskap leef, die stad waarin hulle verneder word, die stad waarin hulle slawediens doen. Hulle moes bid vir diegene wat hulle vervolg; vir hulle onderdrukkers. Hier klink Christus se onderrig in sy bergpreek deur: Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: [ … ] bid vir die wat julle beledig en julle vervolg (Matt. 5:43-44). In ‘n tyd toe gelowiges onderdane van goddelose regeerders was, het die apostel geskryf: Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid (1 Tim 2:1, 2). Ons roeping is om vandag te bid vir die owerheid van ons land.

Soms sê mense die Ou Testament is totaal anders as die Nuwe. Hier sien ons dat dit eenvoudig nie waar is nie. Selfs die leringe van Jesus aan sy dissipels klink eeue tevore al op in die woorde van Jeremia. Waarom só? Eenvoudig omdat God altyd dieselfde bly.

Die God wat sy verbond met Abraham en sy nageslag gesluit het en vir ewig getrou aan sy verbond bly, was in Jeremia se tyd met sy volk en ook die ander volkere besig. Hy het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê (Joh 3:16). Jesus het aan die kruis uitgeroep: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie! (Luk 23:34). Hy het ons geleer: … bid vir die wat julle beledig en julle vervolg. Hy het dit in die Bergrede gesê; eeue voor dit het Hy dit al aan die ballinge in Babel gesê.

Hierdie opdrag beteken dus eintlik: dra ook die groot wêreld vol goddelose mense met jou biddende hande tot voor die troon van genade, sodat julle vrede kan hê; vrede deur die bloed van die kruis. Die gebed waartoe Jeremia God se volk hier oproep, is die gebed dat ook Babel sal deel in die verlossing van Christus. Dit is die gebed dat die Here sy kerk sal bewaar (Juda) en vermeerder (Babel).

Jeremia sê wél: bid vir die stad; bid vir Babel. Tog het hy heel eerste gesê: bou huise, trou, kry kinders, bewerk julle tuine en landerye; eet van die vrugte daarvan. Ware godsdiens is nie tot Sondag beperk nie, maar hoort juis op die gewone werkdag. Die Heilige Gees lei ons om die Here te dien in dit wat ons elke dag doen en laat. Die bou van huise, die bewerking van die akkers en die opvoeding van die kinders in die Here is die fondamente waarop die kerk en die nuwe Jerusalem gebou word.

Slot

Wat lê vir ons voor in die toekoms? Het ons jongmense en kinders ‘n toekoms in ons land?

Selfs as ons soos vreemdelinge voel, moet ons voortgaan om te doen wat ons sou doen waar ons tuis is: huise bou; trou en jou kinders laat trou; tuine aanlê en die opbrengs daarvan eet; die belange van die stad bevorder en tot die Here vir die stad bid.

Al voel jy na ‘n vreemdeling moet jy in jou omstandighede as kind van die Here voluit bly leef. Leef onder die leiding van die Heilige Gees is ‘n persoonlike verhouding met die Here God!

Ons moet op Hom bly vertrou – selfs terwyl ons voel soos vreemdelinge. As sy kinders lê ons toekoms in die Here God se hande.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 09 13) Die Here bepaal ons toekoms Jer 29 v5tot7 en 11

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *