(2015 09 06 2e) Aan God alleen die eer Rom 11 v33tot36 ♪

Vandag het gelowiges soos seker nog nooit nie, ‘n wye keuse:

  • kerke en geloofsgroepe

  • tradisionele kerkgeboue, luukse ouditoriums en tente

  • style van aanbidding van tradisioneel en formeel aan die een kant tot heeltemal alternatief aan die ander kant – en alle moontlikhede tussenin

  • sang met ‘n orrel, met ‘n “band” met professionele sangers wat oor uitstekende klankstelsels basuin, of met ‘n “backtrack” wat elektronies musiek produseer.

Waar pas ons as Gereformeerde gelowiges in? Waarin is ons uniek? Wat is ons nis (ons spesifieke plek) in die geloofsprentjie. Die antwoord hierop is in die aanddienste van hierdie kwartaal in fokus.

Ons het begin met die basis waarvandaan die paaie uitmekaar gaan: sonde en sondeskuld is ‘n doodernstige saak. Die daaropvolgende weke het ons stilgestaan by 4 “alleen”-stellings: ons word uit genade alleen, deur die geloof alleen, op grond van Christus se verdienste alleen verlos. Die Skrif alleen is die grond vir wat ons glo en doen. Vanaand sluit ons af met die vyfde “alleen”: aan God alleen die eer.

Ook hier is die basis waarvandaan die geloofspaaie uiteengaan – die erns van sonde en sondeskuld – die groot rede waarom ons sê: aan God alleen die eer. Ons teks fokus op die Here en op wat Hy met sondaars doen. Ons kyk na die Here se handelinge met die sondaar aan die hand van drie pare woorde wat na teenstellings lyk: Die Here is vry om te doen wat Hy wil, maar Hy is getrou; Hy is genadig en regverdig; Hy bewerk ons verlossing en bevorder sy eer.

  1. Die Here is vry om te doen wat Hy wil, maar Hy is getrou

Die apostel roep uit: Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? (Rom 11:33, 34). Kortom: die Here doen wat Hy wil, met wie Hy wil, wanneer Hy wil en soos Hy wil.

Niemand sou ‘n pottebakker kwalik neem as hy besluit om uit een stuk klei ‘n kunswerk te maak en uit die ander ‘n alledaagse gebruiksartikel nie. Dit is sy voorreg as skepper uit klei om daardie klei met sy hande te vorm soos wat hy wil.

Net só die Skepper van die hemel en die aarde. Hy kan met sy skepping doen net wat Hy wil. Dit is sy reg as Skepper van die heelal. Dit is sy reg om ook met die mens te doen net wat Hy wil.

Beteken dit dat ons nie seker kan wees wat om van God te verwag nie? Beteken dit dat ‘n mens een dag kind van God kan wees en die volgende dag in die hel kan beland?

Nee, glad nie! As ons sê dat God vry is om te doen wat Hy wil, beteken dit nie dat Hy wispelturig is nie! Ons wéét waar ons met Hom staan. Hy tree altyd in trou op. Ons lees: As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie (Rom 11:29).

Iemand sou kon vra: wat dan van ou Israel? Het die Here nie uiteindelik sy genade van hulle onttrek nie; het Hy nie finaal sy verbond met hulle beëindig nie? Hierop is die antwoord: Nee! Die Here bly getrou aan sy volk. Hoewel die groot gros van ou Israel in ontrou verval het, het Hy in sy genade gesorg dat ‘n oorblyfsel van sy volk Hom getrou bly dien; dat hulle in die ware geloof volhard. Rom 9 – 11 hou juis die Here se trou – ten spyte van sy volk se ontrou – aan ons voor. Hier bevestig Hy wat Hy ook vir Elia gesê het: 7000 het nie die knie voor Baäl gebuig nie. Hy sou hulle laat oorbly (1 Kon 20:18).

Die Here se trou staan soos ‘n paal bo water.

Ook ons moet wéét: Die Here wat doen wat Hy wil, wil getrou wees in alles wat Hy met ons doen. In wat die Here doen, is Hy altyd vry, maar ook getrou.

  1. Die Here is genadig en regverdig

Reeds in Rom 11:29 het ons gehoor dat God in sy trou die sondaar genadig is. Sy genadegawes en roeping van die sondaar tot die lewe, trek Hy nooit weer terug nie. In die lofprysing stel die apostel die retoriese vraag: Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? (Rom 11:35).

Die antwoord op hierdie vraag is ongetwyfeld: Niemand nie. Wanneer die Here met ‘n sondaar handel wat Hy tot die lewe uitverkies het, handel Hy uit vrye genade met hom. Hy verlos hom, sonder enige verdienste van sy kant, uit vrye genade alleen.

Tog laat God nie sy geregtigheid links lê nie. Geregtigheid eis dat die sonde tot met die dood gestraf moet word – die ewige dood in die hel.

Die Here handhaaf beide sy vrye genade en sy geregtigheid 100%. Dit bewys Hy deur wat met Jesus Christus gebeur het. Jesus is deur die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, verteenwoordiger van die Romeinse regstelsel, verhoor. Drie maal het Pilatus oor Jesus gesê: Ek vind geen skuld in hom nie (Joh 18:4, 19:4, 6). Tog het Pilatus Jesus daarna ter dood veroordeel. Die Onskuldige het die doodstraf gekry en aan die kruis die volle losprys betaal vir dié sonde waarvoor ek en jy die ewige dood as straf verdien.

Aan die verdienste van Jesus Christus, kry ons deel deur dit te glo; deur te glo dat Hy vir ons sonde die volle losprys betaal het; deur te glo dat Hy die hel van Godverlatenheid beleef het, sodat ons nooit weer van God vervreem kan word nie.

Wat God doen, is in die volle sin van die woord regverdig en genadig.

    1. Die Here bewerk ons verlossing en bevorder sy eer

Dat God sondaars wil verlos, is baie duidelik. Hy sê in sy Woord dat Hy nie die dood van die sondaar begeer nie, maar dat hy hom sal bekeer en lewe (Eseg 18:33).

Om ons as sy kinders te kon aanneem, het die Here God sy Seun gegee. Die skuldbrief van ons sonde is aan sy kruis vasgespyker. Ons kan daarom weet dat niemand ons kan aankla en veroordeel nie, omdat die Regverdige God, die Groot Regter, ons ter wille van sy Seun genadig is (kyk na Rom 8:33, 34). Ja, ons staan met die reg van sy Seun voor God!

Die vraag aan elkeen van ons is nou: Waarom bewerk die Almagtige en Regverdige God ons volkome verlossing uit die sonde? Waarom ruk Hy ons soos ‘n stomp hout uit die vuur van sy oordeel? Waarom openbaar Hy die werklikheid van sy verlossende genade in sy Woord? Waarom bevestig Hy dit ook in die sakramente?

Daar is maar één antwoord op hierdie vraag! God verlos sondaars wat die ewige straf verdien uit hulle sonde, om op daardie wyse sy Naam te verheerlik. Ja, dit is tot eer van God dat sondaars soos ek en jy uit ons sonde verlos is. Dit is tot eer van God dat ons wat vyande van God was, nou sy kinders is.

Ons moenie een oomblik dink ons kan onsself op die skouer klop en met ons vroomheid, ons geestelike prestasies, of ons groot geloof spog nie. Dit alles is eintlik niks nie. Ons verlossing is te danke aan God die Vader se uitverkiesende genade; aan God die Seun se lyding en kruisdood in ons plek; aan God die Heilige Gees se werk in ons binneste wat lewe bring; aan sy toerusting dat ons dankbaar as verloste sondaars – tot eer van die Here – kan leef.

Vir my verlossing as sondaar kan ek maar EEN dank: die lewende God. Hy en Hy Alleen het dit gedoen. Hy het dit gedoen tot die eer van sy Naam. Hy wil dan ook hê dat ek sy lof moet besing vir sy groot verlossingsdade

Slot

Waar pas ons as Gereformeerde gelowiges in die groot prentjie van geloofsgemeenskappe in? Waarin is ons uniek? Wat is ons nis, ons spesifieke plek, in die groot geloofsprentjie?

Ons het begin met die basis waarvandaan die paaie tussen geloofsgemeenskappe uitmekaar gaan, deurdat ons sê: sonde en sondeskuld is vir ons ‘n doodernstige saak.

Ons het vervolgens by die vyf “alleen”-stellings stilgestaan: Die Skrif alleen is die grond vir wat ons glo en doen. Ons erken dat ons uit genade alleen, deur die geloof alleen, op grond van Christus se verdienste alleen verlos is. Vir ons verlossing uit die sonde moet God alleen die eer kry.

Ons het vanaand stilgestaan by die laaste van die vyf. Ons het gesien: Die Here is vry om te doen wat Hy wil, maar tog wil Hy altyd getrou bly; Hy is sondaars genadig en Hy bly regverdig; Hy bewerk ons verlossing en bevorder deur ons verlossing sy eer. Saam met die apostel Paulus kan ook ons vanaand met groot dankbaarheid uitroep: Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 09 06) Aan God alleen die eer Rom 11 v33tot36

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *