(2015 08 23 2e) Ons geloof en ons verhouding met God Gen 15 v6 ♪

Verhoudings ontstaan op verskillende maniere. ‘n Kind word gebore as deel van ‘n gesin met verskillende verhoudings. Twee mense besluit om hulleself lewenslank aan mekaar te verbind. Die knoop van die verhouding word met die huweliksluiting voltrek.

Die meeste van ons het grootgeword in ‘n gesin wat al geslagte lank in ‘n verhouding met die Here God leef. Die Here neem die inisiatief in ons verhouding met Hom. Hy het dit met Abram gedoen. Hy het verskillende beloftes aan Abram (en sy nageslag) gemaak.

Tog was Abram nie passief aan die ontvangkant in daardie verhouding nie. Volgens ons teks het hy in die Here geglo. Die Here het hom dit tot geregtigheid gereken.

Die Here het Hom op grond van Christus se verdienste aan ons verbind. Ons glo dit, omdat Hy dit vir ons sê; ons glo in wat Christus vir ons gedoen het. Daardie geloof moet ook vrugte in ons lewe dra.

Die Here verbind Hom in genade aan ons

Hy het die hemel en die aarde uit niks geskep. Hy sorg nog altyd vir sy hele skepping en regeer ook oor alles en almal. Hy is die Here van die here en die Koning van die konings.

As Hy iets doen, het niemand enigiets daaroor te sê nie. Hy kan doen wat Hy wil.

Die Here het van Abram verwag om sy land en sy mense te verlaat en te trek na ‘n land wat die Here sou aanwys (Gen 12:1). Toe al het Hy beloof dat Hy hom ‘n groot nasie sou maak en dat al die volke van die aarde in hom geseën sou wees (Gen 12:2, 3).

Die Here het by Abram betrokke geraak; Hom in ‘n verhouding aan Abram verbind. Ons noem hierdie verhouding sy genadeverbond. Die groot belofte van die verbond word saamgevat in die Here se latere woorde aan Abram: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag (Gen 17:7).

Onthou Abram was al 75 toe hulle hulle geboorteland verlaat het. Sarai was al verby die tyd waarop ‘n vrou ‘n kind in die wêreld kan bring. ‘n Hele paar jaar het al verloop en hy en Sarai was steeds kinderloos. Hy het ontnugter gevoel omdat God se beloftes nie in vervulling gegaan het nie. Hy het rede gehad om te kla! Toe die Here in Gen 15 in ‘n gesig met Abram praat, hét hy ook gekla.

Die Here reageer toe op die klagte. Hy het Abram verseker dat sy eie seun sy erfgenaam sou wees (Gen 15:4). Hy het hom selfs buitentoe geneem, hom die naghemel, met ontelbare sterre gewys en gesê: So baie sal jou nageslag wees (Gen 15:5). Hierdie belofte van die Here kon nie in die lug bly hang nie. Abram moes daarop reageer.

Glo in die Here

Abram het toe in die Here geglo … (Gen 15:6a). Die vraag is: wat het Abram geglo? Ons teks volg direk op God se belofte dat Abram se nageslag so baie soos die stere aan die hemel sou wees. Het hy hierdie spesifieke belofte van die Here geglo? Iemand (Calvijn) se kommentaar is: Abram se geloof was nie beperk tot net een klousule van God se belofte nie. Abram se geloof omvat alles wat die Here met hom gedoen en aan hom beloof het.

Die woord wat in Gen 15:6 vertaal is met geglo, hou verband met die woord amen. Letterlik staan daar dat Abram op God se woorde aan hom sê: amen! Ons bely dat amen dui op vastigheid, sekerheid en vertroue. Iemand gee hierdie woorde weer as: Abram was vol vertroue in die Here …

Die Here verwag van ons om in Hom te glo. Op wat Hy in sy Woord aan ons sê, moet ons hard en duidelik sê: Amen! Die Here verwag ‘n amen van ons wat baie ryker in betekenis en meer spesifiek is as Abram s’n. Ons moet beaam wat Hy in en deur Jesus Christus aan ons bekend gemaak het: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16); Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie (Joh 3:18, vgl ook :36). Elders lees ons: As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon (Heb 11:6).

Hoe moet die geloof lyk wat vir die Here aanvaarbaar is, geloof waarmee Hy tevrede sou wees?

Ons het reeds gesien Abram was teleurgesteld en selfs ontnugter toe hy en Sarai ‘n hele paar jaar na die Here se belofte aan hulle nog steeds kinderloos was. In Gen 16 lees ons hoe hy en Sarai ‘n plan maak om God te help om sy belofte na te kom. Sy geloof was ver van volmaak af. Dit was alles behalwe sterk. Abram se geloof het maar gewankel.

Tog het hy hom weer en weer verlaat op wat die Here vir hom gesê het. Hy het iets besonders gedoen. God het ‘n belofte aan hom gemaak. Iemand (van Selms) sê in rekeningkundige terme plaas ‘n mens gewoonlik God se belofte aan die debietkant. Hy moet dit betaal. Hy moet sy belofte vervul. Jy kyk wanneer dit gaan gebeur. Abram was anders. Hy het God se belofte aan die kredietkant opgeskryf. Dit was so goed asof God al sy belofte vervul het. Hy het sy vertroue gevestig op God se goedheid.

Iemand (Vonk) sê dat ‘n mens die sinsnede kon vertaal met: hy was daaraan gewoond om die Here te glo. Dit was sy gewoonte om die Here wat met hom praat, te vertrou. Abram was op die pad van die geloof. Op daardie pad het hy weer en weer gestruikel. Op die ou end het hy egter altyd op die pad gebly.

Die vraag aan jou en my is: hoe lyk jou geloof? Is dit baie maal maar klein? Struikel jy baie keer? Bly jy ten spyte daarvan tog op die pad van die geloof? Volhard jy in die geloof?

Hoe die Here na ons geloof kyk

Hoe kyk die Here na sy kind wie se geloof tekortskiet? Die antwoord kom: … Hy het hom dit tot geregtigheid gereken (Gen 15:6b; 1953-vert.). Die begrip gereken word ook elders gebruik. Toe die volk die beloofde land in besit geneem het, het die stam Levi nie, soos die ander 11, hulle eie grondgebied gekry nie. Hulle roeping was om godsdienstige pligte te vervul. Elke Israeliet uit die ander 11 stamme moes ‘n tiende van sy oes tempel toe bring. Daardie tiendes was vir die Leviete se gebruik bedoel. Die Here gee opdrag dat die Leviete uit die tiendes van die volk ‘n tiende as offer moes afstaan. Oor daardie tiende van die tiende sê die Here: En julle offergawe sal vir julle gereken word soos koring van die dorsvloer af en soos die volle opbrings uit die parskuip (Num 18:26, 27, 1953-vert). Al het die Leviet se tiende nie soos sy volksgenoot s’n van die dorsvloer af gekom nie, was dit in God se oë net so goed asof dit van die dorsvloer gekom het.

Die Here het Abram se geloof vir hom tot geregtigheid gereken. Abram was so deel van diegene wat regverdig voor God staan. Net so min as wat die Leviet se koring van die dorsvloer af gekom het, net so min was Abram ‘n regverdige, net so min was sy geloof groot genoeg. Tog het God sy geloof tot geregtigheid gereken.

Ons sien dieselfde ook met Dawid gebeur, hoewel in ‘n ander sin. Dawid het God se gebooie oortree. Tog het sy hele lewenskoers ooreengestem met die eise van God se wet. Sy gehoorsame en getroue diens aan die Here het deurentyd die maatstaf gebly waaraan elke koning se regering getoets is.

Ek en jy bely dat ons glo. Ook ons geloof wankel baie keer. Soos Abram het ook ons nodig dat die Here ons swak geloof tot geregtigheid reken. Die apostel Paulus haal ons teksvers aan: Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken (Rom 4:3, 9, en 22). Die apostel gaan voort om Abraham die vader te noem van sowel die gelowiges wat besny is (Jode) en ook van die wat nie besny is nie (die nie-Jode, Rom 4:11, 12; vgl Gal 3:6).

Hierdie geloof hang nie in die lug nie, dit kom grond toe. Die geloof kom na vore in dade van gehoorsaamheid. Daarop plaas Jakobus weer die klem wanneer hy die stelling maak dat Abraham bereid was om Isak te offer en deur wat hy gedoen het, regverdig gemaak is (Jak 2:23). As Skrifgrond haal hy Gen 15:6 aan. Die ware geloof dra vrug in ons lewe; word dade van gehoorsaamheid.

Slot

Die meeste van ons het grootgeword in ‘n gesin wat al geslagte lank in ‘n verhouding met die Here God leef. Die Here neem die inisiatief in ons verhouding met Hom. Hy het dit met Abram gedoen. Hy het verskillende beloftes aan Abram (en sy nageslag) gemaak.

Tog was Abram nie passief aan die ontvangkant in daardie verhouding nie. Volgens ons teks het hy in die Here geglo en die Here het hom dit tot geregtigheid gereken.

Die Here het Hom op grond van Christus se verdienste aan ons verbind. Ons glo dit, omdat God dit vir ons sê; ons glo in wat Christus vir ons gedoen het. Daardie geloof moet ook vrugte in ons lewe dra. Ons moet onder leiding van die Heilige Gees in verbondenheid met die Here leef. Al sou ons struikel, moet ons koers hou op die pad van geloof en gehoorsaamheid.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 08 23) Ons geloof en ons verhouding met God Gen 15 v6

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *