(2015 07 26 2e) Die sonde dring deur tot in die wortel – tog versoen Rom 5 v6tot11 ♪

Inleiding

Wat maak die Gereformeerde geloof en belydenis anders as baie ander s’n? Die antwoord hierop is in die aanddienste van hierdie kwartaal in fokus.

Vanaand kom ons by die basis waarvandaan die geloofspaaie uiteengaan. Dit gaan om dit wat ons oor sonde en sonde-skuld sê. Sonde en sondeskuld is ‘n doodernstige saak.

Ander Christelike groepe dink totaal anders oor die erns van sonde en sondeskuld. Die mense van ons tyd kyk ons wat daaroor praat aan asof ons van ‘n vreemde planeet af kom. Elkeen wil self besluit wat reg en verkeerd is, wat aanvaarbaar is en wat nie. Enige gedagte aan sonde en sondeskuld druis teen die heersende tydsgees in.

Ons Gereformeerde belydenis is ‘n sistematiese opsomming van die boodskap van die Bybel. Ons toets wat ons bely aan die Bybel en bly dit toets. Ons oortuiging is dat die Bybel duidelik sê dat die sonde deurdring tot in die wortel van elke mens se bestaan en ook die wêreld waarin ons leef.

Tog is die boodskap van die Bybel dat Jesus Christus hierdie sonde en -skuld op Hom geneem en die losprys daarvoor aan die kruis betaal het. Ons is daarom vry van die sonde en, danksy Christus, sonder skuld.

Vandaar ons tema: Die sonde dring deur tot in die wortel – tog versoen. Ons let eers op die sonde wat tot die wortel toe deurdring en daarna op die werklikheid dat God ons deur Christus met Hom versoen het.

Die sonde dring tot in die wortel

Die omvang en diepte van ons sonde kom in twee verse aan die lig: Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe (Rom. 5:6). Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8). Drie woorde kwalifiseer ons vir wie Hy gesterf het: ons was magteloos, goddeloses, sondaars. Ons gaan op die betekenis van hierdie woorde in in die konteks waarin hulle staan.

  • Swak (1953) / magteloos (1983) Die swakheid en afhanklikheid van die baba roer veral die moederhart. Vroue vertroetel graag ‘n baba. Ons is nie soos ’n baba voor God nie. Die begrip swak / magteloos het die teenoorgestelde betekenis. Ons is nie in staat om iets te doen wat die liefde van God gaande kan maak; dit kan ontlok nie. Vanweë ons sonde verkeer ons in ‘n hulpelose en reddelose toestand. Sonder die genade wat God in Christus aan ’n mens betoon, het geen mens enige hoop nie.

  • Goddeloses – dit is ’n stap verder van God af as bloot swakheid of magteloosheid. Goddeloses weier om te erken dat die Here God is. Hulle verset hulle teen Hom. Hulle leef in doelbewuste en openlike vyandskap teen Hom. In Rom 5:10 word spesifiek genoem dat ons vyande van God was. God roep sy vyande, die goddelose uiteindelik tot verantwoording en meet hulle verdiende straf vir hulle uit. Die mens wat aan God verbonde is, mag nie gemeenskap met die goddelose beoefen nie, mag nie in een juk met hom saamtrek nie. Dawid spreek die versugting uit dat God die Goddelose uit die weg sal ruim (Ps 139:19). Hy beskou hulle ook as sy vyande wat hy met ‘n uiterste haat haat (Ps 139:22).

  • Sondaars – dit dui op mense wat hul doel mis; mense wat glad nie bykom by dit wat God se goedkeuring wegdra nie. Die sondaar is geensins ‘n slagoffer van sy omstandighede nie. Sonde is nie iets wat ek doen nie. My sonde en sondigheid raak die diepste van my wese. Ek is ten volle sondaar.

  1. Soms sê mense vir iemand wat verkeerd bly leef: Ruk jou reg, dan kan God jou aanvaar en sy deel doen om jou verlossing te verseker.

Ons teks teken ons as mense wat nie die vermoë het om onsself reg te ruk nie. Ons het nie eens die vermoë om ons te bekeer om ons so vir God aanvaarbaar te maak nie. Daar is geen greintjie van enige kwaliteit in ons wat God daartoe kan noop om Hom positief teenoor ons in te stel nie. Die sonde en sondigheid het deurgedring tot die wortel van ons bestaan. Dit bepaal wat ons doen, sê en dink. In ons diepste wese is ons magteloos, goddeloos, sondaars.

Dit laat ons teks duidelik blyk. Tog is dit nie die hoofsaak wat die Here in ons teksgedeelte aan ons oordra nie. Dit is selfs nie die hoofgedagte van die twee verse waarin hierdie drie woorde voorkom wat ons ontmasker nie.]

God het ons deur Christus met Hom versoen

Die hoofgedagte in die twee verse is: Christus het vir ons gesterf. Dit staan twee keer opgeteken in hierdie twee verse. Die eerste daarvan lui: Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe (Rom. 5:6)

Christus het op die bestemde tyd vir ons sondes gesterf. Selfs die tyd van sy dood het God eensydig en vrymagtig in sy genade bepaal. Een ding staan vas: God het alleen en in sy oneindige genade en ontferming alles gedoen om ons uit ons sonde te verlos; om vrede tussen ons en Hom te bewerk, om ons sy kinders te maak. God en hy alleen bewerk ons verlossing deur Jesus Christus se kruisdood.Christus dra nie net die gevolge van ons sonde nie, maar Hy word self as skuldige gereken, Hy word een stuk sonde – soveel so dat Hy ly en aan die kruis sterf. Die apostel spel dit uit: God het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom (2 Kor. 5:21). En ook: Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is” (Gal. 3:13). In die woorde van ons teks: ‘n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ‘n regverdige nie. Ja tog, vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom 5:7, 8). Ons wat magteloos, goddeloos en sondaars was, is volkome verlos deur Christus se dood aan die kruis. In sy liefde het God ons uit ons sonde verlos; het Hy ons sondeskuld uitgewis, deurdat Jesus Christus vir ons gesterf het.

God se liefde en genade wat uitgeloop het op die dood van sy Seun is die enigste grond vir die verlossing van die sondaar ek en die sondaar jy.

Danksy Christus se kruisdood in jou en my plek, is daar nou ‘n nuwe verhouding tussen ons en God. God het Hom deur Christus met ons versoen (Rom 5:10). Daarmee word aangedui dat die gebroke verhouding tussen twee partye herstel is. Paulus gebruik die woord versoen in Rom 5:10 teenoor vyandskap en vervreemding tussen die sondaar en God. In Rom 5:1 kry dit die positiewe betekenis van vrede – in Bybelse sin beteken dit dat alles reggestel en in volkome harmonie tussen ons en God is.

 

Behalwe dat God in sy liefde sy Seun vir ons laat sterf het, het hy ook sy Gees gegee om in ons te woon en te werk. Hy bewerk dié liefde wat God vir ons het, ook as vrug in ons eie harte. Dat ons die liefde as vrug van die Gees se werk ontvang het, stel ons gerus, ons toekoms is veilig in die hande van ons getroue hemelse Vader.

 

Twee maal gebruik die apostel die woorde: veel meer (1953) / dit staan soveel vaster (1983). Daarmee sê hy in die Naam van die Here vir ons: Dit wat God in en deur Christus reeds vir ons gedoen het, veel groter is as dit wat Hy nog met ons moet doen. Dat Christus sy lewe vir ons gegee het, is die grootste, die belangrikste in God se genadewerk in ons lewe.

 

Wees verseker: Die Here voer sy genadewerk enduit deur (vgl Rom 8:29, 30). Dit het begin met Christus se dood. Hy voer dit deur tot op die dag dat Christus weer kom, dié dag waarop Hy die goddelose in toorn sal straf. Op daardie dag tel ek en jy nie onder die goddelose wat voorwerp van God se toorn sal wees nie – Christus het ons immers uit ons goddeloosheid bevry. Ons staan dan as kinders van ons hemelse Vader voor die regterstoel.

 

Daarop reageer ek en jy noodwendig. Die apostel verwoord dit só: Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het (Rom. 5:11). Ons wag nie in vrees en bewing op die wederkoms nie. Ons is nie onseker oor die uitspraak wat dan gelewer sal word nie. Nee, Hy wat Homself aan die kruis vir ons sonde geoffer het, sal ons op daardie dag oordeel. Hy weet Hy het daar aan die vloekhout God se toorn oor my en jou sonde gedra.

 

Ek en jy kan dus sonder vrees, ja, met harte vol vreugde wag op Christus se wederkoms. God het immers in sy genade alles gedoen om ons sy kinders te maak. Hy voer sy genadewerk enduit deur. Ons sekerheid is gebou op Hom wat ons liefhet en altyd getrou bly. Vir hierdie versekering en sekerheid moet ons die Here loof en eer.

 

Slot

Die Here teken in sy Woord ons sonde en sondeskuld in die volle radikaliteit daarvan. Ons sonde en sondigheid dring deur tot in ons diepste wese. Tog vryf die Here nie in sy Woord ons neuse in die erns van ons sonde en die omvang van ons skuld nie.

Wanneer die Here ons wys op die radikaliteit van ons sonde, doen Hy dit sodat ons die boodskap in die geloof kan toeëien: deur sy Seun het Hy finaal met die sonde afgereken. Christus het met sy lewe geboet om versoening te doen vir ons sonde. Ons behoort daarom nou en vir ewig aan God. Daarvoor moet ons God die lof en die eer gee.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 07 26) Sonde dring deur tot in die wortel – tog versoen Rom 5- v6tot11

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *