(2015 07 05 2e) Die risiko van die dienaar van die Here Jer 25 v12

Wie kwalifiseer daarvoor om ‘n dienaar van die Here te wees? Is ‘n dienaar van die Here se lewe een van ongekende voorspoed en seën, of is daar enige risiko aan verbonde?

Wat van die owerheid? Opmerklik dat Paulus aan die gemeente in die setel van die heidense Romeinse Ryk skryf dat die owerheid dienaar van God tot ons beswil is (Rom 13:4).  In Jer 25:8 praat die Here van my dienaar koning Nebukadnesar van Babel. As dienaar van die Here het hy die opdrag om die volk van God te straf omdat hulle nie geluister het na wat die Here sê nie. Die Here besluit hy is sy dienaar, hy is die roede waarmee God sy halsstarrige volk tugtig. Die volk van die Here sou die Galdeërs (Babiloniërs) sewentig jaar lank dien (Jer 25:8 – 11).

Heel skokkend lui ons teks: Maar wanneer die sewentig jaar om is, sal Ek die koning van Babel en daardie nasie in Galdeërland straf vir al hulle sondes, sê die Here (Jer 25:12). Duidelik moet die dienaar van die Here, die instrument (selfs die roede) in sy hand, die Here se opdrag noulettend uitvoer. Hy moet bly binne die perke wat wat Here aan hom stel. Nebukadnesar het nie God se heerskappy erken nie, hom nie gehou aan die perke wat die Here aan hom gestel het nie.

In finale instansie weet ons: God regeer deur sy verheerlikte Seun oor alles en almal. Voor Hom sal elke knie buig (Fil 2:10). Intussen moet almal – selfs diegene wat nie tans Christus se regering erken nie – weet dat hulle aan God en aan Christus verantwoordelik is vir wat hulle doen en laat. Die Galdeërs het die alternatief beleef: die lewende God het hulle gestraf. Ons tema vanaand is: Die risiko van die dienaar van die Here. Ons kyk afsonderlik na die dienaar van die Here en daarna na die risiko daaraan verbonde om dienaar te wees.

Dienaar van die Here

Die woord, dienaar, kom twee keer voor in ons gelese gedeelte. In :4 verwys dit na die profete as dienaars van die Here, terwyl die Here Nebukadnesar in :9 noem: my dienaar. Die  woord kan ook vertaal word met die woord slaaf. In die woord dienaar / slaaf is ‘n duidelik gedefinieerde verhouding opgesluit: die Here is die eienaar, die baas, die opdraggewer, oorgeskikte; die dienaar / slaaf is die ondergeskikte, die een wat die opdrag moet uitvoer.

Dit kom duidelik na vore tydens Jeremia se roeping as profeet. Die Here het vir hom gesê:     Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red (Jer 1:7, 8). Die Here stuur sy profeet na spesifieke plekke / mense toe. Hy gee die inhoud wat meegedeel moet word.

Watter versekering gee die Here nie: Hy is by sy geroepe dienaar. Daarom het sy dienaar niks te vrees nie. Ook Esegiël het gehoor dat hy nie bang vir mense hoef te wees nie.

Christus is by uitstek Dienaar van die Here (Jes 42:1 – 9, vgl :7 met Matt11:5). Hy het sy opdrag volledig uitgevoer. Hy het die losprys vir ons sonde aan die kruis betaal.

In Jer 25:8 praat die Here van my dienaar koning Nebukadnesar van Babel. As dienaar van die Here het hy die opdrag om die volk van God te straf omdat hulle nie geluister het na wat die Here sê nie. Die volk van die Here sou die Galdeërs (Babiloniërs) sewentig jaar lank dien (Jer 25:8 – 11).  Opmerklik: Nebukadnesar het geen keuse nie. Die Here besluit hy is sy dienaar, die roede waarmee God sy halsstarrige volk tugtig.

Dit kan die vraag ontlok: Wat van die owerheid? Ons lees dat die owerheid dienaar van God tot ons beswil is (Rom 13:4). Opmerklik dat Paulus dit skryf aan die gemeente in die setel van die heidense Romeinse owerheid. Ook die owerheid hier te lande is dienaar van God.

Kyk ‘n mens na alles wat die owerheid hier by ons doen en ook laat, kan jy wonder oor wat dit beteken om dienaar van die Here te wees.

Kan die dienaar van die Here doen net wat hy wil? Is ‘n dienaar van die Here se lewe een van ongekende voorspoed en seën en klaar? Is daar enige sprake van verantwoording wat die dienaar aan die Here verskuldig is? Is daar enige risiko daaraan verbonde dat iemand of ‘n instelling dienaar van die Here is?

Die risiko verbonde daaraan om dienaar van die Here te wees

Die Here het Esegiël gewaarsku dat, sou hy nie die goddelose of iemand wat goddeloos optree in opdrag van die Here waarsku nie, die Here van hom rekenskap sou eis vir so iemand se dood (Eseg 3:18, 20). Die profeet het dus beslis ‘n risiko geloop, sou hy nie die opdrag van die Here noulettend uitvoer nie.

Jeremia het sy roeping getrou vervul – die Here se Woord onvervals oorgedra. Hy het egter allermins ongekende voorspoed en seën ervaar. Jeremia het al sy geboortedag vervloek omdat hy net pyn, ellende en vernedering beleef het (Jer 20:18). Ons lees in die hoofstuk wat op ons teks volg:          Toe Jeremia klaar vir die volk alles gesê het wat die Here hom beveel het om vir hulle te sê, het die priesters en die profete en die hele volk hom gepak en gesê: “Jy moet beslis sterf (Jer 26:8)! Hy was as verraaier gebrandmerk en daarom ingeperk in die binneplaas van die paleiswag (Jer 32:2) en selfs in ‘n put laat sak (Jer 38:6).

In Jer 25:15 lees ons Jeremia het opdrag gekry om die nasies na wie toe die Here hom stuur, die beker gevul met God se toorn te laat drink. Te midde van al die nasies wat Jeremia noem, staan Jerusalem en die stede van Juda heel eerste (Jer 25:18). Wanneer ons hoor van die beker van God se toorn, dink ons onwillekeurig aan Jesus in die Tuin van Getsemane: as Dienaar van die Here moes Christus die beker van God se toorn oor al die sonde van al die mense oor die hele span van die tyd heen dra. Die gedagte daaraan het Hom, die heilige Seun van God letterlik bloed laat sweet. Dit was allermins voorspoed en seën.

In elk van hierdie gevalle was dit mense wat in ‘n verbondsverhouding met die Here God gestaan het: Jeremia en Esegiël was daartoe geroepe om God se Woord te verkondig; Jesus Christus is die Seun van God wat mens geword het juis om te ly en te sterf om so versoening vir al ons sondes te doen.

Wat van ‘n ongelowige wat dienaar van die Here is? Wat van Nebukadnesar wat instrument in die Here se hand was om sy ontroue volk te tugtig? Sou hy verantwoording aan die Here moes doen vir die wyse waarop hy sy taak verrig?

Die antwoord vind ons in ons teks en die daaropvolgende verse: Maar wanneer die sewentig jaar om is, sal Ek die koning van Babel en daardie nasie in Galdeërland straf vir al hulle sondes, sê die Here. Ek sal hulle land vir altyd verwoes laat lê. Dan sal Ek alles wat Ek teen daardie land gesê het, alles wat in hierdie boek opgeteken staan en wat Jeremia as profeet teen daardie nasies aangekondig het, oor daardie land bring. Daardie nasies sal die onderdane word van baie nasies en van sterk konings (Jer 25:12 – 14a). Duidelik word die bordjies verhang. Weliswaar eers na sewentig jaar, maar onmiskenbaar so. Die roede in die hand van die Here om sy ontroue volk te tugtig, word self deur die Here se roede getref. Hulle wat die land van God se ontroue volk verwoes het, sal beleef dat hulle land verwoes word.

Waarom word die bordjies verhang? Waarom word die roede in die Here se hand na 70 jaar self  deur die Here se roede getref?

Die antwoord gee die Here deur sy profeet.

  • Die Here sou hulle sondes straf (Jer 25:12), so sê Jeremia in opdrag van die Here. Duidelik moet die dienaar van die Here, die instrument (selfs die roede) in sy hand, die Here se opdrag noulettend uitvoer. Hy moet bly binne die perke wat die Here aan hom stel. Nebukadnesar en sy mense het nie God se heerskappy erken nie, hulle nie gehou aan die perke wat die Here aan hulle gestel het nie. Hulle het onreg gedoen. Daarvoor laat die Here hulle verantwoording doen.
  • Ek sal hulle straf ooreenkomstig hulle dade en ooreenkomstig die afgodsbeelde wat hulle gemaak het (Jer 25:12 – 14b).       Letterlik is hier net sprake van die werke van hulle hande. Afgodsbeelde is destyds deur mense gemaak. Al was Nebukadnesar instrument in die Here se hande, wou hy nie die Here as enigste God erken en dien nie. Vir sy afgodediens en grootheidswaan sou die Here hom verantwoordelik hou. Hy sou hom en sy mense daarvoor gestraf. Die Here noem die Persiese koning Kores selfs sy gesalfde (Messias, Multivertalingbybel). Kores hoor die woord van die Here: Ter wille van my dienaar Jakob, van Israel wat Ek uitverkies het, het Ek jou op jou naam geroep, gee Ek jou ‘n eretitel hoewel jy My nie ken nie (Jes 45:4). Inderdaad: Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God (Rom 13:1). Die Galdeërs, roede in die Here se hand teen sy ontroue volk, het ervaar dat die situasie heeltemal omgekeer het, omdat hulle God se perke oorskry het. Hulle is getref deur die mag van Kores, roede in die Here se hand om die hulle oor hulle onreg en sondes te straf. Slot     Ons het gesien: Wie dienaar van die Here is, loop wél ‘n risiko.Die Here het selfs die goddelose koning Nebukadnesar sy dienaar genoem deur wie Hy sy volk oor hulle sondes getugtig het. Hy het Nebukadnesar verantwoordelik gehou daarvoor dat hy Hom nie as Here en God erken het nie; dat hy nie gehou het by die perke wat die Here God aan Hom gestel het nie. Daarvoor het die Here hom en sy mense gestraf. AMEN
  • Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2015 07 05) Die Here se oordeel en seëvierende genade Jer 24

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *